Die Ou Ossewaroete

akkreditasie

101 Roetegids | 2010 Ou Ossewaroete Die Ou Ossewaroete, wat deur die Oppikoppi Innikrater Lodge bestuur word, is ’n taai, begeleide roete. Dit volg die spoor van die ou pioniersossewaroete van Low’s Creek af. Dis net 8 km lank, maar dit duur tussen 4 en 5 uur om te ry. En byna die grootste deel van dié tyd word gebruik om die eerste 4 km te oorkom. Ná net ’n paar minute op die roete (in ’n 4x4, nie ’n ossewa nie …) sal jy met ontsag gevul wees vir die kanniedood-Boere wat meer as ’n eeu gelede dié verraderlike spoor deur die Barbertonberge gesny het om ammunisie en wapens by hul makkers te kry. Selfs in ’n 4x4 bly dit ’n uitdagende hindernisroete wat al jou konsentrasie verg. Wees dus gewaarsku: dis taai. Die roete vertrek van die Low’s Creek-pad, noord van Barberton op die R38. Sommer reg van die begin af is dit besaai met reuserotse, asknopers en skuins hellings. Teen die sesde op- en afdraand, nes jy dink jy weet nou waar Dawid die wortels gegrawe het, tref jy die trappe. Hier vorder jy teen ’n slakkegang langs ’n pad waarlangs niemand eintlik veronderstel is om te ry nie. Naby die bopunt van die berg, 5 km van die begin van die roete, maak die pad gelukkig oop en bereik jy die kruin. Dis ’n stamperige, tegniese rit, een wat jou vaardighede, jou voertuig en sy vering tot die uiterste beproef. Die uitsig van bo af is die moeite en sweetdruppels werd, maar al waaraan jy waarskynlik gaan dink, is wat op dees aarde die Boere gedryf het om so ’n steil tog aan te pak ... Blyplek: Jy kan net by die Oppikoppi Innikrater Lodge oornag, en dit sluit luukse chalets, standaardchalets en boshutte in. Dis selfsorg, maar daar is ’n restaurant en al die chalets word ten volle gediens. Jy kan ook in die woonwapark kampeer. Besoek die webwerf onder vir meer inligting. Wat jy moet weet Kontak: Besprekingskantoor: Valmari Maritz 013 712 2365; 013 712 4512; 082 748 6703; Naaste dorp: Barberton (10 km) Beste tyd om te gaan: Verkieslik nie in die reënseisoen nie (dis van Desember-Maart). Roeteafstand: 8 km Hoe lank sal ek ry? 4-5 uur
VOLLEDIGE BESPREKING | Junie 2008 | Geoff Levey Vulkane, goudmyne en ossewaens As jy iemand van Barberton vra om ’n 4x4-roete aan te beveel, is die kans goed dat hulle jou na een plek sal beduie: die Oppikoppi Innikrater Lodge. Geoff Levey het ’n dag of wat daar gaan afsaal. Dis redelik maklik om by Oppikoppi Innikrater te kom: Daar is nie ’n bedrieglike pas waarteen jy moet uitry nie, geen modder waarmee jy moet stoei nie; trouens, daar is nie eens ’n plaashek om oop te maak nie. Nie sleg as jy in ag neem dis op die hange van ’n ou vulkaniese krater geleë nie. Wat dié lodge wel van ander in die omgewing onderskei, is dat dit die eksklusiewe bestuursregte het vir twee eiesoortige 4x4-roetes in die berge rondom Baberton: die Ou Ossewaroete en . DIE OU OSSEWAROETE | In die voetspore van pioniers Ná net ’n paar minute op die Ou Ossewaroete (in ’n 4x4, nie ’n ossewa nie …) en ons is reeds met ontsag gevul vir die kanniedood-Boere wat meer as ’n eeu gelede dié verraderlike spoor deur die Barbertonberge gesny het om ammunisie en wapens by hul makkers te kry. Selfs as jy in ’n 4x4 in dié tegnologies gevorderde era dié ou pioniersossewaroete van Low’s Creek af volg, bly dit ’n uitdaging, een wat meer konsentrasie van my geverg het as wat ek in jare gebruik het. Wees gewaarsku: Dié eenrigtingroete is taai – dit volg elke opdraand en afdraand van elke rant en skeur in die hele Barbertonbergreeks (dis hoe dit in elk geval voel). Dis net 8km lank, maar dit kan tussen 4 en 5 uur duur om dié begeleide roete te voltooi. En amper die hele tyd word gebruik om die eerste 4km te oorkom. Met ons permitte in die hand en ons gids, Johan Pretorius, vooraan, ry ons noord op die R38 van Barberton af. Ons draai 36km later af na Low’s Creek, en dan byna onmiddellik oos op ’n tweespoorpad. Die roete self begin 1,5km later op ’n rowwe spoor wat skerp deur die digte bos sny. Die eerste 2km vorder ons maar stadig. Die hele roete is besaai met Goliatagtige rotse, asknopers en skuins hellings. Teen die sesde op- en afdraand, net toe ek dink die ergste is agter ons, tref ons die “trappe”. Hier vorder ons met ’n slakkegang langs ’n pad waarlangs niemand eintlik veronderstel is om te ry nie. Asof ek met ’n leer hemelwaarts klim, kry ek die voertuig op teen ’n trappie. Dan rus ons ’n rukkie en pak die volgende een. Twintig trappe op dié eindelose roltrap van opdraandes later en ek is behoorlik tam. En ná 25 trappe wil ek om genade begin smeek … Terwyl ek vir die laaste hindernis aanlê en my wiele in dieselfde spoor plaas wat eens deur moeë, natgeswete en oorlaaide osse deurtrap is, draai my kop. Ek verbeel my ek kan die swepe van ouds langs my voertuig hoor klap. Naby die bopunt van die berg, 5 km van die begin van die roete, maak die pad gelukkig oop, en verklap ook ’n paar van sy geheime. Ons ry verby duidelike tekens waar die Britse magte by Low’s Creek die Boere se ammunisiewaens met kanonvuur bestook en dit opgeblaas het. Hier en daar lê patroondoppies nog in die veld en selfs ná meer as ’n eeu sukkel die gras om te groei. Die roete is nie ’n Sondagmiddag-piekniek nie. Dis ’n stamperige, tegniese rit, een wat jou vaardighede, jou voertuig en sy vering tot die uiterste beproef. As jy die roete klaar gery het, het jy nog skaars die natuurskoon opgemerk. Die uitsig van die Barbertonbergspitse oor die Low’s Creek-vallei is die moeite en sweetdruppels werd, maar al waaraan ek tot dusver kon dink, was watter toewyding en geloof in hul saak die Boere gedryf het om dit selfs te oorweeg om ’n tog van dié omvang aan te pak? WegRy sê: Oppikoppi Innikrater is ’n eiesoortige vermenging van geskiedenis, natuurerfenis en natuurskoon met ’n uitdagende veldryervaring. Beslis ’n besoek werd.

