foto’s: Cyril Klopper
Roete
Roete

Wanneer jy uit Gauteng na die Kgalagadi-oorgrenspark en Richtersveld reis, neem jy waarskynlik die pylreguit N14-snelweg deur die Suid-Kalahari. Daar is egter ’n alternatief vir dié eentonige teerpad: ’n grondpad wat die loop van die Moloporivier volg en weinig verkeer sien.

Dié rivier is effens raaiselagtig, want niemand is presies seker waar sy bron is, wanneer laas hy in volle vloed was en hoe oud hy is nie. Geoloë vermoed die Moloporivier soos ons hom vandag ken, is in geografieterme betreklik jonk. By een van sy moontlike bronne loop hy lekker sterk en dan kwyn hy skielik in ’n pol riete.

’n Paar honderd kilometer verder kronkel sy droë loop deur ’n diep ravyn wat net deur ’n reuserivier gevorm kon wees – iets wat die Molopo beslis nie is nie. Op een kol verdwyn die Molopo en word ’n droë loop op ’n vlakte langs ’n Kalahari-duineveld... maar net ’n paar kilometer verder steek die rivier weer sy kop tussen golwende klipkoppies uit.

Ons het langs dié ontwykende en geheimsinnige rivier gaan ry om te kyk of ons kan sin maak.

Die roete begin by Lichtenburg in Noordwes. Hier is ’n klompie fonteine op én rondom die dorp, en enigeen (of almal) van hulle kan die bron van die Moloporivier wees. Die rivier loop meestal ondergronds en wys net hier en daar gesig.

Neem die R505-streekpad noordwaarts vir 30 km tot by ’n padpredikant wat jou na die Molopo-oog beduie. Dié oog word algemeen aanvaar as die bron van die Molopo, maar volgens navorsing deur die Universiteit van die Witwatersrand is dit nie ’n uitgemaakte saak nie.

Hier was destyds ’n vakansieoord op die oewer van die Molopo-oog, maar die terrein is sedertdien gesluit en jy kan slegs toegang tot die reusefontein kry as een van die  foto’s Cyril Klopper grondeienaars langs die oog jou hierheen nooi. As jy nié toestemming of ’n uitnodiging het nie (Soos met Cyril die geval was. – Red.), gaan die hekwag jou nie toelaat om die oog te besoek nie.

VAT DIE PAD
VAT DIE PAD. Hierdie roete is hoofsaaklik grondpad en jy mag dalk interessante dinge sien, soos ’n boer wat die pad met ’n boom gladsleep. Die Molopo vloei sterk tussen die Mmabatho- en Disanengdam.
Wondergat
Wondergat

Ry dan 17 km weswaarts tot by die bekende Wondergat. Hierdie sinkgat is 15 verdiepings diep en word deur die ondergrondse Moloporivier gevoed. In die jare negentig was dit ’n gewilde speelplek vir skubaduikers, maar deesdae is dit aansienlik stiller by Wondergat en jy kan jouself gelukkig ag as daar ’n duikekspedisie is terwyl jy kom kuier.

Sowat 12 km wes van die Wondergat sluit die grondpad by die R49-streekpad in Buhrmansdrift aan en jy draai links na Mahikeng. Mahikeng is ’n miernes van bedrywigheid en mense steur hulle nie eintlik aan verkeersreëls nie – wees dus op jou hoede. Neem die N18-snelweg weswaarts uit die dorp, draai regs in Braystraat en swenk ná 1,7 km links (S25.86463 E25.60793) in ’n naamlose teerpad. Hierdie pad neem jou styf teenaan die Moloporivier tot by die Mmabatho- en Disanengdam wat drinkwater aan Mahikeng verskaf. Halfpad tussen die twee damme (S25.86341 E25.44987) verander die teerpad in ’n grondpad.

Altesame 29 km later kom jy by Disaneng uit – by dié nedersetting se spazawinkel (S25.79451 E25.24533) draai jy regs en ry verby ’n skool en deur die Molopo se droë loop. Op die buiterand van die nedersetting (S25.78146 E25.26492) volg jy ’n salmpienk tweespoorpaadjie deur die bosveld (met die Moloporivier aan jou linkerkant) tot by die grens met Botswana.

