
FOTO'S Andrew Currell
Die leser Andrew Currell het in 2016 aan Weg geskryf oor hulle gesin se reis met ’n 12 jaar oue Nissan X-Trail van Kaapstad tot in Malawi en terug.
Die Currells van Kaapstad is ’n avontuurlustige klomp. Hulle het begin met kort reise na die Karoo en stadigaan hulle visier geskuif na anderkant Suid-Afrika se grense. In 2015 het hulle vir 18 dae die Richtersveld, Namibië en die westelike dele van Botswana verken. En in 2016 het hulle al die pad tot in Malawi (en terug!) gery.
Hier’s hoe hulle dit gedoen het.
BOTSWANA: ‘Chill’ op die Chobe
Ons ry in twee dae tot in Botswana met ’n oornagstop in Kimberley. Die 978 km-reis tot in dié dorp is die langste afstand wat ons in een dag aflê.
Die volgende oggend gaan kyk ons na die flaminke by Kamfersdam en na die indrukwekkende Hartswater-besproeiingsprojek voor ons die Botswana-grens by Ramatlabama oorsteek. Die enigste vertraging is toe ons ’n lys moet opstel met al die waardevolle items wat ons oor die grens wil vat, soos kameras, lense en skootrekenaars. Hoekom het ons dit nie by die huis gedoen nie. Aargh!Op pad na Nata kamp ons in die Mokolodi-natuurreservaat naby Gaborone.
Elke staanplek het sy eie ablusieblok en die reservaat wemel van die voëls en kleinwild. Nata Lodge is ook puik. In die Nata Bird Sanctuary naby die lodge kyk ons van ’n dek af na die sonsondergang oor die Makgadikgadi-panne – wat ’n uitsig. Die volgende dag op pad na Kasane sien ons so baie olifante, ons kyk later nie eens meer op nie. Ons kom laatmiddag aan by Thebe River Safaris op die oewer van die Choberivier, net betyds vir ’n sonsondergangvaart in die nasionale park.
Die hoeveelheid diere wat jy sien, is oorweldigend: olifante, buffels en seekoeie by die honderde.Die volgende dag gaan ons op ’n wildrit in die park: Die paaie is oukei en dis net op die lusse na die rivier waar ’n mens net met ’n 4x4 kan ry. Ons X-Trail kom mooi reg totdat ek ’n rat mis en ons in die sand vasval. Gelukkig kom ’n Suid-Afrikaanse gesin in ’n Nissan Patrol tot ons redding.Ons word darem beloon met ’n leeu langs die pad, en ’n mooi mannetjiesluiperd, skaars ’n kilometer van die parkhek af.
Ons volg hom tot waar hy veld-in verdwyn. Dis Oujaarsaand – dis mos hoe jy jou jaar wil afsluit!
ZAMBIË: ’n Swem in die duiwel se poel
Ons vaar Zambië binne op die Kazungula-pont. Aan die ander kant van die Zambesirivier kom gesels verskeie “agente” met ons – hulle belowe om te sorg dat ons wettig in Zambië is.
Ons is vooraf hierteen gewaarsku, maar op een of ander manier bedrieg een van die gladdebekke ons tog, en verduur ons meer as twee uur se “vertragings” en onnodige betalings. In Livingstone slaap ons by die luukse David Livingstone Safari Lodge en Spa. ’n Oudkollega van my het vir ons verblyf daar gereël. Die volgende oggend swem ons in die Devil’s Pool, ’n rotspoel reg op die rand van die Victoriawaterval. ’n Gids hou jou aan jou enkels vas terwyl jy sover as moontlik oor die waterval hang.
My senuwees was gedaan! Ons volgende bestemming is 600 km oos van hier: Kiambi Safaris langs die onderste deel van die Zambesi, naby die dorpie Kafue. Die pad is lank en op die ou einde slaan ons tent op in die donkerte.
