Deel

Betsy, die hartedief

akkreditasie
Letitia du Toit
Uit die argief: Sy het haar 1969-Jurgens Betsy gedoop, skryf Letitia du Toit van Centurion in 2016 aan WegSleep. Haar getroue woonwa het gesorg vir baie vriendelike gebare van medereisigers op die lang pad.

Ek het my eie tekstielonderneming en reis nogal baie om by verskeie eksklusiewe markte reg oor die land uit te stal. Ek het altyd gesien hoe mense hulle mooi waens op sosiale media sit en hoe baie mense daarvan hou. Dus het ek redelik vroeg al geweet ek wil eendag my eie winkel-op-wiele hê. Dit maak die lewe by die uitstalling ook net soveel makliker.

Ek het eintlik heel toevallig op Betsy afgekom. Ek was op pad Krugersdorp toe en het êrens ’n verkeerde afdraai gevat. Terwyl ek effens verdwaal was, het ek verby ’n woonwahandelaar gery. Ek het hierdie 1969-model Jurgens van die pad af gesien en dadelik geweet sy moet myne wees. Sy was in ’n uitstekende toestand binne en buite, en ek het haar daar en dan gekoop.

Ek het die binnekant aansienlik verander om meer by die beeld van my onderneming te pas. Ek het onder meer van daardie houtafwerking ontslae geraak. Ek het haar Betsy gedoop en ek kan nie méér gelukkig en tevrede wees nie.

Sy gaan nou oral saam waar ek uitstal en ek pak my hele winkel in haar, wat die heen-en-weerryery met so baie voorraad aansienlik makliker maak. As ek by die mark aankom, slaan ek die tent op, gooi ’n lappie sintetiese gras op die vloer en sit my winkel onder die tent aanmekaar. Ek sleep haar met my ou Mazda-bakkie.

Almal wat vir Betsy teëkom, is mal oor haar. Selfs as ek op die pad is, toet mense en waai vriendelik. Dit is regtig heerlik.


Hierdie artikel het oorspronklik in Wegsleep #87 (April 2016) verskyn. Feite en geite kon intussen verander het – stuur e-pos na digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.