
Hierdie mooi strand gaan jou onkant betrap indien jy vooropgestelde idees oor die Weskus het. Weggesteek tussen Doringbaai (wynproe by die see, hoera!) en die monding van die Olifantsrivier (waaroor die piepklein Papendorp waghou) lê Strandfontein.
Die Atlantiese Oseaan is voor jou en steil kranse (ja, kranse!) en begroeide duine agter jou. Jy kan stap, swem, strandkrieket speel, met die hond wandel, foto’s neem...
Die beste van alles is dat die kampplek by Strandfontein só uitgelê is dat tentopslaners en woonwaslepers beloon word met ’n uitsig wat by ander kusdorpies slegs dies in die miljoenêrshuise beskore is: Kamp by Strandfontein en jy´ is die miljoenêr!
Wat nog? As die wind oes is, ry binneland toe en loer in by die Olifantsriviervallei se wynplase.
Waar bly ek? Die Strandfontein-vakansieoord is op die strand – hier’s glad en suite-kampplekke – ja, jy het jou eie badkamer.
Koste Kampering kos vanaf R250 p.n. (6 mense per staanplek, met eie ablusie en kragpunt) of vanaf R170 p.n. per staanplek (6 mense, gedeelde ablusie). Chalets kos R700 p.n. vir 6 mense wat deel, of R550 p.n. vir 4 wat deel.
Kontak 027 201 3437; strandfontein@matzikamamun.co.za