In November kan die kwik by 40° C gaan draai, vertel die leser Chris van der Merwe, maar hulle groep het besluit dis net die tyd om leeus in Mabua te gaan soek en seker te maak daar is wel leeus! 

Deur die jare het my vriend Jan Draaitjies ’n probleem met Mabua se leeus opgetel want met sy vorige vyf besoeke het hy en sy vrou, Marina, nie een keer leeus gesien nie. Hy het voorgestel ons gaan soek wéér leeus. 

Dag 1:  Zeerust na Mabuasehube

Ons het die grens na Botswana by die Skilpadhek-grenspos oorgesteek oppad na Mabua toe. Mabuasehube is deel van die Kgalagadi-oorgrenspark en aan die Botswana-kant van die kamp. Ons slaap die eerste aand by Mabua-pan.  

Dag 2: Mabua-pan na Lesholoago-pan

Van ons kampplek af was die uitsig oor Mabua-pan onbelemmerd. Mabuasehube is ’n groot plek, omtrent 2 000 km² (dis groter as die hele Johannesburg, Soweto ingesluit), met verskeie panne en ons het net vyf dae gehad om die leeus te soek.

Hier is beslis leeus. Ons het hulle spore die vorige dag naby die hoofhek gekry, volgens die afdrukke ’n mooi troppie wyfies met kleintjies. Dis ’n goeie teken.

Ons het noordoos na Lesholoago-pan gery, sowat 12 km van Mabua af. 

Dag 3: Lesholoago-pan na Mokgalo-pan

Die volgende dag het ons ’n lekker wye draai gery om die omgewing te verken en die voertuigbatterye te herlaai. As jy Mabua besoek, moet jy álles saamneem. Daar is niks – geen winkels, vulstasies of slaghuise nie. Selfs jou vuurmaakhout moet saamgery word. 

Water is ook skaars en al is daar by meeste kampplekke water, is dit nie altyd drinkbaar nie en soms is daar geen water nie. 

Ons het in die rigting van Mokgalo-pan gery. Die dag was windstil en die temperature het vroeg-vroeg begin klim maar geen leeus nie, nie eers spore nie.  

Ná aandete by ons nuwe kampplek merk ons die wolkbank en bliksemstrale begin onophoudelik oor die breedte van ’n wolkmassa speel. Ons is deur ’n regte Kalahari-donderstorm getref.

Dag 4: Lesholoago-pan na Mpayathutlwa-pan

Ná die vorige nag se storm het die veld heerlik vars geruik en het die lug blou geskyn. ’n Hiëna het in die nag kom kuier, maar steeds geen leeus nie. Nie eers naby die drinkgat nie.

Ons het rustig kamp opgeslaan.

Die plan was om via Khiding-pan na Mpayathutlwa-pan te reis en ’n ligte middagete by Khiding-pan te eet. 

Laatmiddag het ons ’n draai om die pan gery toe een van ons groeplede in ’n ander kar oor die radio skree ons moet kom, daar is leeus. 

Ons voertuig, en ongelukkig Jan Draaitjies s’n ook, was net betyds om die leeu se stert in die bosse te sien verdwyn. 

Ons is teleurgesteld terug kamp toe. Ná skaars ’n halfuur in die kamp, het ek weer ’n draai gaan ry. Ek het die gebied waar hulle laas was gefynkam maar kon niks kry nie behalwe die spoor van die mannetjie waar die ander hom laas gesien het. 

Ek het sy spoor gevolg tot waar dit in die swarthakbosse verdwyn het en hier die voertuig afgeskakel en aandagtig geluister. Ná sowat 20 minute het ek die onmiskenbare gebrom van ’n leeumannetjie gehoor. 

Ek het ’n halwe voertuiglengte vorentoe beweeg en die mannetjie en wyfie gevind waar hulle in ’n oop kol tussen die swarthakbosse lê. 

Ek het die ander twee voertuie oor die radio geroep en ons het die laaste stukkie sonlig saam met die twee leeus geniet. 

Die aand het ons in die amperse volmaan geluister hoe die leeus aanhoudend brul.

Dag 5: Mpayathutlwa-pan

Ek het vroegoggend gaan loer of die leeus nog daar was, maar het hulle spore naby ’n kalkklipbank verloor. Die res van die dag het almal gedoen wat hulle wou. 

Die temperatuur was weer in die veertigs, maar daar het darem ’n briesie geroer. 

Dag 6: Mpayathutlwa-pan

Op elke toer is daar ’n voorval. En ons s’n het op hierdie dag plaasgevind. My raad aan medetoerlede is altyd om hande te klap en ’n kabaal op te skop as jy die “geriewe” wil gebruik. Dit lyk dalk snaaks maar dit waarsku ’n niksvermoedende leeu of luiperd wat dalk lê en slaap op die koel betonvloer dat jy op pad is.

Die oggend het een van ons lede die puttoilet besoek en van hierdie goue reël vergeet. Hy was al gereed om die gerief te gebruik toe hy skielik ’n gekrap van naels en ’n helse lawaai hoor. 

Die volgende oomblik het ’n gedoente met die spoed van wit lig uit die puttoilet se gat gevlieg. ’n Uil het skuiling in die toilet gesoek. 
Daar was steeds geen teken van leeus nie.

Hoewel die temperature deur die loop van die dag diep in die 40’s was, het dit saans lekker afgekoel. 

Op ons laaste aand in Mabua was die maan vol en die hele wêreld om ons was helder verlig. 

Nie lank nadat ons gaan lê het nie, het ons die eerste kragtige brul gehoor, sommer naby. Die leeus was terug. Hulle was reg rondom die kamp en het die hele nag lank gebrul. Ons het nie veel geslaap nie, maar ook nie veel omgegee nie. Dis mos hoekom ons gekom het. 

Dag 7: Mpayathutlwa-pan na Piet Plessis

Ondanks die brullery was ek die volgende oggend vroeg uit die vere. Ek het die daktent so stil as moontlik afgeslaan en saggies uitgery. Die leeuspore het tot by ons kamp geloop, maar dan weer weggedraai. 

Die son het pas sy kop uitgesteek toe ek drie mannetjies en ’n wyfie gewaar. Een van die mannetjies was mank en dit was duidelik dat daar ’n groot skermutseling onder die manne was om die wyfie se guns te wen. 

Twee mannetjies het tussen die stort en kampplek 1 se afdak op ’n oop kol sand gelê, terwyl ’n paartjie ’n ent voor kampplek 1 se afdak in die oopte was. 

Met tussenposes het al die mannetjies water by die stort se afloop gaan drink. In ’n stadium het een van die mannetjies met sy lang lyf selfs binne-in die stort geklim om die lekkende water beter by te kom. Dis hoekom ’n mens nie vroegoggend stort in die Kalahari nie, het ek gedink.  

Ons het net weer besef hoe groot ’n volwasse Kalahari-leeu werklik is. ’n Mannetjie se skouers staan tot 1,2 meter hoog en hy kan tot 225 kg weeg. 

En só is Jan Draaitjies se leeudroogte op hierdie toer uiteindelik gebreek.


Hierdie artikel het oorsponklik op 14 November 2016 op ons webwerf verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon sedertdien verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.