8 van die beste getypoele

akkreditasie
Dit raak al warmer en die swemdae al meer! Kom soek klipvisse, oefen ’n paar lengtes of dobber in een van dié agt getypoele.

1. Die Punt, Mosselbaai

Volgens The Point Hotel se webtuise is die getypoel voor die hotel die grootste natuurlike getypoel ter wêreld!

Foto: Karin Schermbrucker


2. Thomson se Baai, Ballito

Die poel is lank genoeg as jy wil oefen vir die Ystervrou-kompetisie en het oorgenoeg plek vir Desember se massas. Klouter om die rotse suid van die poel en stap deur die opening in die minder bekende “Hole in the Wall”-rots.

Foto: Luke Patterson


3. St. James, Kaapstad

Daar is sekerlik al meer foto’s geneem van dié ikoniese getypoel as van Charlize Theron. Trouens, poskaarte met die rooi, geel en blou Victoriaanse badkamerhuisies is te koop in bykans elke toerismewinkeltjie in die land!

Alan van Gysen


4. Marina-strand, Margate

Die Marina-getypoel is op die randjie van die gelyknamige Blouvlagstrand suid van die bedrywige Margate. Dis lekker stil hier en die strand kom uit ’n handboek: Hier’s menseredders, ’n ablusieblok, dis toeganklik vir rolstoelgebruikers en jy kan duikbrille, snorkels, kajakke en branderplanke op die strand huur.

Foto: Luke Patterson


5. Fick se Poel, Hermanus

Hermanus se groot getypoel onder die Marine Hotel lyk baie mooi, maar die bodem is besaai met skerp rotse. Mik eerder vir Fick se Poel in die stiller deel van die dorp. Die ouer garde kan op die rotse bak terwyl die kinders rondplas.

Foto: Jon Minster


6. Herholdsbaai, George

Koop ’n draairoomys by ’n ou kombi’tjie in die parkeerterrein langs die strand. Gaan kyk na Ernie Els se Toskaanse huis tussen die rotse, en mik dan vir die getypoele (ja, hier’s twee!) aan die oorkant van die baai

Foto: Esma Marnewick


7. Gonubie, Oos-Londen

Die Gonubie-poel is groot en as jy nie lus het vir swem nie, kan jy al langs die keermuur stap. Hier’s ’n parkeerterrein langsaan en jy kan met ’n plankiespaadjie stap tot by Gonubie se hoofstrand en riviermond. Dryf in die getypoel hoog bo die strand en kyk hoe die branderplankryers wag vir daai groot een om te kom.

Foto: Toast Coetzer


8. Millerspunt, Simonstad

Dié getypoel met sy groot, ronde rotse en turkooisblou water kan jou gou laat dink jy’s in die Seychelle... totdat jy ’n pikkewyn gewaar. Dis groot genoeg vir lengtes swem en die trappies en vlakker dele is veilig vir kinders. Én dis beskut van die wind.

Foto Jacques Marais