Deel

Leser vertel: Kenia se ánder bielie

akkreditasie
’n Groep klimmers op Berg Kenia. Foto: Gettyimages.com
’n Groep klimmers op Berg Kenia. Foto: Gettyimages.com
Uit die argief: In 2007 het ’n groepie Suid-Afrikaanse stappers Berg Kenia, Afrika se naashoogste berg, oor agt dae geklim en verken.

Mich Veldman se vertelling van hulle groep se epiese tog het in Augustus 2007 in Weg verskyn. 

Die vliegtuig nader ’n sopnat aanloopbaan buite Nairobi. Daar hang reën- en miswolke oor die omliggende heuwels. My eerste gedagte is: Wat gaan die weer oor die volgende paar dae doen? Dis maar altyd een van ’n stapper se bekommernisse. 

Ons is nege Suid-Afrikaners wat berg Kenia, noord van die ewenaar in Kenia se sentrale hoogland, gaan aanpak. Naas Kilimandjaro is dit teen 5 199 m Afrika se hoogste berg. 

Ons ry Nairobi binne en verkyk ons aan die stad. Om ons krioel dit van voertuie met eienaardige nommerplate: KAN, KAT en... ja, gebruik maar jou verbeelding. 

Dis ’n ander wêreld, maar onmiskenbaar Afrika. 

Berg Kenia
Teen die hange van berg Kenia. Foto: Gettyimages.com

Dag 1: Hier gaat ons… 

Hulle sê dis makliker om berg Kenia uit te klim as Kilimandjaro, maar dis steeds die berg met die meeste aangetekende gevalle van hoogtesiekte ter wêreld! 

Ons wil op die Sirimon-roete aan die westekant van die berg tot op Lenanapiek klim. Teen 4 985 m is dit op twee na berg Kenia se hoogste punt, maar die tweelingpieke Batian en Nelion kan net deur ervare rots- en ysklimmers bereik word. 

Ons vertrek vroegoggend met ’n bussie van die Jacaranda-hotel af. 

Omtrent 130 km noord van Nairobi steek ons die ewenaar by die dorpie Nanyuki oor, en die sneeubedekte pieke in die verte kom vinnig nader. 

Uiteindelik is ons by die Sirimonhek, die beginpunt van ons staproete. Hier ontmoet ons vir Elias Githinji, ons gids, die twee kokke, Bernard en Christopher, en die portiere. 

Ons begin stap deur pragtige woudagtige plantegroei en sien swart-en-wit kolobusape, loeries, suikerbekkies en mosbedekte bome met welige oumansbaard. Plek-plek lê olifant- en buffelmis. 

Laatmiddag bereik ons die rand van die woud waar die fynbos begin. Ons stap tot by die Old Moses-kamp, sowat 3 340 m bo seespieël. Die kokke maak vir ons warm sop en ons lê behoorlik weg. 

Summit of Mount Kenya, seen from Shipton Camp. In
Die spits van Berg Kenia, gesien vanaf Shipton’s Camp. Foto: Gettyimages.com

Dag 2: Sneeu en senecio’s

Die berglug byt nog toe ons vroegoggend deur die fynbos begin stap. Ál geselsende leer ons mekaar ken. 

Ons is ’n interessante groep – van ’n Matiestudent tot ’n pensioentrekker in haar sewentigs, ’n fisioterapeut, ortotis, melkboer, oogarts, oudonderwyser, apteker en algemene praktisyn. Die groep verteenwoordig Suid-Afrika van Swellendam in die suide tot by Modimolle in die noorde. 

Die plantegroei raak ál yler namate ons hoër klim. Ons sien verskeie pragtige lobelia-spesies. Hulle aard goed in die dun, droë lug op dié hoogte en word glo tot 6 m hoog. 

Net voor middagete steek ons die laaste rant van die dag oor en stap die MacKindervallei binne. Ons volg ’n steil pad al langs die Likistroom op en vleg deur senecio’s, nog ’n tipiese hooglandplant wat lyk soos ’n halfmens met uitgestrekte arms. 

Die sneeupieke raak ál meer indrukwekkend terwyl ons die oornagplek, Shipton’s Camp, nader. 

As jy lus voel om so effens af te spoel, gee die vriendelike kombuispersoneel vir jou ’n kommetjie warm water. Snaaks genoeg, hoe hoër jy klim, hoe minder het jy die behoefte aan alledaagse dinge soos om te was. 

Ons slaap diep op dubbelslaapbanke, 4 230 m bo seespieël. 

Dag 3: Eet hom soos ’n mielie 

Vandag begin met ’n stewige opdraande. Ons moet oor die Hausberg Col, 4 640 m bo seespieël, stap. 

Ons word gemaan om stadig te stap, anders kry jy hoogtesiekte. Jy pak die opdraande soos jy ’n mielie eet, happie vir happie, tree vir tree. 

Uiteindelik beur ons oor die laaste steiltes. Voor ons lê gletsermere met ’n eienaardige blougroen kleur. 

Ons eet middagete langs een van dié mere. Die tafeldoek met rooi blokkies op die oewer, die weerkaatsing van ’n piek in die kalm water daaragter... prentjiemooi. ’n Mens kan nie anders nie as om lekker te eet op so ’n spesiale plek. 

Dag 4: ’n Maltrap Tsjeg

Ons word wakker in die Teleki Valley Lodge. Die hoofspitse van berg Kenia, Batian en Nelion, troon hemelhoog die lug in. Hulle voetheuwels is oortrek met honderde senecio’s, ’n vreemde gesig. 

