Al wat jy so in die ry sien, is mielielande en mynhope... Maar as jy sowat 5 km wes van Welkom op die R710 ry, verras twee eienaardige staalstrukture jou: ’n vliegtuig en ’n mannetjie. Dié twee dui aan jy moet afdraai na die Melkkan.
Dié eertydse melkplaas is in ’n karaktervolle kuierplek omskep vir Vrystaters wat wil uitry vir koffie, ’n lekker bord kos of ’n musiekkonsert – én vir road trippers wat langer wil bly.
Die Melkkan behoort aan Wilmien Pieterse en is opgedollie met afvalmetaal, emaljeware, houtbordjies met vrolike boodskappe – ja, selfs kleurryke ou bra’s... én hier’s ’n motorwrak waarin jy kan braai.