Mariëlle Renssen se uitstekende boek Our Top 4x4 Trips het my só besiel dat ek besluit het om daardie reis na die Tankwa-Karoo- nasionale park aan te pak. Voorheen het ek dit aanhou uitstel.

Ek het heelwat teenstrydige stories oor die omgewing gelees en wou ’n slag self sien hoe dit daar lyk. Ek het immers nog altyd daarvan gedroom om tot op die kruin van die steil Oubergpas naby Sutherland te ry.

Karoo toe

Ek vertrek met my 2002 Jeep Cherokee (Liberty) uit Durbanville, Kaapstad en vat pad in die rigting van die Bainskloofpas. Op Ceres maak ek vol met diesel en mik in die rigting van die R46. Twee bergpasse later is ek op die grondpad. Op die R356 na Sutherland skakel ek na viertrek oor, en die Jeep stuur nou net soveel veiliger om draaie en deur klipperige groewe.

Die Tracks4Africa-kaarte help baie en waarsku betyds oor veëhekke en dongas in die pad sodat ek fluks bly vorder deur hierdie eindelose, uitgestrekte wildernis wat die Khoi-San die Karoo of “land van dors” gedoop het.

Reën is skaars hier, maar as dit reën, is dit dikwels hewige donderstorms wat blitsvloede in andersins droë rivierlope veroorsaak. Dit gee ook aan die omgewing sy kenmerkende erosieverweerde voorkoms.

Karige plantegroei beskerm die grondoppervlak van die Karoo, maar dié tyd van die jaar (November) bot die botterboom: ’n miniatuurkremetart. Saam met die laatkommervygies wat hier en daar opduik, dra dit by tot die kleureprag van die veld.

Die kenmerkende dolerietkoppies van die Groot-Karoo lyk plek-plek soos die Groot Muur van China. Die harder doleriet bly agter nadat reënstorms die omringende rotse, modderklip en skalie oor ’n tydperk van eeue weggespoel het.

Lekker grondpad. ’n Deeltjie lekker grondpad lê voor aan die onderpunt van die Gannagapas. Gannaga beteken glo “plek van die kraaie”.

Uiteindelik teen Ouberg uit

Ek het al ’n uur lank geen ander voertuie gesien nie en ek kies koers in die rigting van die platorand en die Oubergpas wat in die verte lê en wag. Hier en daar herinner die sogenaamde Groot Muur, ’n reeks dolerietrotse in die vallei en die Tankwa-rivierloop, baie aan ’n mensgemaakte muur.

Volgens die hoogtemeter is ek maar sowat 400m bo seespieël terwyl ek die voetheuwels van die pas nader. Binne net 5km reik die einste pas deur talle kronkels en skerp opdraandes ’n volle 1 000m hoër.

Van die bopunt van die pas af kan ’n mens die Sederberge se Sneeukop en Tafelberg duidelik sien, sowat 100km ver in ’n westelike rigting. Op dié hoogte is die temperatuur ’n heel aangename 28°C, ’n volle vyf grade koeler as onder op die vlakte.

Op Sutherland maak ek weer vol en mik noord in die rigting van Calvinia op die R354 – ’n sinkplaatpad met droë driffies. Die landskap is een van enorme vergesigte in alle rigtings.

Voëlsang en helder sterre

Ek kom by die Jakkalsdans-gasteplaas aan waar ek vroeër plek bespreek het. Die plaas is op die oewer van die Klein-Visrivier en die rivierloop self is versteek agter ’n rietwoud waarin honderde kwetterende wewervinke, witborskanaries en baie ander geveerde spesies bly.

’n Brosjure spog met ’n 4x4-roete op die plaas en ek besluit om dit sommer dadelik aan te pak.  Die roete op die plaas is betreklik maklik en ek volg dit enduit tot waar dit in die Karoobossies verdwyn.

Later verkyk ek my behoorlik aan die sterre en sien ’n klomp gunstelinge raak.

Hier is die Suiderkruis en Orion, die stekelrige Kreef, Taurus se horings en die digte baan van die Melkweg, skitterblink met sy versiering van multikaraat diamante.

Ek is vroeg uit die vere en pak die Jeep ná ’n stewige ontbyt. Voor ek ry, stap ek vir oulaas na die rivier en bevind my midde-in ’n konsert van Karoovoëls – vernuftige klein melodieë wat ’n stadsbewoner nie aldag hoor nie. Vanuit ’n boomtop laat waai ’n janfiskaal met sy afskeidslied deur ander voëls na te maak.