Ons is spyt ons kan nie langer by Kiambi bly nie – die personeel is wonderlik en dis ’n mooi deel van die land – maar die pad roep. Ons wou deur die Laer-Zambesi- nasionale park ry, maar ek het vooraf gelees die pad is onrybaar, en ons vat ’n ompad (op ’n teerpad met slaggate) en sluit uiteindelik aan by die Groot Oostelike Pad tussen Lusaka en Chipata.
Ons slaap die aand by die Protea Hotel in Chipata, ter voorbereiding vir ’n vroegoggend-aanslag op die grenspos.
MALAWI: Lui dae langs die meer
Ons steek die grens tussen Zambië en Malawi sonder teëspoed oor. Die enigste haakplek om by die meer uit te kom, is die hoofstad Blantyre se verkeer – wat vererger is deur beurtkrag en uitgedoofte verkeersligte.
By Chembe Eagles Nest is daar net twee ander groepe kampeerders en al twee dié voertuie het CA-nommerplate! Ons maak dadelik vriende met ons bure, Julie en Keith Tame, en besluit oor ’n paar Kuche Kuche-biere om die volgende dag die koste van ’n bootvaart na die nabye Thumbi-Wes-eiland te deel.Die vaart is onvergeetlik: Ons snorkel saam met duisende kleurryke visse en swem na ’n verlate strand terwyl gewone boskraaie en bontvisvangers by ons verbyswiep.
Daar gekom, berei ons gidse ’n fees voor van gebraaide kampangovis, rys en ’n bredie van tamaties en uie met ’n effense byt.
Ons sluit die dag af met ’n besoek aan ’n paar plaaslike visarende, wat afvlieg en die droë vis gryp wat ons gids die lug in gooi. Ongelooflik! Op ons laaste aand in Malawi drink ons ’n bottel vonkelwyn wat ons spesiaal vir dié geleentheid gebêre het, en braai ’n groot kampango saam met Keith en Julie. Amy maak ’n appelkoos-en-suurlemoensous en Julie bak ’n pruim-en-appeltert in haar Land Rover se ingeboude oondjie.
MOSAMBIEK EN ZIMBABWE: Pizza in Tete
Van die meer af kronkel ons met ’n bergpas op tot in die dorp Dedza op die grens met Mosambiek. Vanweë die politieke moeilikheid in die noorde sien ek daarteen op om Mosambiek binne te gaan.
Maar my vrese is ongegrond: Ons glip deur die grens en die teerpad tot in Tete loop soos stroop, met uitsigte oor woude en granietkoppies. Ná ’n gemaklike nag by die Park Inn (pizza vir aandete!), val ons weer in die pad tot by Nyampanda op die grens met Zimbabwe. Die kilometer lange Tetebrug oor die Zambesi is iets om te aanskou, en die grenskruising tot in Zimbabwe – nog een waaroor ek wakker gelê het – verloop glad. Maar in Zimbabwe word ons gereeld gestop en beboet.
Die 11de kontrolepunt is die laaste strooi: Ons het glo ’n “gevaarlike vrag” op ons dakrak en word aangesê om ’n boete van USD20 betaal en ’n vragnet in Harare te koop. Gmpf! Ons ry met ’n agterpad via Gutu van Harare af tot in Masvingo en verdwaal nadat ons ’n bordjie – “scenic drive to Kyle Dam” (nou die Mutirikwi-meer genoem) – gevolg het.
Uiteindelik ry ons oor die damwal tot by Kyle View Chalets. Dit was nie waar ons beplan het om te bly nie, maar ons was doodmoeg en kon nie ’n meter verder ry nie. Die kampterrein se ablusieblok was in aanbou, maar die ontvangsdame kom ons tegemoet en sê ons kan ’n chaletbadkamer gebruik.