Hier waar die Molopo die eerste keer aan die grensdraad raak, is ’n laaste plassie water waardeur jy kan ry. Haak viertrek in en bou momentum op, want dis erg modderig – dis ook die laaste keer dat die Moloporivier sy water vir jou wys.

Die beboste tweespoorpaadjie volg die grensdraad tot by die Makgobistadt-grenspos – hier kan jy nie vinniger as 30 km/h ry nie – en van die grenspos af ry jy verder teenaan die draad verby Dinateng waar die tweespoor by ’n groter grondpad aansluit (S25.75161 E24.48389). Op dié grondpad kan jy aanstoot, maar hou jou oë oop vir donkies en beeste wat langs die pad wei.

Volg die pad teenaan die Moloporivier (nou aan jou regterkant) wat met ’n boog noordwaarts loop tot by die Boshoek-veediefstalpolisiestasie en van daar af tot by die Paddon-plaasgemeenskap waar die R375-streekpad jou verder noord langs die Molopo neem tot by Bray, gevolg deur Donkerhoek waar die Molopo in ’n boog suid swenk tot by Mokopong.

Die rede waarom die Molopo so ’n groot halfmaandraai maak, is omdat hy die boonste buiterand van die Morokwengkrater volg. Dié 70 km breë krater is deur ’n asteroïed met ’n deursnee van 5 km veroorsaak toe dit die aarde sowat 145 miljoen jaar gelede getref het. Die krater is nie van die grond af sigbaar nie en eers in 1994 ontdek – uit die ruimte is dit glo duidelik sigbaar.

Van Mokopong af volg jy die R379 en die Moloporivier suidwaarts tot by die Molopo- natuurreservaat. Dit gaan skemer wees teen die tyd dat jy hier aankom. Slaan vinnig jou tent op in die Phiri-kamp en draf met ’n bier in die hand na die wildskuiling langs ’n nabygegeleë watergat – jy’s dalk net betyds om te sien hoe die wild beurte maak om te suip vóór hulle vir die nag die ruigtes in verdwyn. Wanneer jy ná die braai in jou slaapsak gekruip het, lê jy bekommerd en luister na bruinhiënas wat rondom jou tent rondsnuffel vir braaivleisbene.

Die volgende oggend is daar oorgenoeg tyd om ’n draai deur die reservaat te ry op soek na blouwildebeeste, elande, koedoes, jagluiperds en dies meer. Ná ’n laatontbyt reis jy verder suidweswaarts, uit Noordwes tot in die Noord-Kaap, en terug by die grensdraad in die Molopo se loop.

Skaars 15 km nadat jy die reservaat verlaat het, kry jy die eerste plaashek – een van 47 (maar dit voel soos ’n honderd). Eers is daar 4 van hulle, gemiddeld 10 km uitmekaar, en elkeen maak op ’n unieke manier oop. Sommige het bloot ’n bloudraadhoepel wat jy oor ’n houtpaal span, terwyl ander ingewikkelde meganismes het wat kopkrap verg. Nie een van die hekke is met ’n slot gesluit nie, maar jy moet seker maak jy haak elkeen agter jou in, tensy die hek oop was met jou aankoms.

Ná die vierde hek word die grondpad breed en bly so tot by die McCarthy’s Rest-grenspos. ’n Paar meter buite die grenspos (S26.20441 E22.57010) vat jy weer ’n tweespoorpaadjie teenaan die grensdraad (dis ’n liggrys sandpaadjie).

By hek nr. 7 lyk dit of daar maande laas ’n voertuig hier verby is – bossies begin die tweespoorpad toegroei en die enigste teken van die beskawing is die ellelange grensdraad en gereelde betonpilaartjies met die letters “RSA” daarop. By hek nr. 10 begin die pad minder verlate lyk en die tekens van boerdery keer terug. Nou volg die hekke vinniger op mekaar en jy moet elke 2 km stilhou en jou reismaat of spruit stuur om hulle oop te worstel. Hek nr. 25 is met ’n hangslot gesluit en jy moet die Molopo hier groet en links draai in die rigting van Van Zylsrus. Vanaand slaap jy by die Van Zylsrus-hotel. Jy is nou 25 km van die Moloporivier se loop af – die verste wat jy op dié roete van die rivier af gaan wees.

