Deel

Leser vertel: Drie vriende trap te same

akkreditasie
Die heuwels tussen
Cathcart en Hogsback maak later plek
vir groter berge. Die kronkelende rivier
het die fietsryers gelei na hulle uitspanplek
vir die aand.
Die heuwels tussen Cathcart en Hogsback maak later plek vir groter berge. Die kronkelende rivier het die fietsryers gelei na hulle uitspanplek vir die aand.
Uit die argief: Drie vriende pak die saalsakke van hulle fietse, laat sing die speke en beleef ’n vakansie vol modderpaaie en avontuur! Hier is hulle verhaal wat in Junie 2016 in Weg verskyn het.

En buitendien – see toe is afdraande,” sluit my vriend Jacques Louw sy beskrywing af. Dis nou die roetebeskrywing van die beplande fietstoer van Queenstown af oor Hogsback tot by die kusdorpie Cintsa naby Oos-Londen.

Daardie laaste paar woorde was natuurlik spekskiet, maar dit sou ek eers later uitvind.

Vir eers was ek nog onkundig, lus vir avontuur en gretig vir die fietstoerding.

Ons is drie trappers – Jacques wat die roete so maklik-maklik aframmel, Christoff Truter wat berge kafdraf en fietse stukkend ry, en ek – die amateur, die rookie, die grootoog-saamryer.

’n Fietstoer sonder ’n ondersteunings voertuig is nie net vir opklim en trap nie. Alles wat ons die volgende vyf dae gaan nodig hê – minus ’n paar dae se kos wat ons langs die pad gaan koop – moet op ons fietse vasgemaak word. Dis soos ’n staptoer, dink ek later. Een op wiele en oor báie meer kilometers!

Nog voordat die eerste speek kon sing, besef ek daar is drie soorte fietspakkers. Dié wat net die nodigste saamneem en dit netjies in die saalsakke pak en die res op die fietsrak met rekke vasbind. Dan is daar dié wat sterk genoeg is om ’n bietjie ekstra saam te ry en dit vernuftig op die fiets stapel sodat die bonkige sakke lyk soos klein bobbejaantjies wat heel behendig aan hulle ma klou.

Daar is ook ’n derde soort fietspakker. Die een wat net soveel saamneem as eers genoemde fietspakker, maar dit laat lyk asof hy vyf mense se bagasie op sy fiets saamry. Dié soort fietspakker is ’n nuweling se redding.

Want sien, op grondpaaie skud en wikkel daardie pakkerasies só dat die fietsgeselskap kort-kort moet stop sodat álles weer losgemaak, oorgepak en stewiger vasgemaak moet word. En só kry die amateur ’n broodnodige ruskans...

^?Çóñõ
Die fietstoer van Queenstown af oor Hogsback tot by die kusdorpie Cintsa naby Oos-Londen

DAG 1: 67 KM

Queenstown na Cathcart

Ons trap die eerste paar kilometer deur die strate van Queenstown, verby die Spar om die nodige proviand te koop, en toe suidwaarts Cathcart toe. Die toer sou hoofsaaklik grondpaaie volg.

Die pad uit Queenstown is stampvol mense en taxi’s en rommel en waterplasse en luidsprekers waaruit musiek bulder. My Afrika-hart klop warm vir dié geroesemoes, maar ons moet ons storie ken om dié miernes sonder enige beseerdes – of self as beseerde – te verlaat.

Uiteindelik verdwyn die netjiese grondpad oor ’n heuwel voor ons. Binne ’n paar kilometre besef ek skoonbly en fietstoer is so ver verwyder van mekaar soos Ackermans en Versace.

Dis vet pret toe ons voorwiele tydens een lang afdraande klontjies modder in ons gesigte spat. Met ons monde toe en oë op skrefies ry ons lag-lag tot onder, en toe lag ons éérs. Ons lyk soos siekes wat ’n soort moddermasels onder lede het. Waar die Wet Wipes nie al die modder kon afvee nie, was die reën dit later af.

Die laaste ent tot op Cathcart is teerpad.

’n Verligting ná 45 km se grondpad, sou ’n mens dink. Maar Hobbs Hill lê vir ons voor. ’n Pas wat soos ’n lui kat uitgestrek lê en bitterstadig, steil en pynlik tot ’n einde kom.

DAG 2: 37 KM

Cathcart na iewers langs ’n rivier

Vroegoggend begin die wiele rol in Hogsback se rigting. Die landskap is gemaak van groen koppies, lang, dun populiere en beeste wat stadig opkyk wanneer ons verbyry.

Die grondpad tussen Cathcart en Hogsback blyk ’n gewilde roete te wees vir vakansiegangers.

Kort-kort gee iemand ’n vriendelike toet in die verbyry. Soos die vorige dag ruim ons genoeg tyd in om bene te rek en te eet. Christoff laat voel ons soos vyfsterhotelgaste in die oop veld met sy Kovea-stofie... Ons diep koffie en hawermoutkoekies, appels en kaas uit ons saalsakke op. En eet later die middag gisteraand se pasta-en-polonie.

Ons mengsel van neute, Smarties, rosyne en Liquorice All Sorts sorg tussendeur vir die nodige energie. Stappers noem dit gorp, en dié happies word hande vol maag toe gestuur voordat ons ’n groot bult aandurf.