Wat jy moet weet: HOEKOM MOET EK GAAN? Die roetes gee jou ’n fassinerende insig in die geskiedenis van die wêreld, die mensdom en Suider-Afrika. Boonop is dit ’n adrenaliengevulde rit. OP DIE ROETE Hoe lank is die roete(s)? 8 km Hoe lank gaan ek ry? Onderskeidelik 3-4 uur Maksimum aantal voertuie?8 tot 10 werk die beste Kry ek ’n kaart? Nee, maar dis ’n begeleide roete, dus is dit onnodig. Gaan my kar gekrap word? Dit behoort nie te gebeur nie. Moet ek die treeplanke afhaal? Ja, dit kan dalk beskadig word. Moet ek ’n kompressor saamneem? Dis nie nodig nie, hoewel ons jou aanraai om jou banddruk vir die Ossewaroete te verminder. Kan ek halfpad omdraai? Nee, albei is eenrigtingroetes. Kan ek op die roete braai? Nee, maar jy kan ’n piekniek hou en daar is ’n lapa aan die einde van die Eureka City-roete. OM DIE ROETE Beste tyd om te gaan? Verkieslik nie in die reëntyd (van Desember tot Maart) nie. Kan ek my gesin vat? Beslis! Net vir die dag of die naweek? Dagbesoekers is welkom as jy vooraf reël, maar gaan verkieslik ’n naweek. Is daar ablusiegeriewe vir dagbesoekers? Net by Oppikoppi. Kan ek wild sien? Nee Die naaste dorp? Barberton (10km) Hoe kom ek daar? Neem die N4 verby Belfast as jy van Johannesburg of Pretoria ry. Draai regs by die Badplaas-Barberton-teken by Machadodorp (R541). By die Badplaas-T-aansluiting neem jy die Barberton-pad links. Draai regs by die Barberton-Nelspruit-T-aansluiting. (Moenie die eerste Barberton-afdraai regs neem nie – jy gaan verdwaal.) Hou reguit aan op die Barberton-pad. Draai regs in Shebaweg by die vierrigtingstopstraat naby die Barberton Medi-Clinic. Neem die eerste afdraai links, waarvandaan tekens jou na Oppikoppi sal neem. KONTAK Besprekingskantoor: Valmari Maritz Tel 013 712 2365, 013 712 4512 (na werk) Sel 082 748 6703 Website www.barbertontourism.com