In laasmaand se rubriek het Erika Bornman gesels oor haar verbasing toe vreemdelinge haar en twee vriendinne gehelp het nadat hulle byna die pad byster geraak het weens paaie wat verspoel het in Bredasdorp se wêreld.
En nadat ek vir dié uitgawe in die KwaZulu-Natalse Suidkus gaan kamp het, is ek dit met Erika eens. Ons lees elke dag hoe wreed en gevoelloos die mensdom kan wees, maar wanneer jy in ’n kampterrein opdaag, word die teendeel telkens bewys.
Ek het met ’n geleende wa gaan kamp en het nie ’n waterpas gehad om die outjie gelyk te trek nie. Ek moes dus half verleë by die bure gaan aanklop en sommer met die intrapslag vra om iets te leen. Mense soos Hennie en Marietjie, Chris en Cor en Barry en Cheryl het egter nie geskroom om hand by te sit nie. Hulle het sommer ook kom help om die wa tot op die regte plek te swaai en my boonop genooi vir koffie – én om later ’n vleisie op hulle vuur te kom braai. ’n Mens is dankbaar vir mense soos dié – jy kan hulle in die kampartikel ontmoet.