Ek sit in ’n motor wat eens op ’n tyd diep donkerblou was – blou soos die horison net ná sonsondergang. Die radio blêr ’n storie van verraad uit: ’n Ou bel sy buurman om hom in te lig dat iemand pas met sy (die buurman) se kar weggery het. “Kom ons sit hom agterna!” stel die besorgde beller voor. Maar dan ontknoop die verhaal: Dis nie ’n diefstal nie, maar ’n advertensie vir tweedehandse motors. En dit laat my ril.

Die enigste logiese opsie is om dié verbleikte blou droom van ’n kar ook te verkoop. Ek is nie meganies aangelê nie en rygoed van ’n sekere ouderdom het raakvathande (of ’n miljoenêr se tjekboek) nodig om elke hik en hyg akkuraat te diagnoseer. Die kar is vervaardig in die jaar toe die Twin Towers geval het. Doerietyd, toe Julius Malema nog met studentepolitiek bemoeid was. Hoe lank is twintig jaar in karjare? As die Blou Droom ’n hond was, was hy nou al bokveld toe.

En tog het dié bejaarde Franse luikrug, ’n 1.6 liter Renault Megane Expression, steeds ’n bietjie woema in haar. Ná ’n leeftyd van Kaapse straatparkering dop die verf af soos die vel op ’n sonverbrande skeen; sy’t alkant ’n lang krapmerk – dis óf onbewustelik aangebring deur ’n hawelose wat sy trollie vol herwinbare rommel te na aan die kar verbygestoot het, óf die opsetlike werk van ’n onbekende vyand. Sommige van die bure voel seker dit doen afbreuk aan ons straat wat – buiten my skedonk – vol oulike Polo’s en astrante Subaru’s staan. Maar ek glo die Blou Droom se letsels is, soos plooie, getuienis van tallose avonture.

Dit was die arme dame se lot om by ’n platsak vryskutskrywer eerder as ’n hogere geletterde te beland – vandaar die gebrek aan kosmetiese versorging. Ek het darem altyd seker gemaak haar tenk bly vol en sy’s getrou op datum gediens. Daar’s nie ’n onderdeel in haar enjin waarvoor ek my hoef te skaam nie, en slegs enkele plastiekgoed hier en daar het ek teen kosprys in Voortrekkerweg, Kaapstad se bron van bekostigbare álles, loop aanskaf.

Sitplekoortreksels verbloem die uitgerafelde bekleedsel, en ’n huls oor die stuurwiel steek weg hoe dié al verpoeier. Maar haar sleutel is nog die oorspronklike een, hoewel ietwat gebuig van al die kere wat ek per ongeluk daarop gaan sit het.

Sy het wel littekens: Wanneer jy buite-om die Renault stap, is dit net so goed jy lê ’n landsreis deur Suid-Afrika af. Die lugdraad is nog net ’n stompie. Dis van daardie naweek wat sy gelate op die pad by Smitswinkelbaai naby Kaappunt moes staan. Dié spanspekskyfie van ’n strand lê ónder in ’n valleitjie sonder ’n toegangspad – jy moet jou goedjies vir die naweek (onthou die vuurhoutjies!) met ’n steil voetpaadjie soontoe afdra. Motors word maar langs die teerpad aan die genade oorgelaat en terwyl ons die kerslig en seesproei geniet het, het ’n trop bobbejane hulle op die Renault se dak geniet.

Ná afloop van die naweek het ons ’n afgekoude lugdraad, vuilgevatte ruite en ’n kuttel op die enjinkap aangetref. En die agterste ruitveër is tot vandag nog geknak.

Die bobbejane het ook die dekseltjies van die gleuwe waarin ’n dakrak vasklik, losgekarring en eendag het ek een iewers tussen Kaapstad en Pretoria verloor – tot groot ontsteltenis van die bestuurder in die motor agter my. Die ander een het eenvoudig verdwyn in daardie donker vakuum wat ook verlore sokkies, wieldoppe en penne insuig.

‘Ná afloop van die naweek het ons ’n afgekoude lugdraad, vuilgevatte ruite en ’n kuttel op die enjinkap aangetref.’

Op die regterflank is ’n vlegsel skrape só dig dat dit byna ornamenteel lyk. As ek reg onthou, is dit die oorblyfsel van ’n slegte stukkie pad in die Mapungubwe- nasionale park waar die kar in ’n stadium omring was deur olifante wat in die rivier wei. Daar was ’n paar kalfies ook, en die koeie het die tóé nog middernagblou boggel in hulle midde verdag aangegluur. Snaaks genoeg het haar petrolreuk hulle nie gepla nie.

Op daardie einste trippie het die termostaat by 50 °C gaan draai en kon daarna nooit werklik weer herkalibreer nie, byna net soos wat ’n mens ook aan die einde van ’n régte reis nie meer dieselfde is nie.

Ek mag dalk nog dieselfde lýk wanneer ek weer terug is by die huis (ofskoon met ’n sonbruin vel of 3 kg ekstra), en die motor het dalk ’n stoflaag oor wat in ’n japtrap afgespuit kan word met geen uiterlike verskil behalwe ’n nuwe bufferplakker nie. Maar verandering – nuwe perspektiewe, ontmoetings met vreemdelinge en totaal onverwagte uitsigte én insigte – lê diep. En dit kleur jou toekoms met dieselfde blywendheid as wat die kilometers afgelê die toerteller se syfertjies laat omtol en die bande laat afloop.

