Hier is van basiese staphutte tot die luukse Vakashani-gastehuis vir oorbly (Vakashani beteken “om lekker te kuier” in Zoeloe en Swazi volgens die eienaar Attie van  Niekerk).

Die staproete begin by Vakashani. Die eerste paar treë is bergaf tot waar die pad skei. Links loop die korter Wapadroete. 

Hou regs op die Watervalroete en gou kronkel jy deur rotsskeure al teen die randvan die krans af. Hierlangs groei indruk-wekkende geelhoutbome.

By die Dassieskeur toring die klipwande 30 m hoog aan weerskante van ons. Al voel dit soos ’n ander wêreld, lê die plato nog naby. 

Die smal, donker klipgang dop ons uiteindelik in ’n sonkol tussen die gras uit. Nou daal jy vallei-af; deur lappies woud en grasvelde tot by die bopunt van ’n berghang– versigtig trap hier. 

Ons draai links en volg die platorand vir ’n  paar treë en daal dan in ’n kloof af, al langs ’n stroom.

Wanneer jy later uitklouter, sien jy die Bakoni-klipkrale duskant die vallei en is jy weer omring deur grasveld. Dié klipsirkels en -opstalle van die Koni-mense wat tussen 1500 en 1820 hier gewoon het, strek oor 10 000 km² van Carolina tot by Ohrigstad. 

By roetemerker 28 draai ons regs en stap ’n steilte stuk af water toe (daar is ook ’n pad links wat op die bergrand bly). Voordat jy die Bankspruit bereik, loop jy verby die Dzala-kraal; die plek waar Boerevroue tydens die Anglo-Boere-oorlog weggekruip het. 

Jy loop ’n uur lank langs dié rivier. Die water spoel oor die rotse (selfs in die dro? seisoen), die plonspoele is helder en jy kruis gereeld die breë Bankspruit met brûe. 

Af en toe neem ’n houtleer jou hoër teen die helling uit en verby groot bome. Wees op die uitkyk vir die ou outeniekwageelhout by “Big Tree Lane”.

Hou piekniek by die voet van die Uitkomst-waterval; dit strek 85 m die hemele in. Twee weke voor ons besoek was dele van die waterval gevries!  

Ná middagete het jy weer energie vir die  kort maar uitmergelende uittog na die plato. Dis pynlik steil. Die pad kronkel gelukkig weer by kranse verby (koelte!), gelyke dele en ’n uitsig wat sorg vir lafenis. 

Die paadjie wikkel later deur ’n reeks rotsskeure en spoeg jou by ’n grot uit (jy kan deur of oor die grot klouter). 

Bo is die berg so plat soos Tafelberg en die Uitkomstwaterval tuimel loodreg by die rotswand af.

Gee jouself bo-op die plato ’n klop op die skouer – jy was immers netnou nog by die voet van daai waterval!

Van hier volg jy ’n grondpad terug kamp toe vir ’n aand van braai en sterrekyk.     

Watervalroete
Sowat 20 minute nadat die stappers wegspring, daal die Watervalroete die vallei in.
'n Tamaaie geelhoutboom jou in ’n rotsskeur.
Nadat jy deur ’n grot klouter, verras hierdie tamaaie geelhoutboom jou in ’n rotsskeur.
Bankspruit
Een van die vele brûe wat oor die Bankspruit loop.
Erikabloeisels
Erikabloeisels verfraai die roete wat tussen deur grasvelde draai.
Uitkomstwaterval
’n Groot rots by die onderpunt van die Uitkomstwaterval dien as ’n piekniektafel.

INLIGTING

Afstand: Die Watervalroete strek oor sowat 12 km. Dis sowat vier en ’n half uur se stap. 

Waar? Die afdraai na Bermanzi is 19 km suidoos van eNtokozweni (Machadodorp). 

Blyplek Die staphutte, chalet en gastehuis het elektrisiteit, braaiplek en kaggels. Die Stalle is verder van die platorand af en het slaapplek vir 50 stappers in 6 kamers. Hier is oorgenoeg badkamers en twee kombuise.

Hier is kook- en eetgerei, maar bring jou eie beddegoed. Inni-rots Vir Twee is vas aan die eienaars se huis met slaapplek vir twee. Die eenheid het ’n private ingang, stoep en braaiplek. ’n Natuurlike rotsmuur versier die binnekant. Die Vakashani-gastehuis is op die  platorand. Die dubbelverdieping-kliphuis het slaapplek vir 10 mense in 3 kamers (met 3 badkamers) en die boma langs die huis (die murasie van ’n ou rondawel) is ideaal vir kuiers in die aand. 

