book-icon Uitgawe Desember 2017
Deel

42 dae deur Afrika

akkreditasie
Uit die argief: Hulle het die pad Oos-Afrika toe aangedurf om hulle droomavontuur te verwesenlik, sê Ada en Johann Dempers van die Paarl.

Alles het begin met ’n heel onskuldige vraag: “Goed, waarheen gaan ons volgende?” Dit was ná ’n reis deur Botswana en die groepie mense het saam nabetragting gehou oor die paar dae.

“Waarheen wíl julle gaan?” wou Jacques Fouché, die organiseerder en toerleier, weet.

Johann het ’n rukkie gesit en dink en toe voorgestel hulle moet verder mik, Oos-Afrika toe. ’n Propperse emmerskoplys-avontuur: Uganda se gorillas, die Serengeti, alles.

Heelwat mense het van die voorstel gehou, en kort voor lank het die planne begin vorm aanneem. Die groep sou deur Botswana, Zambië, Tanzanië, Rwanda en Uganda tot in Kenia reis en dan terug deur Tanzanië en die Serengeti, Malawi, Mosambiek, Zimbabwe en Botswana.

Daar was nie ’n tekort aan belangstelling nie. Die Demperse sou die reis aandurf saam met Marius en Magda de Jager van die Paarl, Frikkie en Winnie Cronjé van Riversdal, Dirk en Linda Ehlers van Somerset-Wes, Elmien Larney en Abrie Beukes van Wellington, en Willa en Bobby Gibson en Georgie en Adri Gibson van Ceres.

Die opwinding bou op

Hoe nader die vertrekdatum kom, hoe meer besef ons dis ’n gróót en uitdagende avontuur wat op ons wag. Ons moet ons laat inent teen hondsdolheid, geelkoors, tifuskoors en breinvliesontsteking, en dan moet ons ook ’n goeie 50 malariapille kry vir die reis.

Ons maak seker ons paspoorte is op datum en kry visums vir Uganda en Rwanda. Ons kry ook ’n spesiale permit om in Uganda na die gorillas te gaan kyk.

Ons gaan klop by die AA aan vir ’n carnet de passage – basies al die nodige dokumente vir ons voertuie. Dié dokument sal later vir ons goud werd wees omdat dit deurgange by die grensposte baie vergemaklik. Ons betaal ook die padbelasting en derdepartyversekering vooruit.

Dis tyd om te gaan!

Dis 20 Mei 2017 en die groot dag het uiteindelik aangebreek. Buite Mahikeng kom ons almal by die Botsalano- wildreservaat neffens die Botswana- grens bymekaar. Dis ’n kampsafari wat voorlê en elkeen se voertuig is ordentlik toegerus met ’n ekstra noodwiel, twee 20 l-kanne vir brandstof, ’n brandblusser, onderdele en nog ’n klomp belangrike bykomstighede. 

Dis nie Jacques se eerste toer nie. Die man is goed geolie en ons het waardering vir die kalm manier waarop hy enige situasie kan beheer. Esaac Kipiri reis ook saam – hy is die man wat elke dag vir ons ontbyt en aandete maak, en dis telkens ’n smaaklike verrassing. Natuurlik het hy ook vroeg elke oggend ’n groot ketel moerkoffie op die vuur. Heerlik!

Soos ons toer vorder, is dit interessant om te sien hoe elke land sy eie verrassing oplewer – goed óf sleg. In Botswana ry ons deur ’n groot deel van die Kalahari op ’n byna onbegaanbare tweespoorpad, en kort voor lank skryf Dirk een van sy motorbande af. Wanneer sy noodwiel ook in die slag bly, is ons dankbaar vir daardie ekstra een. ’n Rukkie later gee die stang van Jacques se sleepwa die gees, maar almal help en ons val gou weer in die pad.

Natuurlik het hy ook vroeg elke oggend ’n groot ketel moerkoffie op die vuur. Heerlik!

By die Kazungula-grenspos tussen Botswana en Zambië sloer dinge en dit vat ons etlike ure om deur te kom.

Ons kies koers Lusaka toe en besef gou dis ’n enorme stad. Die verkeer – én die wetstoepassing – is verstommend. Johann word beboet omdat hy van baan verander het. ’n Entjie buite Lusaka word Marius, Johann, Dirk én Frikkie afgetrek omdat hulle die spoedperk oorskry het: Hulle het 84 km/h gery in ’n 80 km/h-sone.

In die meeste lande wat ons besoek, is die spoedperk 80 km/h.

In klein dorpies moet jy tussen 30 km/h en 50 km/h ry, en in die meeste gevalle is daar hoë spoedwalle wat jou dwing om by die perk te hou. Brandstof is meestal maklik bekombaar, maar hulle aanvaar nie bank- of petrolkaarte nie. Ons maak seker ons ruil genoeg geld sodat ons kontant kan betaal vir brandstof.

TE VEEL HERINNERINGE OM OP TE NOEM. Johann en Frikkie kry tussen al die opwinding deur tyd om ’n uiltjie te knip (links), tyd vir rustig raak by die Liembe-strandlodge langs die Tanganjikameer (onder) en ’n mens is later nie meer verbaas oor wat jy op die paaie sien nie (regs). Dit was ’n droomreis in die ware sin van die woord.

Kom ons kamp

Sover ons gaan, kamp ons met dak- en gewone tente. Die kampplekke is basies en daar’s meestal net koue water, maar niemand kla ooit nie. Ons is ook gelukkig met wonderlike weer – dis nou buiten die reënbuitjie in Uganda.