In die Jeep verklap die ritrekenaar dat dit ’n frisserige 11°C is en dat ons in ’n noordwestelike rigting onderweg is.

Kort voor lank kom ek aan op Middelpos, ’n klein dorpie wat op die behoeftes van plaasboere gerig is. Die mense is vriendelik en selfs die polisiebeamptes in ’n bakkie waai. By ’n padteken wat die rigting van die Tankwa-Karoo- nasionale park aandui, swaai ek suid.

Strand toe? Die groot klomp water van die Oudebaaskraaldam in die Tankwa-Karoo- nasionale park vorm ’n kontras met die omringende woestynagtige landskap.

’n Yslike dam in ’n droë land

Op pad na die Gannagapas sien ek ’n toegegroeide tweespoorpaadjie wat na links uitdraai, maar hier is geen roetewyser of kennisgewing van ’n 4x4-roete nie.

Die Gannagapas is nogal ’n rit om oor huis toe te skryf, dié keer afdraand. ’n Paar witkruisarende bly draai bo in die lug nadat ek stilhou om foto’s van die uitsig te neem.

Aan die onderpunt van die pas maak die berge plek vir ’n stowwerige vlakte wat tot aan die horison strek en hier en daar met koppies onderbreek word. ’n Vaalribbok glip deur ’n gat in ’n heining en ’n entjie verder draf ’n swartrugjakkals oor die pad voordat dit in die bossies verdwyn.

Ná ’n lang stuk sinkplaatpad kom ek by die Tankwa-Karoo- nasionale park se administratiewe kantoor aan waar ek die bewaringstarief betaa’ en na die 4x4-roete vra. Helaas, die natuurbewaringsbeampte antwoord hulle is nog besig om die roete te maak en stel voor ek moet eerder die Langkloof-roete probeer. (Hierdie artikel het in Oktober 2011 verskyn, die park het intussen verskeie 4x4-roetes gekry, besoek gerus https://www.sanparks.org vir nog inligting).

Die Langkloofroete-roete begin as ’n gewone parkpad, maar hoe verder oos ek in die rigting van die berge ry, hoe interessanter word sake en eindelik verander die pad in ’n eersteklas 4x4-roete.

Die enigste mense wat ek tydens die rit sien, is ’n span werkers wat besig is om uitheemse plantegroei te verwyder.

Ek bly ry steeds dieper in die groen veld.

Hier en daar is die spore toegegroei met wattel, soetdoring en Euphorbia-spesies. Ek moet gevolglik maar redelik stadig ry terwyl die indringers die Jeep se verf tot my konsternasie krap.

Nuwe tonele begroet my deurgaans in die vallei. Nadat ek met ’n klipperige droë rivierloop langs kruip, kom ek skielik af op ’n ander rivier met kristalhelder water.

Ek volg die roete tot aan sy einde waar ek stilhou en te voet verder gaan.

Omdat ek nie meer op die roete hoef te fokus nie, begin sien ek skielik soveel meer raak. Hier verdwyn ’n klein duiker in die bos, daar is ’n jakkals, ’n bruinjakkalsvoël vlieg, ’n bleeksingvalk sit op die tak van ’n dooie boom en ek sien ook ’n bergwagter, fiskaallaksman en Kaapse wewervoëls.

Terug in die Jeep en op die vlakte via Maansedam, Elandsfontein en Volmoersfontein sien ek geen wild nie. Ek beweeg al dieper in ’n werklik dorre omgewing in.

’n Sterk westewind begin stofwolke op die vlaktes opskop terwyl ek koers kies na die laaste plek wat ek wil besoek: die Oudebaaskraaldam. Skielik, in die middel van die maanlandskap, lê die dam, ’n uitgestrekte stuk water.

Wanneer die Tankwa-rivier afkom, voed dit die dam wat sowat 1 000ha groot is. Die baie water en die watervoëls op die oewer staan in sterk teenstelling met die dorre omgewing.

Dis laatmiddag toe ek weer op Ceres aankom. Die swaar wolke op die berge in die omgewing voorspel dat nog ’n koue front op pad is. Eindelik kom ek met ’n lied in my hart tuis.


Hierdie artikel is verkort en het oorspronklik in WegRy #32 (Oktober 2011) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.