PADLANGS
PADLANGS. Die kleur van die landskap waardeur jy ry, verander ge­reeld. Soms is die grond oranje, dan pienk, grys en ligbruin. Hou elke uur stil, verlaat jou motor en haal diep asem. Dis amper asof jy die kleure kan ruik!
DEUR DIE BLARE.
DEUR DIE BLARE. Versamelvoëls bou hulle neste in bome en telefoonpale. Die Kalahari is nie doodstil soos die Karoo nie; hier hoor jy deurentyd die sang van voëls, selfs op die dorre vlaktes.

Jy behoort betreklik vroeg by die hotel aan te kom en daar sal genoeg tyd wees vir ’n middagslapie in ’n lugverkoelde kamer of om rond te plas in die hotel se swembad vóór jy aansit vir aandete.

Ná ’n goeie nagrus en ontbyt mik jy noord na die Middelputs-grenspos om jou roete langs die Moloporivier te hervat. Kort voor die grenspos draai jy links by ’n veekraal (S26.68431 E21.88565) en ry met ’n klipperige tweespoorpad terug tot in die droë loop van die Molopo. Die rivier kronkel hier deur ’n vlak ravyn.

Geoloë wat die sediment van die Kalahariwoestyn bestudeer, vermoed dat ’n voorganger van die Oranjerivier miljoene jare gelede, in die tyd van die Mesosoïese dinosourusse, hierlangs gevloei en die ravyn uitgekerf het. Daardie rivier het egter deur die eeue verdwyn of het gedeeltelik suidwaarts geskuif, en vandag “vloei” die Molopo plek-plek in die loop van ’n eens magtige rivier wat die mens nooit geken het nie.

Hek nr. 31 staan ín die rivierloop, en oor die volgende 50 km gaan jy nóg 17 hekke voor jou oop- en agter jou toemaak. Die tweespoorpad wissel van harde grond tot diep poeiersand wat avontuurmotorfietsryers mismoedig gaan maak. Sterkte hiermee, kêrels!

In die droë seisoen gaan jy nie viertrek nodig hê nie, maar jou voertuig moet ten minste allewielaandrywing hê en jou banddruk moet verlaag word. As dit onlangs gereën het, moet daar minstens twee ander voertuie in jou toergroep wees, want die Molopo verander dan in ’n modderbad wat selfs die boere se trekkers insluk.

Ná hek nr. 47 verander die tweespoor geleidelik in ’n spierwit geskraapte grondpad wat jou tot by die Bokspits-grenspos neem. Hier kan jy besluit of jy die rooi duine langs die Nossobrivier noordwaarts wil volg na Twee Rivieren om ’n paar dae in die Kgalagadi- oorgrenspark te vertoef, en of jy die Moloporivier suidwaarts wil volg tot by Andriesvale en aanklop by die Molopo Kalahari-lodge. Hier is ’n swembad waarin jy kan afkoel en ’n kroeg waar jy die toets teen die All Blacks op ’n grootskerm-TV kan dophou.

Gaste bly dikwels hier eerder as by Twee Rivieren omdat dit geriefliker is. Hulle ry dan soggens die 60 km na die park toe en keer die aand terug na die lodge.

Die volgende oggend verlaat jy die Kalahari en volg die Moloporivier suidwaarts deur die ZF Mgcawu-distrik. Die rivier se loop lê aan jou linkerkant, en daar is tekens dat hier onlangs water was. Die water loop inderdaad ná swaar reën hier, maar dit vloei stadig en die grond slurp dit op voor dit ’n geleentheid kry om die Oranjerivier te bereik. Doringboompies en grasse groei geil in die Molopo se droë loop en windpompe sing in die Kalahari-bries terwyl hulle sinkdamme voltap.

Sowat 80 km nadat jy Andriesvale verlaat het, verdwyn die Molopo aan jou regterkant op ’n wye vlakte met die naam die Abiquaput. Die destydse Unie van Suid-Afrika se direkteur van besproeiing, A.D. Lewis, het in 1936 gemerk dat ’n duin met ’n “duisend jaar oue” kameeldoringboom daarop die pad van die Moloporivier versper.

Dié duin het volgens Lewis die Molopo se vloedwaters in 1894 en weer in 1918 tot op die Abiquaputpan gedwing waar dit verdamp het en deur die dorre aarde ingesuig is. Die duin waarna Lewis verwys, staan vandag nog hier (S27.31545 E20.11861), maar die duisend jaar oue kameeldoring is weg. Jou GPS se kaart wys inderdaad dat die Molopo hier skerp na links draai – onderdeur die duin.

