Die buitekant lyk landelik: wit mure en ’n geel-en-oranje sinkdak.

Die stoep is omhein met ’n sinkplaat of twee, vermoedelik om die ingang te beskerm teen die yskoue winterreën wat reeds in die lug hang.

Die wit plastiekstoel wat onder die afdakkie staan en oor die besige pad uitkyk, is leeg.

Met die intrapslag groet Margie le Roux my. ’n Klein, fyn mensie met grys hare en ’n innemende glimlag. “Hierdie padstal is ongeveer 25 jaar oud,” vertel sy. “Maar ek gebruik die plek nog net ’n jaar en ’n half.”

Margie het onlangs haar 70ste verjaardag gevier. “Dis ongelooflik dat jy 70 jaar oud kan wees en nog soveel het om te leer en te ervaar,” vertel sy. “Ek is mal oor hierdie werk omdat ek so baie verskillende mense op hulle reise ontmoet. Ek floreer op interaksie. Hierdie tyd laasjaar was ons toe weens Covid-19, maar danksy die Here se goedheid kon ons weer ons deure oopmaak.”

Die produkte op Margie se rakke word in die plaaslike omgewing gebak, gebrou en gebottel.

Hier is ’n groot verskeidenheid ingemaakte goete, van tamatiekonfyt (R48) en appelliefiekonfyt (R48) tot mentjellie (R45).

As sy tyd het, lê Margie self van die produkte in – sy is bekend vir haar gebottelde uie.

Slegs 3,3 km van Vogel Valleij af is Salandra Park. Daar is ’n Shell-vulstasie en die streek se eerste Ou Meul-bakkery – ’n gewilde kettingwinkel waar jy croissants en skuimende koffie kan koop.

Maar as jy iets meer outentieks soek, trek eerder af by Vogel Valleij. Strek jou bene en talm ’n rukkie onder die bome terwyl jy ’n sakkie grondboontjies (R10) en ’n yskoue Coke geniet.

Ek kies ’n groot reep biltong vir slegs R42 en ’n vetplantjie (R25) om saam huis toe te neem voordat ek vir Margie groet.

Waar? Ongeveer 8 km suidwes van Botrivier op die R43 in die rigting van Hermanus. (Soek “Vogel Sang Farm Stall” op Google Maps.)

Oop Elke dag van 9 vm. tot 5 nm.

Kontak 079 955 6090