Deel

Aftrekplek: Philipstown-koffiewinkel, Noord-Kaap

akkreditasie
Philipstown-koffiewinkel
Philipstown-koffiewinkel
Philipstown is bekend vir sy jaarlikse Draadkarfees, maar verder is dit tussen niks en nêrens, oftewel die Vanderkloofdam en die N1, afhangende van hoe jy ry. Dié fees is elke jaar in September, met onder meer ’n pretloop om geld in te samel vir borskankerbewusmaking.

Hennie Fourie en haar man, Phillip, woon nou al drie jaar in Philipstown. “Met my naam moes dit óf Philipstown óf Philippolis wees,” spot Phillip. Hulle boer selfonderhoudend net buite die dorp. 

“Ons kan asemhaal hier,” sê Hennie, “ons wou skuldvry kom leef.” 

Sy bestuur ook die Philipstown-koffiewinkel in ’n groot vertrek wat voorheen deel van die aangrensende motorhawe was. ’n Stukkie van dié geskiedenis staan nog op die vloer naby die rakke vol tweedehandse boeke: ’n NSU Prinz-karretjie wat dekades gelede in Wes-Duitsland vervaardig is. In die hoek staan ook ’n lykswa wat nog deur perde getrek is. Uitgestal op die lykswa is die wisseltrofees vir die jaarlikse Draadkar Grand Prix.

Die koffiewinkel het ’n rustige atmosfeer, sonder fiemies. Jy sal plaaslike boere en dorpsmense ontmoet terwyl jy hier asemskep.

Die etes bied goeie waarde vir geld. Op die spyskaart is onder meer hamburgers (R30), gevulde omelet (R50), skons met room en konfyt (R30) en toebroodjies soos ham-en-kaas.

“As ’n ou inkom en sê hy’s honger,” sê Hennie, “dan maak ons iets wat by sy honger pas.”. Hier is heerlike tuisgebak te koop, soos lang beskuite en klein pakkies koekies, pakkies fudge asook konfyte soos makataan en Karoo-heuning.

Waar? Kyk mooi wanneer jy in die hoofstraat ry – dis in die systraatjie tussen die Gereformeerde kerk en Quest Merino-motors se vulstasie.

Oop Maandag tot Vrydag: 7.30 vm.-5 nm. Gesluit oor naweke.

Kontak 072 289 3085 (Hennie)