Waar Lephalale ’n bietjie te knap duskant die grensposte lê om alwéér stil te hou voel dit asof ’n mens teen die tyd dat jy Vaalwater bereik, verdien om bene te rek (dis 180 km van Groblersbrug en 145 km van Stockpoort af). Seringa Café is op die rand van die dorp; dus kan jy net inswaai, ietsie geniet, terugklim op die R33 en weer voet in die hoek sit Gauteng toe.
Die personeel is flink, want hulle weet die klante wat hier instap, is waarskynlik al van donkeroggend af op die pad en hulle het ook hierna nog ’n ent om te ry. Jy dínk nog daaraan om solank langsaan by Spar in te draf of jou bakkie se tenk by die Total-vulstasie vol te maak dan word jou bord kos reeds voor jou neergesit.
Die restaurant se spyskaart bied iets van alles. Buiten die gewone ontbytopsies soos muesli met jogurt, heuning en vars vrugte (R80) of Farmer Rob se warm ontbyt (die hele boksemdais, ook R80), kan ’n mens pap-en-wors (R80) bestel. Net soos by die huis.