Ons kamp op die gras voor die chalet en braai ’n vleisie in die se braaiplek.Die Zimbabwe-ruïnes is net suid van die Mutirikwimeer. Die volgende oggend is ons die eerste toeriste daar. Ons huur ’n gids – dis die beste USD9 wat ons die hele vakansie bestee het. Hy is ’n bron van kennis oor die geskiedenis en kultuur van Groter-Zimbabwe, en beantwoord al die moeilike politieke en sosiale vrae wat ons oor sy land het. ’n Regte gentleman.
KRUGERWILDTUIN: Die wêreld is droog
Ons kom vroegmiddag by Beitbrug aan en gly deur die Zimbabwekant van die grens ondanks die lang toue. Die probleme begin aan die SA kant.
Dit neem meer as vier uur van verwarring en burokratiese gesukkel om deur te kom. Vermy Beitbrug maar sover jy kan. Ons kry takeaways vir aandete en kom eers ná donker by die Harnham Guesthouse in die Soutpansberg aan. Ons roete na die noordelike deel van die Krugerwildtuin loop verby die Sunland-kremetart – een van Suid-Afrika se grootste bome, wat glo ouer as 1 000 jaar is. Ons slaap ’n nag by die Punda Maria-ruskamp en ry toe suid na Letaba.
Die park is kurkdroog, al is dit in die middel van die somer. En die droogte eis sy tol: Ons sien baie dooie diere en baie ander wat swaarkry. Daar is skaars water in die breë Letabarivier.
Ons het tot dusver nog net een keer reën gekry – in Malawi. Naby Letaba sak die reën uit. Die dor grond suig elke druppel op. Ná drie dae verlaat ons die park deur die Orpenhek en ry ’n mooi roete al op die lip van die Laeveld tot by die Paul Krugerhek en nog verder tot by die Onder-Sabie-ruskamp.
Ons hou stil by Drie Rondawels- en God’s Window-uitkykpunt en die Bourke’s Luck-maalgate, en eet pannekoeke op Graskop.
SWAZILAND EN SUID-AFRIKA: Huiswaarts
Ons verlaat die park deur die Numbihek en ry na Mpondodam.
Die dam is redelik vol en hier is buitengewoon baie diere: sebras, kameelperde, ’n trop met minstens 50 olifante en twee keer soveel buffels, plus witrenosters en ’n krokodil wat die karkas van ’n rooibok in kleiner happies skeur – baie van dié happies word deur opportunistiese visarende opgeraap. Dit was amper te veel om in te neem!Daarna steek ons die grens oor na Swaziland by die bosboudorpie Josefsdal.
Ons slaap in ’n houthuis in die Malolotja- nasionale park en diep vir die eerste keer truie uit ons tasse op. Ons oorweeg dit om die volgende oggend tot by die Malolotjawaterval (sowat 100 m) te stap – die hoogste waterval in Swaziland – maar ons beddens is heeltemal te gemaklik en dis hoog tyd om ’n slag laat te slaap.
Op pad uit Swaziland maak ons die kredietkaart seer by die Ngwenya-glasfabriek, voor ons in die reën ry na die Golden Gate-Hoogland- nasionale park.
Die volgende dag hou ons al langs die Lesotho-grens tot op Ladybrand en verder tot by Graaff-Reinet, ons laaste slaapplek vir die vakansie. Ons eet gourmet-pizza by ’n restaurant genaamd Polka en bestel ’n bottel vonkelwyn, terwyl ’n elektriese storm oor die droë vlaktes woed.
Die 650 km-rit tot in Kaapstad verloop sonder voorval en ons kom voor spitsverkeer terug by verligte huisoppassers en opgewonde troeteldiere. Ek en Rhona kon nog verder gereis het, maar Amy moes natuurlik terug skool toe.
Al wat ons kon doen, was om nabetragting te begin hou, die foto’s te sorteer en te droom oor die volgende reis. Ek dink die Mosambiekse kus roep…
Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #145 (November 2016) verskyn. Feite en geite kon sedertdien verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.