Die kampterrein, net ’n klipgooi van die see af, is dolleeg. Al wat op die strand rondhang, is ’n paar vaalstrandkiewiete en ’n skare bamboes. Dis seker nie ongewoon vir ’n Weskusdorpie nie, maar dis 2 Januarie en nog hóógseisoen. Al langs die kus wemel stranddorpies van sambrele, kinders op fietse, tieners, surfers en stalletjies...
Nie op Hondeklipbaai nie. Dié dorpie met ’n stuk of 400 huisies omring deur vlaktes grysbossieveld lê soos die kraai vlieg 90 km noordwes van Garies. Jy gaan nie sommer hier verbyry nie; jy kom omdat jy die plek liefhet of omdat jy nuuskierig is.
Van waar ek op die dek van een van die huisies van die Honne-pondokkies-oord sit, het ek ’n uitsig oor ’n groot deel van die dorpie. Hier’s nie ghrênd Toskaanse strandhuise of byderwetse wafelrestaurante nie.