Deel

Bly hier: Simes cottage, Lotheni-natuurreservaat

akkreditasie
Simes Cottage
Simes Cottage
Daar is geen fout te vind met Simes Cottage se ligging nie: Aan die bopunt van die imposante Lothenivallei in die suidelike Drakensberg, met ’n uitsig oor jou eie foreldam.

Simes is ’n opgeknapte plaashuis en dis die ideale teenmiddel vir die gedruis van die stadsliggies. 

Dis ook ’n lekker vertrekpunt van waar jy die natuurwonders van Lotheni kan verken. 

Waar slaap ek? Dis kothuis het slaapplek vir tien mense in twee gewone slaapkamers en een slaapsaalkamer (beddegoed word voorsien). Hier’s ’n basiese kombuis met ’n gasoond en –yskas en badkamer.

Wat jy moet weet: Selfoonsein is beperk en ’n kragopwekker word ingespan om elektrisiteit tussen 5 nm. en 10 nm. te voorsien. 

Bring saam: Bring jou eie gaslampe en flitse saam.

Wat doen ek? Hier’s heelwat om te doen rondom die huisie self. Soek voëls, insluitend manjifieke lelkraanvoëls, of vang reënboogforel in die propvol dam.

Die reservaat het baie stappaadjies vir elke ouderdom en fiksheidsvlak – dis nou as jy jou lank genoeg by die braaiplek langs die meer kan wegskeur. Hier is ook ’n bergfietsroete en lekker swemkolle in die Lothenirivier. In die winter sneeu dit heel moontlik.

Hoe kom ek daar? Daar is verskillende paaie waarmee ’n mens by Lotheni kan uitkom – en almal is stamperig en mooi.

’n Voertuig met ’n hoë grondvryhoogte word aanbeveel, veral in die reënseisoen. Dit maak nie saak of jy van Johannesburg of Durban se kant af kom nie – die 78 km-roete van Nottingham Road in die KZN Middellande af is waarskynlik jou beste opsie.

GPS: S29.43752 E29.51501

Koste: Tussen R2 800 p.n. en R 3 600 p.n. vir tot 10 mense.

Kontak: 033 702 0540 (kampontvangs), 033 845 1000 (sentrale besprekings), bookings@kznwildlife.com; www.kznwildlife.com/Lotheni.html