Ek het jare lank in Afrika gereis en altyd probeer om so ver moontlik van teerpaaie af te bly.

Jare gelede is ek op pad na Dar es Salaam, al langs die kus van Mosambiek en Tanzanië op. Ek was nie haastig nie – ’n mens is nooit haastig in ’n 1957 Landie nie.

In Caia aangekom, wou ek die Zambezi oorsteek met ’n veerboot. Maar ’n lang tou vragmotors het by die veerboot gewag. Niks het beweeg nie. Ek het onraad vermoed, want verskeie kleiner voertuie het van voor af gekom, by my verbygery en padgegee. Ek ry toe by al die vragmotors verby tot aan die voorpunt van die tou. Van nuuskierigheid is die tronk mos vol en die kerk leeg. Daar kry ek ’n poliesman, wat homself ook as verkeersbeampte, rangeerder en onderhandelaar aangestel het.

Ek kom gou agter hy beskou my maneuver verby al die vragmotors as ’n groot misdaad. Dit het veral duidelik geword dat ek ’n uitstekende kans het om baie geld te verloor.

As ek in Afrika onseker voel, hou ek my gewoonlik maar dom. En bruikbaar. Ek weet van enjins en voor my in die pad lê juis ’n groot hoop enjinparte. In die water lê die ou veerboot stil en verbete en roes. Ek vra dadelik of ek kan help.

Die polisieman verduidelik die veerboot het twee enjins. Die een is in Beira, vir herstelwerk, en die ander een is nou ook stukkend (dis die hoop parte in die oliepoel voor my voete). Ek kon sien die krukas is in twee gebreek. Daaraan kan jy nie veel doen nie.

Maar, sê hy, hulle het gereedskap nodig want die ander enjin daag die volgende oggend op. Nou ja, ek het ’n Landie vol gereedskap en ek vat die kans.

Die moontlike boete van vroeër word summier afgelag en terwyl almal oorval is deur vriendelikheid reël ek sommer ’n geleentheid vir die Landie (en vir my) op die eerste vaart wat weer uitgaan. As dit pap reën, moet jy skep.

Ons staan nog so toe een van daai 4x4 Volkswagen Kombi’s daar opdaag – die sogenaamde Caravelle Syncro. Binnein is ene John en Ann. Die polisieman wil sommer vir John ook beboet, maar ek oortuig hom gou John-hulle ry saam met my. Die twee is op pad terug Londen toe en Ann is bietjie moerig oor die veerboot wat stukkend is.

Boonop is al die verblyf in Caia volbespreek vir die aand. Vir ’n minimale bedrag huur ons die veelsydige polisieman as veiligheidswag en slaan net daar langs die pad kamp op.

Douvoordag die volgende oggend word ons wakker van ’n groot gejuig toe ’n bakkie daar aankom met ’n groot enjin agterop. 

Met die hulp van ’n paar uitgeruste vragmotorbestuurders en my gereedskap het ons die enjin voor middagete op die veerboot gemonteer. Hy’s reg vir werk.

En alles werk mooi. Dit bekommer my. Die veerboot sou die vragmotor wat reeds opgelaai was oor die rivier neem, anderkant ’n ander een laai en terugkom.

Dan was dit my en John se beurt. Maar helaas, dit het nie gebeur nie.

Net so ’n derde oor die rivier is daar ’n knal, ’n groot bol swart rook en toe stilte. Die enjin het gekalf. Die veerboot met sy vrag het stilweg al met die Zambezi afgedryf in die rigting van die Indiese Oseaan. ’n Paar manne het al langs die oewer gehardloop en vergeefs instruksies geskree.

Die polisieman het plegtig verklaar dat daar nou ’n probleem was. Die geluk by die ongeluk was dat ek toe geen rede meer gehad het om myself te bekommer nie. Maar Ann het begin mompel. Ek was nie lus om binneland toe te ry, by Mutarara met ’n brug oor die rivier te gaan en deur Malawi te ry nie. Ek wou kuslangs. Die polisieman vertel ons toe van ’n pont naby Luabo, see se kant toe.

Ons vat toe die tweespoor waarheen die polisieman beduie het op pad na Luabo. Teen laatmiddag stel ek voor ons kry ’n plek om te kamp. Teen daai tyd het ek al ’n hele paar landmynwaarskuwings gesien en ek besluit ons moet maar reg in die pad kamp, met die tente tussen die voertuie. Ann, wat sekerlik nog nooit verder van ’n haardroër af was as wat jy ’n haardroër kan gooi nie, het ook liggies begin grom en John moes bontstaan.

Later die aand het ’n verslete bakkie ons wakker getoet. Hy wou verby. Ek het beduie dat hy maar gerus om ons kon ry siende dat daar plek was, maar hy het geweier en ook besluit om net daar te slaap.

Toe weet ek: die landmynbordjies is nie vir die show nie.

