Deel

Bly hier: Prior Grange-gasteplaas, Springfontein, Vrystaat

akkreditasie
Wanneer jy van Bloemfontein af suidwaarts ry op die N1, begin die Suid-Vrystaat veral mooi maak – vlaktes wat opstaan in koppies, plaasopstalle waar hoë bome punt – daar by Springfontein rond.

Dis hier waar Prior Grange lê, slegs enkele kilometer van die N1 af, maar dit voel asof jy veel verder van die gedruis is.

Dis ’n puik oornagplek, en jy gaan waarskynlik langer wil bly – maak ’n plaaslangnaweek daarvan!

Groot bome raam die oprit terwyl jy inry na die opstal, wat omring word deur ’n netjiese tuin. Hier word jy ontvang deur Sheryl en Blackie de Swardt, of dalk hulle seun Stephen. Die plaas is al sedert 1854 in Sheryl se familie.

Wat kan ek doen?

Hier is ’n kort staproete deur die groot plaaswerf, maar jy kan ook elders op die plaas stap en fietsry. Kyk voëls by die plaasdam of swem in die sandsteenswembad. Dalk is hulle besig om skaap te skeer, dan kan jy gaan kyk. Soms speel hulle krieket in die somer. Hier is ’n gerestoureerde Boereoorlog-blokhuis op die plaas wat jy kan besoek. Drink ’n skemerkelkie in hulle kroegie, The Loft.

Koste: Bed en ontbyt kos R440 p.p. Bed, ontbyt en aandete kos R620 p.p. Selfsorg kos R360 p.p. Kinders jonger as 12 betaal halfprys.

Hier is vyf verskillende kothuise met slaapplek vir tussen 2 en 5 mense – sommige het ’n kaggel vir koue winternagte en een kyk selfs uit oor die krieketveld! Jou etes word by jou huisie afgelewer.

Waar? Sowat 6 km suid van Springfontein, met afdraaie gemerk op die N1.

Kontak: 083 310 3284; www.priorgrange.co.za


Hierdie artikel is geneem uit ons argief. Alle inligting is onlangs nagegaan, maar feite en geite kon intussen verander het. Laat weet gerus as jy so iets raaksien - stuur 'n e-pos na digitaal@weg.co.za