Twee bontvisvangers jakker kliphard vir mekaar – of vir wie ook al wil luister – terwyl hulle beurtelings water toe duik van ’n anaboomtak af wat gerieflik laag oor die Luvuvhurivier hang.

Verskuil in die luidrugtige bosklankbaan hoor ek die vrolike gesels van swartoogtiptolle, en die ge-knê-knê-knê van rooikeelbyvreters. Ek hoor die raserige roep van ’n breëbektroupant wat verbyvlieg, en die melancholiese duet van twee tropiese waterfiskale verder in die agtergrond.

Pafuri is een van die min plekke in Suid-Afrika waar ’n mens ’n tropiese waterfiskaal kan sien – en dis een van die redes waarom voëlkykers mal is oor dié piekniekplek in die noorde van die Krugerwilduin.

Skaars voëls kan hier gewaar word, selfs een van ons mees gesogte geveerdes, die visuil. Uit die appelblaar bo my tafeltjie sif die sagte, deurdringende gezoem van bye, vlieë en ander insekte. Wit vlinders vleg geruisloos deur die geruite skadu onder en tussen die bome – die appelblaar, die koorsbessies voor my op die oewer, en die enorme drieverdieping-njalaboom daarnaas.

Blouape patrolleer die terrein, swart ogies gedurig aan’ t soek na ’n swak skakel in piekniekgangers se verdediging. Hulle is geduldig. Hulle het heeldag tyd. Vyf voertuie is hier geparkeer. Ek is op my eie, maar die ander mense lyk meestal na paartjies. Op ’n tafel links van my is ’n Stanley-fles, en ’n ouerige man drink uit die staalkoppie.

Hy en sy vrou lyk doodgelukkig – Pafuri doen dit aan ’n mens. Op ’n ander tafel staan ’n bottel mayonnaise, ’n halwe pak ryskoekies en ’n ui, in die helfte gesny. ’n Oomblik later flits ’n blouaap die toneel binne, gryp ’n halwe ui en spring ligvoets in ’n boom, net-net buite bereik van ’n mens. Daar sit hy en vreet die ui asof dit Grabouw se soetste appel is.

“Dis hoekom ek dié naby hou,” sê die vrou by die Stanley-tafel, en lig ’n stok omhoog sodat die twee beroofdes by die mayonnaisetafel kan sien. Hulle lag net en eet ’n ryskoekie. Regs van my steek iemand mopaniehout aan die brand en die geurige rookreuk kom sit in my neus. Dié paartjie het pas hier aangekom, en g’n tyd vermors om braaistapel te bou nie.

Vuur aan die knetter gaan sit hulle op twee groen plastiekstoele en kyk na hulle handewerk. Anderkant die braaiplekke, half in die skadu van die njalaboom, is ’n tans grasdaklose afdak in die middel van die piekniekplek.

‘Verskuil in die luidrugtige bosklankbaan hoor ek die vrolike gesels van swartoog-tiptolle, en die ge-knê-knê-knê van rooikeelbyvreters.’

Op die sementbladvloer staan ’n groot gasbottel en ’n yskas. Die struktuur se dak sal seker binnekort weer met varsgesnyde gras bedek word. ’n Njala-ooitjie tree binne sig van onder die rivierwal, skaars tien meter voor my, met haar perfek geplaaste hoewe wat ’n versigtige paadjie trap, hoeveel keer al geloop. Die Stanley-paartjie pak nou op, en stop net op pad terug na hulle Subaru XV om hardop te vra oor ’n voël wat hulle hoor.

“Tropiese waterfiskaal!” roep die terreinopsigter en voëlkenner Mandla Ngomane. Die XV ry weg met bande wat knars op die gruis, en nou is dit net my Mahindra Pik Up wat daar staan saam met ’n VW Amarok (met ’n GoPro gemonteer aan die bopunt van ’n meter lange stok bo-op die dak...), ’n VW Polo (die braaiers se kar) en ’n Toyota Land Cruiser, pas aangekom. Die briesie tel skielik spoed op en die oop Roberts-voëlgids voor my blaai vanself van windswaels na strandlopers.

’n Sjorrie droë blare reën soos Post Toasties neer uit die njalaboom. Die mayonnaiseman bekruip ’n aap, kamera in hand. Wanneer ek oor my linkerskouer verby die badkamers kyk, sien ek twee jong njalabulle uit die bos verskyn, en dan nog twee, en ook ’n rooibokram. Na regs, deur ’n gaping in die bome, is ’n stukkie blou lug waarbinne vier, ses, agt en meer witrugaasvoëls invlieg, skerp indraai in ’n warm lugstroom, en opwaarts skiet, weg. Ek stap na waar Mandla sit en koop twee blikkies koeldrank – R13 elk – uit sy yskas.

“Wil jy ’n beloogbosbontrokkie sien?” vra hy my en ek sê ja, al het ek geen idee waarvan hy praat nie. Hy lei my verby die badkamer na waar ’n afrikageelmelkhout se digte blaredak veilige nesmaakplek bied vir die skugter beloog-bosbontrokkie. Ek is nie die enigste paparazzi op die toneel nie – Koos en Drienie van Rensburg van Centurion is ook hier met kamera en verkyker.

Mandla haal sy laserwyser uit en danksy die ligkolletjie eien ek ook later waar die nessie is. Ons wag nie lank nie. Die beloogbosbontrokkie verskyn, netjies getooi in swart en wit, en sit net lank genoeg in die oopte sodat ons haar uitspattige rooi “belogies” kan sien. ’n Rare besoeker aan hierdie rare plek.