Opgepak, en ná ’n lang gesoek, kry ons toe die pont. Dit was ’n houtplatform op ’n klomp dromme – ’n vlot aan ’n lang tou oor die rivier. Die vier wiele wat onderstebo uit die water gesteek het, net hier by die kontrepsie, het geen illusies oor die veiligheid van die operasie gelaat nie.

’n Oorlaaide vragmotor, het die operateur gebrom. Nietemin, met die Landie en die Kombi bo-op, was dit nie té onstabiel nie.

Omtrent ses manne het hard gespook om die vaartuig van die wal af te stoot. Toe  ons in die middel van die rivier kom is die stroom so sterk dat die pont se toue soos ’n kitaar se snaar span. Ek het maar net bly hoop dat die groot veerboot met die stukkende enjin nie juis op daai stadium om die draai stroomop verskyn nie ...

Toe ons omtrent 60 m van die oorkantste oewer af is, gaan sit die pont op ’n sandbank. Die manne wat die pont bedryf, beduie dat dit te vlak was vir die pont om te dryf, en hulle het aanbeveel ons moet ons voertuie net daar afry.

Ann het begin gil.

Ek kyk toe of ek krokodille kan sien en spring in om die diepte te toets en te kyk wat die geskikste roete sou wees tot by die oewer. Daar was nie ’n geskikte roete nie en die water het my tot reg onder die kieliebakkies gevat.

Ek sê toe vir die pontmanne dat hulle ons moet terugvat en verduidelik aan John en Ann dat die lang Malawi-ompad die beste roete sou wees. Toe begin John ook gil.

Die pontbestuurder verduidelik aan my dat hulle regtig vassit en nie kan terug nie.

Ten minste een voertuig sou moes af.

Ek sê toe aan die pontbestuurder dat hulle net meer mannekrag moet inspan.

Hy weier toe.

Skaakmat.

Dit het begin donker word. Die pontmanne het ’n roeiboot nader geroep en ons net daar gelos.

Aanvanklik het ek gedink hulle gaan nog mannekrag haal, maar later besef dat die pont ons kamplek sou wees vir die aand – eintlik vir so lank as wat daar voertuie op hom staan.

Die reënseisoen was op ’n einde en die Zambezi sou nie gou voller raak om ons van die sandbank af te lig nie.

Ann het nou stil geraak. Gevaarlik stil.

Met die roep van ’n visarend het ek die volgende oggend wakker geword en aan ’n baie bedeesde John en Ann verduidelik dat ek maar die kans gaan vat deur my Landie van die pont af te jaag.

Tot my verbasing sê Ann toe dat sy en John saamkom.

Ek het my wenaskabel uitgekatrol tot op sy einde. Ek het met die punt daarvan in die water gespring en geloop sover ek kon en die haak aan ’n stok gehaak wat ek in die modder gedruk het, net om sy posisie te merk.

Ek het die Landie ge-start, in eerste rat gesit en die versnelpedaal plat teen die vloer getrap.

’n Landie kan nie vlieg nie. Hy het neus eerste die water ingeduik en toe was dit ’n groot bruin modderwatergemors. Wonder bo wonder was die enjin nog hard aan die skree!

Die wiele het êrens vastrap gevind en ek het gevoel dinge beweeg… vorentoe. Daar was baie water in die kajuit.

Ek het dit verby my stok met die wenaskabel gemaak en was amper op droë grond toe die Landie in die modder vassit.

Ek het die deur oopgemaak en die water het uitgestroom, net soos in strokiesprentjies, behalwe dat daar nie visse in die water was nie. Ek kon toe die wenaskabel aan ’n boom vasmaak en myself tot op droë grond winch. Ek het die Landie omgedraai en met die wenaskabel ingestap pont toe om John se Kombi te haak, maar ons moes bietjie van die pontman se tou leen om te kon bykom.

Aangesien ’n Kombi se enjin heel laag sit, het ek aan John verduidelik dat hy maar moes afsluit sodra hy die water tref, dan haak en sleep ons hom met die wenas.

John kon ’n bietjie meer spoed as ek opbou en ’n Kombi kan verbasend ver vlieg. Hy land toe amper bo-op my en ek was verras om te sien dat ’n Kombi ook ’n boot is – die ding kon nogal goed dryf.

Ons het John op droë grond gekry en sy enjin kon met die eerste slag aan die gang kom. Ek is daarvandaan na Chinde toe, maar John en Ann het besluit om die afstand tussen my en hulle so vinnig as moontlik te vergroot.

’n Paar dae later het ek in Quelimane die wit melkskommel uit die Landie se ratkas en ewenaars vervang met olie. ’n Maand daarna het ek met ’n Hollandse paartjie in Pemba gesels en hulle het my vertel van ’n Ann wat ’n John sak en pak gelos het in Pemba. Sy’s glo op ’n vliegtuig daar weg Londen toe.

Ek is jammer, John, ek moes jou gewaarsku het om my nie te volg nie, want ek ry ompad, nie kortpad nie…


Hierdie artikel het oorspronklik in Wegry (Augustus 2011) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.