Paaie wat voorheen bloot strepe op ’n kaart was, is nou as mooi, driedimensionele beelde in my geheue vasgelê. En die blou karretjie was al die pad my reisgenoot – teenwoordig vir elke eensame agterpad en verkeersknoop.

Die kar het wel Franse gene, maar soos wat die stof uit al die holtetjies kan getuig, het dit al veel wyer gaan draai as die teerpaaie waarvoor dit ontwerp is. Plastiekafwerkings en -deurknippe sneuwel gewoonlik eerste, losgeratel op klipperige sinkplaatpaaie in die Tankwa en Baviaanskloof, of verstop met die modder in KwaZulu-Natal se Ndumo-wildreservaat.

Die kar was al in Springbok waar dit, ná ’n stukkie Richtersveld-tweespoor wat uitsluitlik vir bakkies met ’n hoë grondvryhoogte bedoel is, met groot verligting buite die Godfather-kroeg ’n bietjie kon asem skep en haar watertenk weer volmaak. Sy het al met groot behendigheid buite Jozini deur ’n doolhof van slaggate geswenk, en my een aand na veiligheid vervoer toe die luim in ’n kroeg in Alldays skielik versleg het.

In Haga Haga is sy – heeltemal teen haar sin – teen ’n graswal afgestuur tot by ’n lappie kuswoud en ’n woonwa. Daardie vakansie het ons maar liefs elke keer die kilometer stroomlangs tot by die swemstrand gewaad (selfs al het ’n boomslang eenmaal reg langs ons in die water geval!) eerder as om met die karretjie oor nóg hindernisse soontoe te ry.

Die kar se Achilleshiel is haar elektriese vensters. Dit was aanvanklik luuks, maar ná jare van rowwe paaie is hulle nou vatbaar vir teëspoed. Stof maak dat die knoppies nie aldag werk nie. En soms glip die glas van die wenas se raam af en verdwyn in die deurpaneel. Die gevolg? Tye waarin ’n venster nou maar óf oop óf toe is en basta. ’n Permanente toe venster is irriterend wanneer jy by ’n tolhek kom of jou parkeerkaartjie by ’n parkade se uitgang in daardie gleufie moet pos; ’n venster wat pal afgedraai is, dien as katalisator vir ysige wind en skielike storms.

Die agtersitplek is ietwat voos. Dit het al ontelbaar baie skilderye vervoer (die Renault se mede-eienaar is ’n skilder, en ’n getrek tussen ateljees of gewoon die rondry van kunswerke is ’n gereelde ding), asook ’n vistenk, ’n kolganskuiken, ’n dierbare dog brakende vriend, ’n hele Zimbabwiese gesin wat in hulle beste klere en met geen water deur ’n reservaat vol olifante gestap het (hulle was op soek na die grens), ’n verswakte ouer se rolstoel en ’n jong witstinkhoutboom.

Ek moes al op baie plekke bande omruil – buite Harrismith, buite Howick, en een nag by Vermaaklikheid terwyl swerms molkrieke oor die grondpad stroom en ’n eenvoudige takie in ’n episode van Fear Factor laat ontaard het.

Die skokbrekers is nie soseer uitgewerk nie. Dis gewoon afwesig. En nadat drie stelle ruitveërs in een winter gesteel is, bêre ons die huidige paar nou maar onder die voorste sitplek.

Toe ek eenmaal in Khayelitsha ’n onderhoud moet gaan voer, het ek die kar sommer daar laat was (dit was die maklikste manier om baie oë op haar te hou en só dalk te verhoed dat sy gesteel word).

Ek is nietemin steeds later die middag byna gekaap, maar genadiglik het die enjin met die eerste probeerslag gevat en ek kon wegjaag. Net soos daardie keer in die Mkhuze-wildreservaat toe ons niksvermoedend ’n renoster, wat pas ’n uitputtende gebiedsgeveg met ’n ander bul gehad het, uit sy modderbad verskrik het.

Ja, sy’ t vele noue ontkomings gehad. Ek onthou hoe ’n konsultant van ’n versekeringsmaatskappy eenmaal reageer het toe ek hom vertel dat die motor nie in ’n garage nie, maar op straat staan: “Jô!” het hy uitgeroep. “Dis so goed jy skenk die kar vir die samelewing!” Maar sy was nog altyd veilig – ook in my hart.

Ná ’n jammerlike Kersfees een jaar by my skoonouers in KwaZulu-Natal het die kar gemaak asof sy oorverhit en ons moes, met die spreekwoordelike hoed in die hand, terugdraai en nog ’n paar nagte by hulle oorslaap terwyl werktuigkundiges oor die enjinsimptome kopkrap. Die kar het die beste geweet: ’n Paar dae later was die haakplek met die skoonmense uitgestryk en ons is met opregte koebaais daar weg, met die tweetjies wat in hulle kamerjasse vir ons staan en waai.

Om dié strydwa vol stories te moet groet is so goed soos om jare se dagboeke te verloor. Maar haar hoofligte is al dof vanweë die karweergawe van katarakte en haar asse knars soos ou knieë. Kort voor lank móét iemand anders haar hier wegry.

Maar nie vandag nie.