Nog voordat ons Hogsback bereik, ry ons oor ’n rivier wat verby ’n klompie akkerbome verbyvloei. Dit is die perfekte plek om af te saal en kamp op te slaan. Christoff bied aan om sy saalsakke af te haak en vir die boer toestemming te gaan vra. Die ouens laat die rivier die dag se sweet afwas, maar ek was gans te koulik – Wet Wipes doen mos ook die ding.

Hogsback

Ons kom vroegmiddag op Hogsback aan. Op dié woudryke dorpie kan fietsryers vir maande besig bly. Hier is enkelspoorpaadjies en watervalle, plantasies en grondpaaie. En goeie restaurante, lekker blyplek en gerieflike kampplekke.

Ons skep asem by die Swallowtail-kampterrein ( 045 962 1317; swallowtail.co.za), en rus uit vir die volgende dag se rit na die Isidenge-plantasie.

^?Çóñõ
Dís hoe ’n mens uitspan ná ’n dag se ry. Die rivier se gekabbel sorg dat jy rustig aan die slaap raak.

DAG 4: 66 KM

Hogsback na Isidenge-bosboustasie

Die grondpad wat by die Hogsback Inn afdraai, lei ons deur plantasies en inheemse woude. Die pad is by tye stamperig en klipperig. Die boomreuse wat stil toekyk, laat voel die rit effe sagter.

’n Mens kan nie help om in verwondering te staan voor dié indrukwekkende blaardraers nie.

Anderkant die plantasie ry ons nog ’n paar kilometers verby ’n uitgespreide nedersetting, die Sandiledam en Keiskammahoek – die grootste dorp in dié geweste.

Dis ’n warm dag, en die kafee met sy halwe brode en groot pakke mieliemeel het gelukkig yskoue Cokes. Nuuskierige verbygangers vra uit oor ons roete. Toe ons verduidelik dat ons na die Isidenge-bosboustasie toe gaan, knik een ou begrypend en hou sy hand in ’n amperse saluut.

“Dis baie steil soontoe,” sê daai hand.

“Ag, nog ’n opdraandetjie,” dink ek en klim op my fiets – agter Jacques en Christoff aan. En só begin die taaiste 15 km van my lewe. Die pas kronkel en draai, kronkel en draai. En om elke draai dink ek: dáár moet die afdraande weer begin.

Maar my hoop word telkemale verpletter. Terwyl die sonbesies skreeu en die son wit op die grondpad neerbrand, bereik ek die grense van my fisieke vermoëns. En toe ry ek nóg ’n paar kronkels en draaie. Die woorde van Christoff eggo in my kop: “Jy het geen idee waartoe jy in staat is nie.”

Toe ek ná die soveelste draai die afdraande doer ver gewaar, bars ek spontaan in trane uit.

Ek is klaar. My grense is verskuif. Hierdie verskuiwing sal ek altyd in my kop en in my hart saamdra. En dit vir ’n volgende keer bêre.

DAG 5: 43 KM

Isidenge-bosboustasie na Wriggleswadedam

Ons trek weg by die inspekteurshuisie van die Isidenge-bosboustasie waar ons gisteraand geslaap het. Ons roete bestaan uit tweespoorpaadjies verby velde met beeste wat wei, ente teerpad met geen skouers vir fietse nie, en steil modderige grondpaaie tussen wildkampe en plase deur.

’n Paar kilometer voor die Wriggleswadedam trek die mis soos ’n sluier oor ons, maar ons trap voort tot by die waterrand.

Die een oomblik bak ons in die son op die oewer, en maak middagete van brood en tjips wat ons by ’n huiswinkel langs die pad gekoop het, en die volgende oomblik sif die reën oor ons neer.

Dis egter perfekte visvangweer. Só blyk dit uit die ry kleurryke tente en woonwaens in die Wriggleswadedam-woonwapark. Ons is baie dankbaar dat ons nie ons tentjies in die sifreën hoef op te slaan nie. ’n Vissermanwoonwa is ons oornagplek.

En al drup die reën deur die skadunet vol gate waaronder ons ons mieliepap en sojamaalvleis gaarmaak. En al is ons klere deurnat. En al ruik die woonwa nie te fris nie, is ons dankbaar. Dankbaar vir ’n droë slaapplek.

Dankbaar vir warm kos. Dankbaar (al het ons dit nie hardop gesê nie) dat ons die volgende dag in die pylvak sou wees.

DAG 6: 102 KM

Wriggleswadedam na Cintsa

My hart sing saam met die speke en die klippies wat my bergfiets se wiele tref. Soos Jacques dit stel: “Dié perd ruik nou stal.” Ons is op pad see toe! En teen dié tyd is ons bene so sterk dat ons ’n Boeing kan kick-start.

Met die seelug wat ons nader wink, durf ons die laaste 90 km met hernude energie aan.

Ons is ’n bietjie spyt dat die avontuur tot ’n einde moes kom, maar gelukkig en tevrede om te weet dat die saalsakke van ons lewe nou gevul is met kosbare ervarings, kameraadskap en nuwe grense.

^?Çóñõ
Die beeste wat hulle langs die tweespoorpaadjies gesien het, het hulle maar min aan die groep gesteur.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #140 (Junie 2016) verskyn. Feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.