As ’n bakkie kon praat

akkreditasie
Uit die argief: In Ferdie Colyn se studentejare het sy 1980 Toyota 1200-bakkie ’n nuwe naam gekry: Oral – want maak nie saak waarheen hy gegaan het nie, Oral was saam.

My heel eerste motor was ’n 1980 Toyota 1200-bakkie

In 1983, tydens my studentejare, was almal jaloers op my bakkie met die kappie, almal wou altyd saamry of iewers heen gaan. Dit was ook lig op brandstof, R13 vir ’n vol tenk van 35 liter (vandag is dit meer as R16 ’n liter, waar’s daai dae?)! As student moes ek naweke almal see toe neem. Ek het paddle ski gery en geduik en my kamermaat het branderplank gery.

Saans het ons al die bagasie onder die bakkie gebêre sodat ons agterin kon slaap. Sondae op pad terug koshuis toe het ons leë koeldrankbottels ingegee vir kontant, R6 se petrol was genoeg om terug te ry met ’n halwe tenk petrol! Snaaks genoeg was my bakkie altyd vol brandstof. My pelle het hom vol gehou, want almal wou altyd êrens heen ry. As my geld opgeraak het, het ek hulle hare gesny teen R2 ’n kop en so het my bakkie se tenk vol gebly.

My beste herinnering of avontuur van my bakkie was tydens my studentejare op ’n duik- en visvangnaweek in Gansbaai. Ons was 10 studente met drie voertuie en ’n sleutel van ’n hek by Danger Point waar geen voertuig nie mag ry nie. My bakkie was een van die drie en die pad was nie maklik nie. Glo dit of nie, maar in ’n stadium moes ons my bakkie optel en dra vir ongeveer 10 meter oor klippe en boomwortels, waar net ‘n 4X4 kan loop, voor ons weer verder kon. Ná die naweek het my bakkie ’n nuwe naam gekry: Oral, want maak nie saak waarheen ons gaan nie, hy gaan oral saam.

Die wittebroodswa

Ons was pasgetroud, met min geld, maar ’n voertuig om ons tweetjies oral te neem en waarin ons kon slaap ook. Ons wittebroodsreis was ’n belewenis. Een aand in ’n hotel en die ander aand in ’n tentjie. Gelukkig kon ons alles agterin die bakkie laai. 

So het ons gekamp, as dit gereën het, het die tent gelek en dan het ons agterin die bakkie geklim. Dit was in 1984 en die hoeveelheid brandstof wat ons uitgery het van Wellington tot Nature’s Valley en terug het ’n volle R105 gekos.

Die gesinskar

In 1985 begin ek werk in die Noord-Kaap en ek vervoer al my nodige besittings met my eie bakkie. Vir die volgende 3 jaar het ek 4 keer ‘n jaar vanaf Kimberley na Pretoria na die skoonfamilie gery, veral wanneer WP teen Noord-Transvaal gespeel het.

Bo-op die Swartberge in 1989, het ons die kappie spesiaal afgehaal, want soveel as moontlik sneeu moes agterop gelaai word om vir die koshuiskinders op Calitzdorp te wys en dat hulle mekaar daarmee kon gooi. So was die bakkie verskeie kere bo-op die berg om piekniek te hou of om te gaan braai. ‘n Werkesel soos min – klein, maar gewillig.

Die staatmaker

In 1980 het ek die Toyota kontant gekoop. Die koopprys was R3 200, en saam met ’n skuifvenstertjie, kappie en ’n rubbermat, was die totale bedrag R3 950. Ek het latere jare die bakkie laat spuitverf en ’n nuwe voorruit laat insit en dit alles het 33 jaar later amper drie keer meer gekos as die hele bakkie se koopprys in 1980.

Dié bakkie was die oorsaak dat ek ook ’n Toyota Camry gery het, ’n 1992-model, die beste boere-Mercedes in die wêreld.

Geen geld ter wêreld kan soveel herinneringe soos dié met my twee Toyotas koop nie. Die een was my vulliswaentjie en werkesel, die ander my vrou se werk-toe-en-terug-motor. As my Oral sou kon praat, sal ek ‘n week verlof moet neem om na al die stories te luister.


Hierdie artikel het oorspronklik op Weg se webblad (4 November 2015) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.

ONS SOEK JOU KIEKIES
Het jy ou swart-wit foto’s wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Stuur dit gerus na kyra.tarr@media24.com