Die kat kom weer, en slegs ’n paar kilometer suid van die duin is daar weer eens tekens van die Molopo. ’n Regte kanniedood.

’n Verdere 8 km suid van die plaasgemeenskap Noenieput sien jy hoe die Molopo se droë loop weer wyd strek aan jou linkerkant. ’n Uur nadat jy deur Noenieput gery het, raak die landskap heuwelagtig en die Molopo baan sy weg deur die rantjies en koppies. Die bedding lyk klam hier en ’n mens wonder of dit reënwater is en of die Molopo dalk uit die grond wil klim.

Die grondpad neem jou verder suid, oor die N10-snelweg, tot by Lutzputs waar jy regs draai en ná 4 km weer links. Ry oor die Biesiespoort-grondpadpas, verby die wildheinings van die Khamkiri-wildplaas aan jou regterkant tot by die reusewynplase langs die Oranjerivier. Verlaag jou spoed sodra jy die wingerde sien, want die boer gaan vloek as jou trokkie stof op sy druiwe laat dwarrel.

Moloporivier
Van breed na smal: Die Moloporivier se droë loop is breed naby Noenieput, maar raak weer smal naby Riemvasmaak

By ’n pakstoor (S28.70533 E20.58574) draai jy skerp regs en ry noordweswaarts in die rigting van die Augrabies- nasionale park en volg die padpredikante tot op die dorpie Riemvasmaak. Hier volg jy die padtekens tot by die warmwaterbron sowat 4 km buite die dorp. Die warmwaterbron lê in die loop van die Moloporivier, op die bodem van ’n diep kloof, en jy kan hier langs die rivier kamp opslaan (S28.46455 E20.28557).

’n Veldwagter doen van 09:00 tot 16:00 diens by die kampplek en jy kan jou geld in kontant aan hom betaal. Dis vanaand jou laaste geleentheid om langs die Moloporivier te braai. Ná ete kan jy jou stywe spiere in die louwarm water van die bron ontdooi totdat die son sak en die aandster bo die kloof vir jou wink.

Vanoggend moet jy vroeg oppak as jy vanaand nog die seweuurnuus by die huis wil kyk. Hier is twee paaie uit die ravyn: ’n betonpaadjie wat jy in ’n sportnuts kan baasraak, en ’n meer uitdagende pad as jy ’n bostrok ry. Albei paaie word deur padtekens aangedui.

Net mooi 2,5 km van die warmwaterbron af draai jy links (S28.45386 E20.29666) in die rigting van Blouputs. Skaars 13 km daarna, nadat jy oor ’n lieflike grondpadbergpas gery het, kom jy uit by ’n sandvlakte.

Neem ’n sanderige tweespoorpad oor die vlakte tot jy die loop van die Moloporivier aantref. Volg die rivierbedding – onthou om viertrek in te haak, want die sand is los – tot waar die Molopo in die Oranjerivier uitmond (S28.51759 E20.21497).

Neem ’n foto by die monding en klop jouself op die skouer – ná vier dae is jy uiteindelik hier.

Vat ’n hand vol sand uit die Molopo se droë loop en laat dit stadig deur jou vingers glip. Dink terug aan die Molopo se groen lint deur die rooi Kalaharisandduine, die spierwit paaie wat hom slaafs oor die plat vlaktes volg, die versamelvoëls se neste in ’n eindelose ry telefoonpale langs die pad, en vra jou af of jy die Molopo ken... en of jy die roete eendag wéér sal moet ry voor jy hom werklik kan begryp.

BRANDSTOF OP DIE ROETE

Groot dorpe soos Lichtenburg en Mahikeng het uiteraard vulstasies, maar ná Mahikeng raak hulle effens yl gesaai.