Elias, ons gids, wys vir ons hoe die gletsers teen die berg die afgelope dekades gesmelt het, glo weens aardverwarming. 

’n Bergfietsryer kom van voor af met ’n stofstreep teen die berghang af en stop om te gesels. Dis ’n Tsjeg wat soveel as moontlik berge reg oor die wêreld met sy fiets wil oor om eendag ’n boek daaroor te skryf. 

As jy lus voel om so effens af te spoel, gee die vriendelike kombuispersoneel vir jou ’n kommetjie warm water. Snaaks genoeg, hoe hoër jy klim, hoe minder het jy die behoefte aan alledaagse dinge soos om te was.

Hoër teen die berg word die sneeu geleidelik meer, en toe ons teen die middag by ons oornaghut kom, lyk dit soos Switserland. 

Ons verken die indrukwekkende Lewis-gletser. ’n Paar rotsklimmers steek dié gletser versigtig oor en van ver af lyk hulle soos miere op ’n rugbyveld van ys. 

Agter die hutte van die Oostenrykkamp glim ons mikpunt in die middagson – Lenanapiek. 

Photo taken in Nanyuki, Kenya
Vulkaniese rotsformasies by Lenanapiek. Foto: Gettyimages.com

Dag 5: ’n Onvergeetlike uitsig

In die lig van ons koplampe knars die ys en klippe onder ons stewels terwyl ons hygend in die donker die laaste skof bergop aanpak. Die mikpunt van ’n staptoer wat vyf dae gelede in ’n tropiese woud begin het, is binne bereik. 

Bo ons, teen 4 985 m bo seespieël, is die spits van Lenanapiek by tye sigbaar. Stadig verdryf die eerste oggendlig die donkerte. 

Ons loop oor skitterwit sneeu om ’n laaste draai en dan sien ons dit! 

Ons klim binne ’n uur die laaste 195 m tot bo. Nege dankbare Suid-Afrikaners omhels mekaar. Ons kyk verwonderd rond, tot daar waar Kilimandjaro se sneeuspits 300 km suidwaarts deur die wolke steek. 

In die vroegoggendson word die landsvlag oopgerol en ’n Duitser neem ons groepfoto in die geel oggendlig. Die uitsig van Lenanapiek af is onvergeetlik. 

Van hier af loop die pad afdraande oor die laaste sneeuvelde. Dis glo nog so drie uur se stap tot by die hut. Elkeen hou hom besig met sy of haar eie gedagtes. Ons is diep getref deur die ervaring en dra dit saam in ons harte huis toe.

Ek dink aan P.J. Schoeman se woorde: “Herinnering, mooi herinneringe is mos die brandhout vir die lang winternagte wat vir elkeen van ons op die ver paaie van die lewe wag.” 

Vanaand slaap ons in tente by Mintoshut se kamp. Net voor ek my oë sluit, dink ek weer aan die besonderse uitsig wat ons vanmiddag oor die Gorgesvallei gehad het. 

Dag 6: Afdraande deur die Gorgesvallei 

Vandag stap ons afdraande deur die pragtige Gorgesvallei met die Michaelsonmeer en Vivienne-waterval. 

Dit raak al hoe makliker om asem te haal in die suurstofryke lug. 

Langs die pad ontmoet ons ’n Amerikaanse kameraman met ’n groep jong vroueklimmers wat in een maand tot op Kilimandjaro, berg Kenia en Meru wil klim en dit as deel van ’n geldinsamelingsprojek vir natuurbewaring wil verfilm. 

Die berg verander weer in ’n plantparadys met vuurpyle en allerhande boomsoorte. Ons eet middagete langs ’n bergstroom. Dis omtrent lekker om ná dae sonder was weer jou lyf in verfrissende water te kan afspoel. 

Ons slaap vanaand in Specialkamp, in die woud vol groot ou bome wat met mos oortrek is. Die naggeluide klink soos Afrika. 

Berg Kenia
Oostenrykhut was die groep se laaste oornagplek voordat hulle die volgende oggend Lenanapiek (op die agtergrond) sou aandurf.

Dag 7: Kampvuurgesange 

Ons drentel rustig die kort entjie deur die woud tot by Sirimon, ’n kamp met warm storte. Almal skop eerste hulle stewels uit. Heerlik kaalvoet en met ’n Tusker-bier in die hand kyk ons terug bergop… 

Vanaand sê ons dankie aan die draers wat so deel van elke dag geword het. Die vriendelike gesigte het weldra name gekry: James, Petronella, Sammy… 

Mense noord en suid van die ewenaar het ’n ent pad saamgeloop, skouers geskuur en mekaar verryk. 

Dag 8: Huis toe 

Ons loop vir oulaas met ’n kronkelpad deur ’n digte woud, so twee, drie kilometer deur ’n bamboesgordel en dan deur diep modder tot waar die Land Rovers op ons wag. 

Op pad terug na Nairobi kreun en skommel die voertuie. Hulle gly en hel oor, maar ons sit rustig. Ons het klaar gestap. 

Die volgende middag, terwyl ons al langs die Malawimeer huis toe vlieg, verkyk ek my aan die donderwolke wat in die meer se water weerkaats en dink stilweg: Ons is kinders van Afrika, onlosmaaklik verbind aan hierdie vasteland. 


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg # 34 (Augustus 2007) verskyn. Feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.
Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons ook op Instagram en Facebook