
Ek skryf hierdie brief in ’n Kenya Airways-straler iewers hoog bo Tanzanië. Ek is vanoggend weg uit Kisumu, Kenia, nadat ek – vir die hoeveelste keer die afgelope drie jaar – ’n week lank daar gewerk het.
Terwyl ek probeer om nie by die venster uit te kyk nie (ek ly aan hoogtevrees...) dink ek aan hoe anders Kisumu is as my grootwordplek, Pietermaritzburg. Laasgenoemde is warm, soms neerdrukkend – en dit sit, nee, dit húrk, in ’n holte.
Kisumu is vlugvoetig. Jy kan ’n bal gooi en Kisumu sal dit gaan haal. Kisumu is bedompig en groener as groen. Die lug hang so swaar dat dit tot om jou enkels daal. Dié vertraag jou voetval; dis asof Kisumu ’n manier gevind het om tyd te rem en die briek stywer te draai.
Kisumu is Kenia se binnelandse hawestad. Die Victoriameer vat ’n groot hap uit Oos-Afrika en Kisumu sprei haarself oor ’n groot deel van dié meer se varswaterkuslyn.
Kisumu “sit” of “lê” nie soos ander stede nie. ’n Mens kan sê Kaapstad sit teen die voet van Tafelberg, of dat Parys in die Vrystaat op die oewer van die Vaalrivier lê. Maar Kisumu is nie ’n statiese plek nie. Sy is woelig, sy beland onder jou voete – veral as jy haar probeer vermy.
Want jy sal sien: As jy eers een keer hier was, dan skud jy haar moeilik af. Dis juis met elke terugkeer na Kisumu wat jy besef dis nie soseer jy wat teruggekom het nie, dis Kisumu wat jou gaan haal het...
Dit gebeur só: Jy was al ’n slag hier. Jy het al die stuifmeel in die lug op jou tong geproe, en jy weet hoe ruik die brak water aan die rand van die meer. Jy het al hier iewers in ’n restaurant kerrie geëet, en brood wat na houtvuur ruik. Jy was al liggies dronkerig in Dunga Hill Camp se gesellige kroegie.
Dan gaan jy weg. Jy gaan terug huis toe: Durban, Kaapstad, Denver, waar ook al. In my geval Stellenbosch. By die huis is alles oukei. Jy’s gelukkig en minder muskiete byt jou.
Maar dan begin jy onverklaarbaar kriewelrig raak. Jy onthou die fyn skakerings van die Oos-Afrika-skemer. Jy onthou hoe gelukkig jy daar was. Saans verbeel jy jou jy hoor hoe die hiasinte teen die oewer van die meer losbreek en die golfies aanklop soos hulle moet, soos vlerke wat klap.
Dís Kisumu. Toe niemand kyk nie, het sy haar rokspant in haar vuis vasgegryp en met moddervoete die pad gevat om te draf tot reg langs jou bed. Nou kyk sy hoe jy slaap. En haar teenwoordigheid langs jou bed klim in jou kop in, in jou drome in.
Maar jy is nog nie gaan haal nie. Jy skud haar af. Jy vee die sonsondergange, die vryheid, uit jou gedagtes. Dis nie nou tyd nie.
Maar dan bel jou vriendin uit Amerika, een wat ook al in Kisumu was, saam met jou.
“Ja, ek’s terug,” sê sy.
“Hoekom?” vra jy.
“Ag, sommer. Om almal te sien.”
“Hm. Hoe is dit?” “Dis maar soos Kisumu,” sê die vriendin, wat duidelik gaan haal is, pens en pootjies. “Jy weet mos?”
Jy vermoed jy weet, maar dis nog nie tyd nie.
Maande lank bombardeer die internet-algoritme my met foto’s van die Victoriameer. Ek blaai deur die foto’s op Instagram, probeer hulle verbyskuif. Maar dan, iewers in die middel van die jaar, kan ek dinge nie meer toeskryf aan net toeval nie. Kisumu raak nou gans te voor op die wa.
Ek word genooi na troues in Kisumu. Die jaarlikse kongres wat ek bywoon en gewoonlik in Nairobi gehou word, skuif sonder waarskuwing na Kisumu. Iets belangriks – werksgewys – gebeur in Siaya en die naaste hotel wat ek kan bespreek is... in Kisumu.
Teen die tyd dat die boodskap deurkom dat ek weer ’n tyd lank in Kenia moet gaan werk, is ek glad nie verbaas dat dié werk in Kisumu is nie.
Daarom klim ek weer op ’n vliegtuig, en dan op nog een – die sinkplaatrit van ’n vlug, net ’n driekwartier lank, maar ’n foltering van formaat – van Nairobi na Kisumu. Daar klim ek uit en asem die groen bedompigheid in... en ek voel tuis. Tuis soos net ’n mens kan wees wat weet hoe lekker die lewe teen een van Afrika se groot mere kan wees.
“Jy veilig geland?” Dis die Amerikaanse vriendin – nou weer terug in Denver – wat ’n boodskap stuur.
“Ek het.” ’n Glimlaggesiggie daarby.
“Sawa,” sê die vriendin. Dis Swahili vir “als reg”.
“Hoe gaan dit met haar?” vra die vriendin wanneer ek nie dadelik antwoord nie.
“Sy was weer besig,” antwoord ek. Glimlaggesiggie.
En die vriend weet, én jy weet, dat jy nie nou praat van verkeer of ander mensgemaakte bedrywighede nie. Jy praat nie van besigheid nie; dit het niks met werk se woeker te make nie.
Wat jy bedoel, is iets wat jy nie hoef te verduidelik aan ’n vriendin wat al presies in jou plek gestaan het nie: Kisumu is ’n plek wat jou kom háál.
Hierdie artikel het oorspronklik in November 2019 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.