
Ek is gisteraand weg uit die Kaap en het vanoggend gesnuffel tussen duur sigarette, whiskey en ontwerperparfuums op Dubai se lughawe. Nou sit ek laatmiddag in China en wag vir die laaste vlug na my eindbestemming in Mongolië. ’n Mens vlieg mos langpad as jy met die goedkoopste vlugte oorsee wil vakansie hou.
Wanneer jy só reis, raak dit ’n worsteling om jouself wakker te hou gedurende die gewag op lughawens. Jy is later so vliegvoos dat jy soos ’n breindood zombie met ’n paspoort in die hand van een ry na die ander strompel. Jy is beswaarlik wakker.
Ek sit in ’n restaurant op die tweede verdieping van Beijing se internasionale lughawe en bestel ’n koppie swart koffie. Ek probeer lees, maar dit maak my oë so moeg dat ek net meer vaak word. Die Wi-Fi is verniet, maar werk nie lekker nie. Die kelner vertel my dis omdat derduisende mense gelyktydig probeer WeChat, Renren (die Chinese ekwivalent van Facebook, wat hier verbied is) of #watookal.
En wragtag, wanneer ek na die skarrelende gros mensdom kyk, weerkaats byna elke liewe gesig in die lig van ’n selfoonskerm. Ugh, dis seker nie lank voor die volgende generasie met ’n ingeboude slimfoon in die brein gebore word nie.
Daar is min dinge so vermaaklik soos mensekyk, veral in ’n nuwe plek (dis my eerste keer in Asië). Elke toneel wat jou oog vang, is ’n oomblik uit ’n spesifieke tyd en plek, maar sonder behoorlike konteks. Soos kiekies in ’n vreemdeling se fotoalbum: Jy maak self die stories agter elke snapshot op.
Party goed let jy op bloot omdat dit anders as by die huis is. Die vreemde goed waarvan jy jou pêlle later vertel. Elke waterpunt in die lughawe het byvoorbeeld ’n kouewater- én ’n warmwaterkraan – en die meeste mense drink uit die warmwaterkraan!
Die trem tussen terminale word ’n Automatic People Carrier genoem. Die spyskaarte se pryse lyk aanvanklik amper soos ons s’n: ’n Tapbier kos Y45, ’n pizza Y100, ’n toebroodjie Y40, ’n koppie koffie Y20. Maar wanneer jy die wisselkoers Google, is jy skielik nie meer honger nie, want jy besef jy moet alles met twee vermenigvuldig. En oud en jonk spoeg oop en bloot in al wat ’n asdrom is.
Ek sien oral bondels sekerheidswagte in netjiese swart uitrustings. Skraal jong mense wat lyk asof hulle nog op hoërskool moet wees. Eenkant staan ’n militêre mannetjie penorent op ’n verhogie waarom ’n tou gespan is. In sy kreukelvrye groen uitrusting staar hy stip die verte in terwyl toeriste voor hom selfies neem.
En jy kan maar kyk, Chinese mans dra nie sommer ’n baard of snor nie. Soos ’n bladsy uit ’n Waar’s Willie-boek sien ek uiteindelik net een outoppie met ’n lang grys puntbaard.
Die terminaal wemel van die mensdom, maar min is buitelanders. Ek sien net een groepie Duitsers wat soos gehoorsame kleuters agter ’n Chinese vrou – wat ’n vlaggie op ’n lang stok omhoog hou – deur die skare vleg.
Hulle skarrel verby drie manne wat laer getrek het met hulle trollies en in die middel op hulle koffers sit en koffie drink. Langsaan pak ’n vrou ’n 100 liter-tas tjokvol kosgoeters in vreemde verpakkings. ’n Antie met ’n donkerbril ry verby op ’n elektriese tas soos ’n piepklein poegie.
Eenkant gebruik ’n paartjie ’n tas as ’n tafel om kitsnoedels te eet en skielik besef ek hoekom die waterpunte warmwaterkrane het.
’n Aankondiging pluk my uit my dagdroom en ek besef ek moet aanstoot. My vliegtuig staan aan die ander kant van die Automatic People Carrier en boonop moet ek nog deur die gros mense onder my navigeer voordat ek uiteindelik ’n uiltjie kan knip op my laaste vlug.
Ek hoop net die koppie koffie van R80 hou my wakker tot daar...
Hierdie artikel het oorspronklik in Junie 2020 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.