1. Olive Grove, Beaufort-Wes

Olive Grove is ’n spoggerige plek. Dis vir mense wat daai plaasgevoel soek, maar nie sonder die geriefies van DStv, Wi-Fi en ’n restaurant wil klaarkom nie. Hier is twee verblyfopsies: Vir ’n gesin is die selfsorgchalets met slaapplek vir 4 volwassenes en 2 kinders goed ingerig, met ’n uitsig oor die olyfboord en ’n private braaiplekkie agter die huis. Vir paartjies of mense wat net een nag wil oorbly, is hier en suite-dubbelkamers (met ’n stort).

Die plaasdam is sowat 10 minute se stap weg – volg die Ystervarkstaproete tot by die voëlskuiling op die damwal, of reël by ontvangs vir ’n kano as jy wil roei. Hier’s ook paaie om op jou bergfiets te verken.Gaan sit teen sonsondergang op die houtbankie bo-op die kliprantjie anderkant die boord – bring ’n soetwyntjie en kyk hoe die vlaktes in die laaste lig verkleur. Daarna kan jy gaan aansit vir ’n driegang-aandete. Die eetkamer is stapafstand van jou slaapplek af en op ’n mooi aand kan julle buite op die stoep eet.

Waar?  21 km buite Beaufort-Wes, aan die N12.

GPS:  S32.50419 E22.56257 (afdraai)

Koste

  • Selfsorgchalets: vanaf R600 p.p.p.n., R485 p.p.p.n. vir 2 mense en R1 150 vir 3 of meer.
  • Kamers: vanaf R480 p.p.p.n. en R595 p.p.pn vir 2 mense. R970 per nag vir 3 mense.

2. Stuurmansfontein, Carnarvon

Hier staan nog enkele korbeelhuisies in die Karoo, maar min van hulle is in ’n leefbare toestand. Trekboere het donkiejare gelede dié veldhuisies gebou. Op Bethlehem, Piet en Charmaine Botha se plaas in die Carnarvon-distrik, kan jy egter oorbly in ’n gerestoureerde korbeelhuis, met net die veld en die nagdiertjies se geritsel vir geselskap.

Waar? Tussen Carnarvon en Williston,  Stuurmansfontein afdraai op die R63.

GPS: S31.06293 E21.83989 (Stuurmansfontein-afdraai – van hier af is dit nog 28 km tot by die korbeelhuis.)

Koste:  2 mense (R950), 4 mense (R1300), 6 mense (R1600)

Kontak: 087 802 0819 of 082 2217 500; stuurmansfontein@gmail.com


3. Rooiheuwel, Leeu-Gamka

Dié plaas is inderwaarheid vyf plase wat oor die jare saamgelas is.Die onderskeie plaas- en skaapwagterhuise het jare lank leeg gestaan totdat hulle vyf hiervan opgeknap het. Rooiheuwel het ook ’n ou skuur wat in ’n slaapsaal vir groter groepe omskep is, sowel as ’n kampterrein.

Hier werk alles met sonkrag en gas, maar jy hoef nie koud te stort nie en al die huise is keurig met ou plaasmeubels ingerig, met volledige kombuise (sommige het nog ’n koolstoof!), kuierstoepe, ’n braaiplek en ’n swemdam vir die somerdae. 

Sylvester, die bekende rondloperleeumannetjie, het vir vier dae op Rooiheuwel kom ronddwaal! ’n Groot deel van die destydse soektog na die Karoo- nasionale park se voortvlugtende het op Rooiheuwel afgespeel. 

Maar leeu of te not, Rooiheuwel sorg steeds vir avontuur – kyk maar net na die stuk of 18 uitgemerkte staproetes op die plaas. ’n Stapper sal nie weet waar om te begin nie! Hier is volledige stapkaarte beskikbaar en jy kan self besluit: van ’n kort oggendwandeling tot ’n sewe dae lange kuitbyter waarvan elke skof jou daagliks ’n ander rigting veld-in lei. En jy kan kies of  jy self jou goedjies wil saamdra, of dit na die volgende oornagplek toe aangery moet word.  

Hier’s ook vyf 4x4-roetes (van 4 km tot 25 km)  waarop jy jou ryding se spiere kan kom bult. En bergfietsryers kan ook op Rooiheuwel kom rondrits – die 7 roetes wissel in afstand van 40 km tot ’n uitdagende 172 km!