Ons kamp langs die George-, Albert-, Koningin Elizabeth-, Tanganjika-, Victoria- en Malawimeer. Dis die pragtigste mere en ons swem te lekker. Wat ’n belewenis! Jy word omring deur die allermooiste natuurskoon. Dit laat ’n mens gewoon stom.

Rondom die mere groei piesangs, papajas, mango’s en avo’s wild, sonder besproeiing. Dié wêreld kry genoeg reën! 

In Tanzanië en Uganda sien ons teeplantasies en ryslande, en in Malawi ry ons deur ’n rubberboomplantasie waar ons sien hoe die bome gemelk word. Oral langs die pad sien jy mense wat aartappels, patats, tamaties, nartjies, kassawa en houtskool verkoop.

Plek-plek is die paaie in ’n haglike toestand. In Zambië is groot en breë nuwe paaie in aanbou, maar nêrens lyk dit of daar enige haas is nie. Die slaggate in die teerpaaie is volop en baie gevaarlik.

VARS VLEIS, LEEUS, WATERKRUISINGS EN SONSONDERGANGE. ’n Mens hoef nie te ver te soek vir iets om te braai wanneer jy deur Afrika reis nie. In die Serengeti het dit gewemel van die leeus met van hulle wat hulle op boomtakke tuisgemaak het. Johann stuur sy Toyota Prado deur ’n laagwaterdriffie in Botswana. Jy kry sonsondergange en dan kry jy sonsondergange soos dié in die Serengeti – onverbeterliken ’n ervaring wat ’n mens nie vir iemand kan beskryf nie.

Elke dag ’n belewenis

In Kigali, die hoofstad van Rwanda, besoek ons die ongelooflike volksmoord- gedenkteken. Hier lê ’n kwartmiljoen mense begrawe, almal slagoffers van die volksmoord tussen die Hutu’s en Tutsi’s. (Meer as 4 miljoen mense het in dié tragiese hoofstuk van die geskiedenis gesterf.)

Rwanda, die digsbevolkte land in Afrika, is omtrent so groot soos die Vrystaat. Tog is die land silwerskoon, want iedere landsburger – selfs die president – rol die laaste Saterdag van elke maand die moue op en maak die omgewing skoon.

Ons is dankbaar vir die plaaslike Toyota-werkswinkel waar ’n klompie van ons toerlede met onderdele geholpe raak.

In Uganda bereik ons die ewenaar en vier dit met vonkelwyn. Natuurlik kry almal by die huis ’n foto of drie van dié groot gebeurtenis.

Uiteindelik bereik ons die Bwindi-nasionale park, die tuiste van meer as 400 van die wêreld se 900 gorillas. Ons kamp in die oerwoud en die volgende oggend begin die groot avontuur.

Ada en ’n gorilla leer mekaar ’n bietjie beter ken.

Hier is drie gorillafamilies in die Bwindiwoud, maar hulle word nie vir langer as ’n uur per dag aan mense blootgestel nie. Ons gids verduidelik mooi ons moenie die diere in die oë kyk nie en mag onder geen omstandighede ’n kamera-flits gebruik nie. Ons begin die staptog.

Gewapen met ’n kierie, water, ’n hoed, kamera en reënjas durf ons die digte oerwoud aan.

Skielik gaan staan die gids doodstil. Dan sien ons hulle, in lewende lywe, oral om ons: gorillas! Hier is 16 in dié familie: die grootmeneer, 10 wyfies, 2 jong mannetjies en 3 skattige kleintjies. Hulle is kalm en bekyk ons eers net vir ’n rukkie. Dan stap een van die wyfies op ons af, en terwyl ons versteen staan, voel sy eers aan Linda se bloes en aan Ada se baadjie voor sy haar arm om Johann se been gaan slaan, so asof sy hom ’n drukkie wil gee. Die res bly rustig lê, terwyl die kleintjies in die bome rondgeklouter. Een van hulle pluk wildevye in die boom en gooi dit af.

Wat ’n belewenis.

Die pad huis toe

Ons sit ons toer in Uganda voort en ry na die Murchison-waterval in die Victoria-Nylrivier waar ons op ’n skemerkelkievaart gaan. Daarvandaan ry ons na Kampala, die hoofstad. Van hier af vat ons die pad deur Kenia en mik dan na Tanzanië en die Serengeti.

Dit voel vir ons nêrens in Afrika word drade gespan nie, en in die Serengeti is dit ook so. Ons slaan kamp op sonder enige drade om ons, terwyl die plek wemel van leeus – op een dag het ons maklik 40-50 van hulle gesien! Ons sien ook swartwildebeeste en sebras by die duisende.

Dan reis ons suidwaarts deur Malawi. Die Malawimeer is ’n hoogtepunt, maar dis die land se kunstige inwoners wat die oog tref. Dit is van die beste kurio’s wat ons nog gesien het.

Ons terugtog neem ons deur Mosambiek, Zimbabwe (met sy mooi paaie) en Botswana. Naby Francistown kamp ons almal die laaste aand by die Woodlands-kampterrein.

Ná 14 000 km is almal veilig terug by die huis. Ons is dankbaar alles het vlot verloop het: Niemand het siek geword nie en ons het geen ernstige skade aan enige voertuig gehad nie.


Dié artikel het in Weg Ry & Sleep #5 (Desember 2017) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – stuur 'n e-pos na digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.