Hier is die vulstasies op jou roete:

  • Bray – Molopo-motors (S25.46270 E23.69957)
  • Vorstershoop – Ons Handelshuis (S25.83626 E23.02397)
  • Van Zylsrus – KLK Landbou (S26.87715 E22.05278)
  • Askham – Askham Agrimark (S26.98064 E20.78088)
  • Noenieput – KLK Landbou (S27.51159 E20.13826)
  • Augrabies – Augrabies- nasionale park (S28.59361 E20.33810)
VINNIGE FEITE

Opvangsgebied van die Moloporivier: Ongeveer 367 000 km2

Lengte van die Moloporivier: Ongeveer 1 150 km

Boloop van die Moloporivier: 1 465 m bo seespieël

Monding van die Moloporivier: 445 m bo seespieël

Hoogste punt van die roete: 1 514 m bo seespieël

Einde van die roete: 445 m bo seespieël

Lengte van roete: 1 207 km

Aantal hekke wat jy oop- en toemaak: 53

HIERMEE HET ONS GERY

Renault Suid-Afrika het vir ons ’n nuwe Duster 4x4 geleen met standaardbande en -vering. Cyril was die enigste insittende, maar om sy reis gerieflik te maak het Front Runner die Duster toegerus met ’n dakrak met ’n tafel asook ’n daktent.

Front Runner het boonp ’n opvoustoel en ’n 27 l-watersak verskaf. Ons ry-indruk van die Renault Duster verskyn.

 Kontak: renault.co.za; frontrunneroutfitters.com

BLY HIER

Lichtenburg-vakansieoord

Hierdie vakansieoord was destyds bekend vir sy verstommende waterwerk met ’n kanaal waarop jy kon roei en reuseswembaddens met waterwurms, maar die droogte het sy tol geëis en die kanaal is deesdae leeg.

Die swembaddens word wel tussen Desember en Februarie volgemaak en dan stroom vakansiegangers hierheen.

Verblyf: Gesinshuise met ’n volledige kombuis, dubbelbed-chalets met ’n ys- kassie en televisie, en staanplekke met water en elektrisiteit.

Pryse: Vanaf R80 p.p.p.n. om te kamp tot R1 000 p.n. vir ’n gesinshuis met 5 beddens.

Kontak:  018 632 5826;  lichtenburgvakansieoord.co.za; vanvuurenlnc@mwebbiz.co.za


Molopo-natuurreservaat

Dié wildreservaat fokus eerder op natuurbewaring as toerisme. Moet dus nie ’n besoekersentrum en chalets verwag nie.

Verblyf: Jy kan slegs by die Phiri-kamp tent opslaan. Die staanplekke het water en vullisdromme, maar geen kragpunte nie. Daar is wel elektrisiteit by die ablusieblok. Jy kamp onder doringbome naby ’n watergat.

Pryse: Toegang is R30 p.p. en dan betaal jy R100 per staanplek en R20 per voertuig.

Kontak:  053 939 0200;  tourismnorthwest.co.zamolopo@nwptb.co.za


Van Zylsrus-hotel

Van Zylsrus is ’n piepklein plaasgemeenskap waar die koöperasie, hotel en die Kuierhoekie-kafee die grootste aftrek kry. Die hotel is kunstig opgedollie met oordadige dog bekoorlike versierings. Hier is ook ’n swembad, snuisterywinkel, restaurant en kroeg.

Verblyf: 6 dubbelbedslaapkamers met ’n badkamer, en een wittebroodsuite met ’n private tuin. Geen kampplek nie.

Prys: R500 p.p.p.n. met ontbyt

Kontak:  053 781 0201; vanzylsrushotel.com; info@vanzylsrushotel.com


Molopo Kalahari-lodge

Hierdie lodge doem op soos ’n oase in die woestyn. Die chalets en kampgeriewe is luuks gegewe die omgewing, maar die pryse is verbasend billik.

Verblyf: Dubbelbed-chalets, rondawels, tentekamp en gewone kampplek.

Pryse: R150 p.p.p.n. om te kamp, R500 p.p.p.n. vir ’n knus kampchalet en R3 000 vir ’n groot, luukse wittebroodchalet.

Kontak:  054 511 0008; molopo.ncfamouslodges.comnamrod13@lantic.net


Riemvasmaak

By die warmwaterbron naby Riemvasmaak is daar chalets met 4 of 8 beddens plus kampplek met 3 staanplekke. Die kampplek het twee toilette – een vir mans en een vir vroue – en een buitelugstort.

Verblyf: Verskeie huisies en 3 staanplekke.

Prys: R135 per staanplek.

Kontak: riemvasmaak.co.za