Ek was deel van ’n groep van vier gesinne wat in 2014 in die April-vakansie van suid na noord deur die Transkei gery het. Ons het dit baie geniet.
Die een middag was ons by Hole in the Wall en het ons gesien hoe ’n man op die strand sy waterponie op sy sleepwa probeer laai. Hy en ’n ander man het taamlik gesukkel. Intussen het die gety gedraai en was dit vinnig besig om in te kom.
Ons vier manne van Upington het uitgespring en gaan help. Ons was nog op pad na hulle toe die eerste brander onder die Fortuner deurspoel en sy linkervoorwiel wegsak in die seesand. Ons het geweet hier is nou moeilikheid!
Ons het die sleepwa eers afgehaak en die bande, wat nog op 2,5 bar was, afgeblaas. Intussen het die een brander ná die ander aangerol. Ons het vergeefs die sand voor die wiele probeer uitgrawe. Dit het gevoel of die Fortuner vasgesuig word.
Ons kon hom nie roer nie.
Gelukkig het die man se vriend in ’n 2.7 Hilux-bakkie opgedaag. Sy bande was ook nog op 2,5 bar en moes eers afgeblaas word. Hy het boonop net drie kort nylonbande gehad waarmee ons die Fortuner moes uitsleep. Dit het glad nie gewerk nie.
Die tyd het min geraak om hom daar uit te kry! Een van ons Upingtonners het teruggehardloop na ons blyplek en ’n kinetiese tou gaan haal. Dit was ons laaste hoop. Ná die derde probeerslag en met die hulp van ’n groep omstanders om die Fortuner ’n bietjie op te lig, het ons hom uit die gat getrek gekry.
Ek dink ons was meer verlig as die eienaar toe dit werk. Dit was so amper of hy het sy voertuig verloor.
- Hierdie artikel het oorspronklik in WegRy #68 (Jan-Feb 2015) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.