Wintertyd is jagters welkom

Waar?  Draai by Leeu-Gamka noord op die R353 na Fraserburg en hou vir 44 km aan. Draai dan regs op die grondpad na Beaufort-Wes en 13 km verderaan links. Rooiheuwel se werf is dan nog net 3,5 km se ry. 

GPS:  S32.374689 E21.887617

Die Grootdroomhuis sit teen ’n rantjie en het slaapplek vir 14 mense. (Prys: R330 p.p.p.n. (R165 vir kinders tussen 7 en 14, gratis vir kinders jonger as 7)

Boplaas het slaapplek vir 12 en Middelplaas vir 10 mense. Verblyf in hierdie plaashuise kos R330 p.p.p.n. (R165 vir kinders tussen 7 en 14, gratis vir kinders jonger as 7).

Verblyf in die Cottage (1 dubbelbed) kos kos R330 p.p.p.n. (R165 vir kinders tussen 7 en 14, gratis vir kinders jonger as 7).

’n Lêplek in die skuur kos R190 p.p.p.n.

Die Skaapwagtershuisie (2 enkelbeddens) met sy sinkbad, buitestort en lanterns kos R280 p.p.p.n. 

Bloubos by Middelpaas is hulle jaghuis met 4 slaapkamers. (R330 p.p.p.n., R165 vir kinders tussen 7 en 14, gratis vir kinders jonger as 7).

Elma’s Place is ’n toegeruste huis met elekstrisiteit, swembad en braai-area. (R330 p.p.p.n. (R165 vir kinders tussen 7 en 14, gratis vir kinders jonger as 7).

Hier is ook kampplekke langs ’n rivier. Bring jou eie drinkwater saam as jy hier onder die doringbome tent gaan opslaan. Slegs 4 persone op 'n staanplek.

 

Kontak: 023 4121 669; 083 3876 699 (Marge); rooiheuwel.com


4. Osfontein, Carnarvon

Hier in die Carnarvon-distrik staan nóg ’n gerestoureerde korbeelhuis net vir jou en wag. Die huis staan naby die eienaars, Stegmann en Natasha Lubbe se woonhuis, maar jy is eenkant genoeg om nie te voel jy het bure nie.

Tog is hulle swembad net ’n klipgooi ver as jy wil induik, en verder is die veldpaadjies joune om te voet of per fiets (bring jou eie) te verken. Maar dis net so lekker om een van Natasha se lappieskombersie oor jou te trek en te lê en staar na die vakmanskap van die trekboere.

Waar?  Tussen Carnarvon en Loxton, aan die R63. 

GPS: S31.23500 E22.27201 (afdraai)

Koste: Die twee huise: R900 p.n. vir 2, R950 vir 3 en R1 500 vir 5. Die boomhuis: R1 050 p.n. (R800 vir 1 persoon).

Kontak: 072 310 7979; osfontein@gmail.com

5. Melton Wold, Victoria-Wes

Dís nou die ware Jakob! Melton Wold is ’n gevestigde gasteplaas wat al 80 jaar gaste ontvang. En min het intussen verander – by Melton Wold leef jy in ’n era van ’n speletjieskamer met ’n tafeltennisblad, ingeboude Musicorddraadlosies bo die beddens, ou houtmeubels en namiddagtee. Dit voel werklik asof die uurglas hier stadiger uitloop, met slegs een tyd wat van belang is – etenstyd. 

Waar? Tussen Victoria-Wes en Loxton, aan die R63.

GPS S31.42842 E22.75839

Koste: Vanaf R420 p.p.p.n. (etes uitgesluit) tot R720 p.p.n (drie etes ingesluit). Kamp kos R270 per staanplek p.p.n. vir 2 mense (R50 vir elke bykomende persoon, maksimum 6 per staanplek).

Kontak: 053 621 1912; meltonwold.co.za, info@meltonwold.co.za



Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #144 (Oktober 2016) verskyn. Alle pryse is onlangs nagegaan. Laat weet egter gerus indien daar inligting is wat ons moet bywerk: digitaal@weg.co.za.

Lus vir vakansie? Gebruik die Afrikaanse soekenjin www.wegreis.co.za om vliegkaartjiepryse vir binne- en buitelandse vlugte te vergelyk.