Die lewe het nou maar eenmaal sy gewone verloop en jare gelede het ek deur effe diep waters. Aan die blink kant het ek ’n splinternuwe (vir my), derdegeslag-diesel-Pajero met ’n kort asafstand asook ’n hand vol vrye tyd gehad.

Ek besluit om ’n paar dae Richtersveld toe te mik sodat ek aan die finale voorlegging vir my diploma kon werk – en omdat ek  ’n bietjie moes uitkom.

Ek kom al ’n lang pad saam met die Richtersveld. Jare lank was ek ’n riviergids hier, ek het ook jare gelede aan die Amageza Rally deelgeneem. Laasgenoemde is ’n multiskof-motorfietstydren wat op die Dakar gegrond is en deur van die meer afgeleë gebiede gaan. Die Richtersveld roep my naam – en hard ook.

My plan was om by Garies van die N7 af te draai en dan noord deur die Namakwa- nasionale park te koers. Die Buffelsrivier-4×4-roete het destyds parallel geloop aan die N7 en eindelik wou ek die spoor van die derde skof van die Amageza volg.

Die plan was om daarna ’n paar dae by die Felix Unite-kamp deur te bring. Wat kan dan nou verkeerd loop?

Laat uit die blokke weg

Vrydagmiddag vieruur kom ek agter die waaierbande moet vervang word, en dit keer dat ek die Saterdagoggend vroeg kan wegkom. Ek vertrek eindelik rondom middagete in koue en nat weer.

In Garies koop ek 40 liter ekstra brandstof, vleis, blikkieskos, ys en ’n bier. Sowat 60 km verder sien ek ’n ou windpomp en ’n verweerde kraalmuur, net die regte plek vir gratis kamp en ver genoeg van die pad af sodat verbygangers ’n mens nie sommer sal pla nie. 

Ek verkies dit om in die oopte onder die sterre te slaap, en dit is ook dan wat ek doen. 

Ek kyk rond soos ’n toeris terwyl ek hoofsaaklik met die Buffelsrivier-4×4-roete in die nasionale park ry en elke dan en wan afdraai om na interessanthede te gaan kyk. Die weer is aangenaam – en ook al die uitsigte. Dis ’n wonderlike dag.

Die Pipe-roete noord van die park en net noord van die R355 is ’n bietjie van ’n tameletjie. Op ’n kol moet ek die wenas aan die gang kry. Ek kon seker trugestoot het en weer ’n keer probeer het, maar die wenas is nuut en dit is ’n goeie verskoning om daarmee te speel.

Sowat 7km wes van Steinkopf kom ek ’n deel van die Amageza-roete teë. Omdat my tyd beperk is, omseil ek die eerste deel van die roete en gaan wes hiervandaan die Knersvlakte binne voordat ek uit ’n westelike rigting regs draai na die berge toe. Ek het ’n roete hier op Tracks4Africa gesien.

Die vallei wat ek gekies het om in op te ry, het ’n fontein teen die bergrand. Dit is verstommend. Ek oorweeg dit om by die fontein te kamp, maar daar is nog daglig oor en ek wil by die roete uitkom. 

Ek kruip teen die helling by die vallei uit en die Pajero se kort asafstand beïndruk my. Dit sou seker vinniger op my motorfiets gegaan het, maar dit sou ook baie meer van ’n sweterige affêre gewees het.

Ek sien net een ander stel spore op die paadjie en dit lyk reeds ’n paar dae oud. Daar was dalk vroeër spore, maar die reën van ’n paar weke vantevore sou dit weggespoel het.

Dit was egter op ’n Sondag, ’n week ná die swetterjoel vakansiedae in April en Mei en die kans is maar klein dat iemand anders in die omgewing is.

Ek het ’n bier aan myself belowe sodra ek op die Amageza-roete sou beland. Ek is daaraan gewoond om dié soort paadjies op my motorfiets te ry en dis moeilik om bier te drink as jy ’n valhelm ophet. Dit is dus vir my ’n nuutjie om ’n koue een oop te maak terwyl ek stadig aantjommel.

In my geestesoog sien ek al die plek waar ek kamp wil opslaan en ek kom daar uit net toe die son sak.

Perfekte tydsberekening!

Maar toe, net toe ek my kopflits oor my kop trek, breek die flits se band. Ek probeer dit herstel in die lig van die kar se hoofligte, maar skakel dit ná twintig minute af. Ek probeer dit nog ’n ruk lank herstel by my selfoon se lig.

Terwyl my aandag nog hiermee in beslag geneem word, hoor ek die Pajero maak tik-tik-tik. Hmm, dit klink na die voorspanningskakelaar van die aansitter (starter relay)? Deksels! Ek spring op en probeer die kar aanskakel. Die aansitter wil nie eens draai nie.

Ek is meestal kwaad vir myself. Daar is niks anders om te doen nie buiten om aandete te maak en wyn te drink – en nie een smaak so lekker soos gewoonlik nie. 

Ek kan nie die Pajero aan die brand stoot nie – dit is ’n outomatiese kar en ek is op my eie.

Ek het amper 20 liter water en kos vir omtrent twee dae. Môre is Maandag en die kans dat enigiemand gedurende die week hul opwagting gaan maak, is skraal.

