Die fietsrygids Adrian Saffy klouter soos ’n kliplikkewaan oor die rotsbanke tot bo-op ’n lysie, lê plat op sy maag en teug diep aan die water wat uit die grond borrel. Met ’n glimlag spring hy orent en nooi die res van ons om dieselfde te doen.
“As jy eers die water van die Sizi gedrink het, gaan jy keer op keer wil terugkom. Dié fontein is die bron van ewigdurende jeug,” verklaar hy plegtig.Duidelik dink die wilde diere ook so. Bolle vars olifantmis lê rondom die Sizifontein. Ons skep asem in die mees suidwestelike hoek van Zimbabwe, sowat 7 km noord van die Limpoporivier waardeur ons vroeër vanoggend met ons fietse op ons skouers gewaad het.
Terwyl die fietsryers om die beurt kniel om die magiese water te drink en waterbottels vol te maak, verkyk ek my aan die landskap.