!Khwa ttu wat “watergat” in die taal |Xam San beteken, is gestig toe die Working Group for Indigenous Minorities in Southern Africa (WIMSA) saamgestem het dat die San-mense meer ondersteuning nodig het om hul eie mense te leer hoe om betrokke te raak in toerisme. In samewerking met die South African San Institute (SASI) het WIMSA besluit om 'n opleidingsentrum op te rig juis vir hierdie doel.
Die Switserse antropoloog Irene Staehlin het ingekoop by die projek en in 1999 ‘n stuk grond, 850 hektaar groot, aan die Weskus gekoop om die San kultuur- en opleidingsentrum te begin. Jaarliks word tot 30 jong San hier opgelei en geleer oor die San se eie kultuur, erfenis, die natuur en volhoubare toerisme. Hier is ook loopbaangeleenthede vir van die studente.
!Khwa ttu is ’n uur se ry vanaf Kaapstad op die Weskuspad uit en ’n uitstappie hierheen kan maklik ‘n dag of selfs langer duur want hier is hope aktiwiteite en lekker doendinge.
Doendinge
Begeleide toere: Kom ervaar en leer hoe die San duisende jare gelede geleef het. Die toere neem jou op ’n fassinerende uitstappie en terugblik van die kultuur, herkoms, erfenins, kennis en lewe van die San-mense. Die San-gidse gesels so tussendeur in hul eie taal en vertel Sanstories wat gelukkig weer in Engels vertaal word. Daar is daagliks twee toere om 10vm en 2nm en dit duur 90 minute. Dit kos R195 per persoon. (Studente en pensioenarisse kan vir afslag vra).
Bergfietsroetes: Die roetes is duidelik gemerk met kleure en jy kan kies watter een jou pas. Kinders kan ook kom ry en hier is bergfietse en fietsvalhelms te huur as jy nie joune saamry nie.
Stap- en drafroetes: die wandelroetes kan gedraf en gestap word en die kanse is baie goed dat jy wilde diere soos elande en skilpaaie gaan teëkom.
Die oorspronklike plaashuis en stoor is nou die restaurant, ontvangsarea en die winkel. Die restaurant maak lekker kos en jy kan binne by die vuurherd of buite onder die bome langs die speelparkie sit. Die spyskaart word aangepas soos die seisoene draai en in die somer kan jy smul aan slaaie en in die winter word warm soppe en bredies bedien. (Oop 9:00 vm tot 3:30 nm. )
Die gallery het ’n foto-uitstalling van Paul Weinberg wat ’n blik op die moderne San gee. Die uitstallings bevat foto’s wat hy oor die afgelope 30 jaar geneem het.
Die winkel en museum is in dieselfde gebou as die restaurant geleë en verkoop interessante boeke, poskaarte, kunswerke, juweliersware en vele meer.
Wandel tussen kruie, plante en skilpaaie: Die personeel hou ’n pragtige kruietuin aan die gang en hier tussen die kruie, dammetjies en vetplante kan jy rondwandel en selfs jou eie kruietee laat trek en daaraan proe.
Vlytige handjies: Kinders kan ook leer om met San-toerusting hulle eie krale van volstruiseierdoppe te maak. Los hulle vir ’n rukkie hier alleen en bestel solank jou kos by die restaurant. Daar is ook ’n klimraam onder bome en lekker groen grasperke vir die jongspan om op te baljaar.
Verblyf
Hier is ’n paar verblyfopsies as jy beplan om oor te slaap wat insluit die gastehuis, boshuis, boskamp en die lodge. Pryse wissel tussen R325 p.p.n tot R880 p.p.n. en ontbyt is by almal ingesluit.
Waar? Op die R27 (Weskuspad)
GPS 33°21’44.55” S 18°16’14.12” E
Kontak 022 27 22 492 2998; epos: info@khwattu.org; www.khwattu.org