Wanneer? Maart, April en Mei is die beste tyd om te stap. Daar is minder donderstorms (wat ’n modderspul op die voet- en  motorpaaie kan veroorsaak), maar die rivier loop nog sterk.

Koste? Dagstappers (net op Saterdae): R180 p.p.; en R100 per kind onder 12. Die Stalle: R250 p.p; en en R180 per kind onder 12. Inni-rots Vir Twee: R980 p.n. Vakashani: R2 200 p.n. vir 6 mense, R320 per ekstra mens (slaapplek vir 10). 

Wat nog? Die Wapadroete is ’n korter roete van sowat 6 km. Jy kan ook op een van Attie se boerperde ry – reël vooraf. 

Kontak  082 856 1942; 076 387 7658; bermanzi.co.za 

 

ONTMOET DIE MENSE

Doktor Attie en Marietjie van Niekerk
Doktor Attie en Marietjie van Niekerk

Doktor Attie en Marietjie van Niekerk het in 1981 dié lappie grond in Mpumalanga se Drakensberg gekoop. Attie het op ’n plaas in die omgewing grootgeword. Attie was ’n predikant op Ermelo en Pretoria en het baie jare gesmag na “ ’n  stukkie aarde van sy eie”. 

’n Eiendomsagent wys hom toe eendag Bermanzi. “Maar daar was nie ’n pad hiernatoe nie – hier was niks! Ons ry deur die plaas bokant die waterval, na die afgrond toe, en die agent staan en beduie hoe die plaasvallei lê.” Die uitsig en die natuurskoon het Attie laat besluit om te koop. 

Hier is ’n groot verskeidenheid natuurlewe in die berg. “Ystervarke, rooikatte, tierboskatte, rooiribbokke en klipspringers reg rondom die huise. Daar is bosbokke in die vallei en ek het al groot koedoebulle daar onder gesien,” sê Attie trots. Daar is ook baie blouape, bobbejane en soms tekens van luiperds.

Hulle het aanvanklik ’n asbeshuisie op die platorand opgerig. “Die aluminium-dak was flenters. My familie was glad nie beïndruk nie. Ons het op Ermelo gebly en ek het net vier vry naweke elke jaar gehad. Ek het heel naweek reggemaak en geverf; die kinders het lief geraak vir die eenvoudige plek.”

Die asbeshuis was die raamwerk vir die Vakashani-gastehuis. Attie het 25 jaar lank ook stuk-stuk aan ’n aftreehuis vir hom en Marietjie getimmer.

Bermanzi

In die gastehuis hang ’n skildery van ’n ou hartbeeshuisie met ’n grasdak. “Dit is waarheen ons met die skape getrek het Laeveld toe, by Tjakastad. Dit was ons plaas toe ek ’n kind was,” verduidelik Attie. 

 “Voor die een venster het ’n aalwyn gestaan wat my ouma geplant het. Daardie aalwyn trek al my hele lewe lank saam – waar ook al ons gebly het, het ons dit geplant.

“Dit kom van my oupa en ouma se troue af, net ná die Anglo-Boereoorlog. Dit is meer as 100 jaar in die familie. Ek het die aalwyn van die pastorie af geskuif en hier voor die aftreehuis kom plant.”

Maar op 11 Oktober 2010, die dag ná Attie se amptelike aftrede, kry die Van  Niekerks ’n oproep: ’n Veldbrand versprei onbeheers na Bermanzi. Attie moes  verbaas luister hoe sy opsigter oor die telefoon skreeu terwyl hy die verwoesting aanskou.

“Alles was daarmee heen,” vertel Attie met ’n diep sug. 

“Ek kan nie verduidelik wat deur ’n mens se kop gaan nie. Die dag nadat jy aftree... al die jare se werk daarmee heen. Ek het gekyk na die chaos wat daar lê en gloei, en ek loop toe na die ou aalwyn en sê: “Nou is jy ook weg. Dood.”

Die dag ná die brand het dit gere?n. ’n Week later kom Attie weer van Pretoria af. Hy stap ’n laaste maal na die aalwyn toe. Hy loer binne-in die kern en sien groen – die aalwyn lewe. “Dís wat ek altyd gepreek het. Vir die Here is daar ’n nuwe begin – vir mense ook. En ek besef... ja, die aalwyn staan op. Ek moet ook.”