’n Paar mense weet waar ek is… wel, op ’n manier. Ek het ’n aanlyn-tracking app wat ek uitgestuur het, maar dit sal nog ’n paar dae duur voor mense gaan begin bekommerd raak.

Dis volmaan. My enigste keuses is om bo-op ’n heuwel te kom en te kyk of ek ’n selfoonsein kan kry, of, as daar niks is nie, om na die rivier te stap, sowat 30,6 km hiervandaan.

Die weer is koelerig, wat beteken dit behoort nie ’n probleem te wees om in die dag te stap nie. Ek wil ook nie teen ’n heuwel uit in die nag nie, al is dit volmaan. 

Ek haal my rekenaar uit, maak MapSource oop, en teken die roete af op ’n stuk papier. Ek skryf daarop waarheen ek van plan is om te gaan en vra die persoon wat die nota lees om die kar saam met hulle te bring as hulle dit kry. Ek los die oorleikabels met die stuk papier in een van sy kake op die verkoeler, met die enjinkap oop en die sleutel op die bestuurder se sitplek.

Terwyl ek in my slaapsak lê, werk my kop soos ’n kasregister op betaaldag. Ek dink selfs daaraan om die rekenaar se battery te gebruik om die kar aan die gang te skop!

Dit is nog donker toe ek berg-op trek… nee, geen sein nie. Ek verstuit byna my enkel op pad ondertoe.

Ek het ’n rugsak wat ek vir werk gebruik en ek pak alles daarin wat ek dink ek moontlik nodig kan kry: 3 liter water, sonroom, kamera, GPS-eenheid, ekstra batterye, paspoort, beursie, wolmus, langmouhemp, strop, Leatherman, sambreel, kaas, ’n hambroodjie, en twee hande vol pekanneute.

Ek neem ’n groot sluk water uit die waterkan, en vat die pad.

Die lang pad noorde toe

Ek kry kans om oor heelwat te dink terwyl ek loop. Dit is so mooi deel van die wêreld – dit kon soveel erger gewees het.

Ek stap ’n uur lank en rus dan tien minute. Ek is redelik seker dat ek op dié manier 30 km ver kan loop. 

Teen die middag se kant begin dit warm raak. Ek gebruik omtrent 1 liter per 10 km. Ná 20 km kan ek die Eksteenfontein-pad in die verte sien. Om daar uit te kom sal my kanse verbeter om met mense in aanraking te kom. Maar ek sien die ganse dag nie ’n enkele siel nie. Om die waarheid te sê: ek sien niks buiten voëls nie.

Om ’n lang storie kort te maak: Ek kom tot by die Oranjerivier waar ek in Adam Bleach van Bushwhacked Outdoor Adventures vasloop. Ek bied aan om hom te betaal om my na die Pajero terug te neem, maar hy is ’n gawe kêrel en sê hy wil net dieselgeld hê.

Ons vertrek toe die son sak en dit duur twee uur om die 30km tot by my voertuig te ry. Daar gekom, het ons geen probleem om die enjin met die herleikabels aan die gang te kry nie.

Ek volg hom terug tot by die rivier, groet en gaan deur die grenspos. Om 12.30 vm. is ek in die bed.

Die volgende dag is ek lekker styf, maar dankbaar dat ek nie nog die Pajero ool moet gaan haal nie. Ek kry dit reg om van my werk af te handel voor ek die volgende oggend huis toe ry.

Wat as…

Voor my reis het ek het die Pajero ’n maand lank gehad en kom eers daarna agter die battery is vier jaar oud en nie in die beste toestand nie. Buiten dié probleem het die voertuig soos stroop geloop.

Ek is nie ’n 4×4-kenner nie en ek weet mense sê jy moet nie alleen reis nie – veral nie op ’n plek wat so onherbergsaam soos die Richtersveld is nie.

Ek het heelwat tyd gehad om tydens my staptog hieroor na te dink. Nadat ’n sekere punt op ’n alleenreis oorgesteek is, is die reis nie meer soveel pret nie en kan dit duur of selfs dodelik word. Ek dink nogtans ek was redelik goed voorbereid en vol vertroue dat ek sou oorleef.

My plan waarop ek sou kon terugval as alles ernstig skeef geloop het, was die tracking app op my iPhone. Dit gebruik die interne GPS om as’t ware my spoor te bly volg en dan, wanneer dit weer binne bereik van ’n selfoonsein kom, laai dit die data op na ’n webtuiste waar ander gebruikers dit kan sien. Die laaste data sou gewees het waar ek afgedraai het na die Knersvlakte.

My vriende het ten minste geweet ek was op pad na die Amageza-roete en dat ek my in die betrokke vallei sou bevind. Hulle sou ’n algemene aanduiding gehad het van waar om te begin soek. Dit sou nogtans ’n rukkie gevat het.

Ten spyte van alles het ek die ervaring werklik geniet, hoewel ek dit nie sommer weer wil beleef nie. Dit was goed om op my eie te wees sonder iemand waarop jy kon staatmaak. Daar was baie “sê nou maar nette”, maar ek hou daarvan om te dink, sê nou maar net ek het nie gegaan nie?


Hierdie artikel het oorspronklik in 2015 op Weg webtuiste verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – stuur 'n e-pos na digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.