My eerste viertrek was ’n Land Rover – ’n 1978- model 109 Series 3. ’n Ivoorwit ten seater-stasiewa. Vir sy eerste trippie is ons Kosibaai toe. In daai dae was daar nog net 20 staanplekke in die kampterrein en nie veel verder nie. Ons was nog los en vry en positief oor alles, en het net die pad gevat sonder om aan kampplek te dink – vol vertroue dat die heelal vir ons sou sorg.

Ons was ’n selfonderhoudende eenheid, soos dit hoort as jy ’n viertrek ry: ’n gasyskas vol koue goedjies, ’n pottestel, tente, ’n stofie, byl, graaf... Van Jozinidam se kant af was dit heelpad grondpad, maar nog nie naastenby viertrekpad nie. Met die inry by Manguzi – die dorpie net voordat jy afry na die Parkeraad se kampplek – het ek die bekendheid van dié andersheid ervaar. Dis een van daai plekke wat jou laat voel jy is nie meer ’n toeris nie; jy is nou ’n reisiger. Dis Afrika: Stof hang oor alles; ’n seuntjie hol kaalvoet verby met ’n speeklose fietsnaaf wat hy met ’n stuk draad stuur; ’n boerbok loop klingelklok voor jou oor die pad en die res van die trop kyk teësinnig op waar hulle in die stof rondsnuif vir kos.

Die handelshuis en poskantoor deel die grootste geboutjie in Manguzi. Onder die afdak, langs die geroeste Vyf Rose- en Boxer-blikplakkate teen die muur, sit ’n madala op twee bakstene wat in hy in ’n “T” gestapel het. Tussen sy voete staan ’n halwe botteltjie Coke. Hy teug behaaglik aan ’n selfgerolde sigaret en laat die rook stadig by sy neus uitwarrel die windstil warm lug in. Om die hoek kwetter groot swart spreeus in ’n gedaan peperboom. Onder die boom staan ’n vaalgroen Mazda-bakkie op bakstene. ’n Blouaap sit op die dak en kyk gesteurd na die spreeus. Sy stert hang voor die gat waar eens ’n voorruit was.

Kort anderkant Manguzi hou ek met ’n glimlag stil. Dis tyd: Van hier af loop die pad reguit see toe en die sand raak ál dikker. Ek skakel die voorwiele se vrywielnawe in sodat die viertrek kan vat. Die ou Landies het mos twee hefbome langs die rathefboom gehad – ’n veerbelaaide een met ’n geel knop vir viertrek, en ’n langer een met ’n rooi knop waarmee jy kan wissel tussen hoë en lae skakeling. Ek druk die geel knop af en die veer skuur krassend. Hy vat, hy’s in. Sand, hier kom ons!

Kort voor staatsdiens-uitkloktyd suiker ons die kampterrein by Kosibaai binne. Dit lyk asof daar nie lewe is nie, en die hele plek is toegegroei – die 20 staanplekke is 20 groen grotte uitgebeitel in die digte bos. By die Parkeraad se kantoor kry ons vir Pieter Deetlefs, kampkommandant. Hy lag toe ek vra of ons kan kamp. “Weet jy hoe gelukkig is jy? Die groep wat in staanplek nr. 19 moes kamp, het laat weet hulle moet kanselleer.”

Die volgende dag bestap en bespied ons die plek met ’n spesmaas oor seekoeie in ons agterkop en ’n ogie op die astrante blouape. Ons leer van die visfuike en hoop op ietsie vars uit die see. Laatmiddag maak ek ’n vuur en skuif die kosgoed reg. Vars vis was daar nie, maar ek haal ’n skaaprib uit die yskas.

Net toe ek terugsit in my ou seilstoel met ’n koue drinkding in die hand, kom Pieter verby. “Ek doen gou die rondes. Alles reg?”

“Kan nie beter nie. Kan ek jou iets aanbied?” vra ek en wys na my bier.

“Laat ek net gou by nr. 20 langsaan inloer. Dan is ek van diens af.”

By sy terugkeer vertel hy my van Black Rock – ’n eindelose wit strand tussen Kosibaai en die Sibayimeer. Aan die kant van die strook strand is die enorme swart rots wat die plek sy naam gegee het.

Die volgende oggend ná brekfis rits ons die tent toe en bestyg die Landie. Pieter het gewaarsku hy hoop ek kan goed viertrek ry, want die pad Black Rock toe is niemand se speelmaat nie... dis wíld. Maar ek’s nie bang nie; dis hoekom ’n mens dié rygoed kry.

Volgens Pieter se aanwysings is dit maklik om Black Rock te kry: Ry terug Manguzi toe en vat die tweespoorsandpad wat agter die poskantoor suidoos loop. Moenie bekommerd wees as die pad kort-kort verdeel nie – volg net elke keer die tweespoor wat die meeste uitgery is. Behalwe wanneer jy die skooltjie sien – daar moet jy die dowwe pad links vat, want die skoolmeester is die enigste mens daar rond wat ’n bakkie het en die uitgetrapte pad loop na sy huis toe.

En dis wat ek toe doen, tot op die letter. Maar iewers moet ek die verkeerde geboutjie vir die skool aangesien het en die verkeerde dowwe paadjie gevat het. Op ’n punt het ek gestop in ’n doolhof van dowwe paadjies en op die dak van my wa geklim om te kyk of ek nie dalk die see sien nie. Maar al wat ek kon sien, was ’n ou dofblou Hilux-bakkie wat aankom.

Die bakkie stop en die bestuurderdeur kraak oop. ’n Man klim uit en kyk na wat op my Landie se dak staan. Groot man met ’n kimono. Sy gestalte herinner my aan dié van Demis Roussos. Of Luciano Pavarotti. ’n Hy klim uit en hang oor sy bakkie se deur; kyk my aan met ’n glimwit glimlag en oë wat glinster.

Ek tuimel van die bakkie af om by my Zoeloe-fraseboekie te kom. Met dié in my hand probeer ek hom uitvra oor waar Black Rock is. “Iphi iBlack Rock?”

Demis Roussos hang oor sy bakkie se deur en staar net. Dalk ken hy dit nie as Black Rock nie. Ek blaai na “black” in my boekie. En toe na “rock”...“Mnyama idwala... Iphi lo Mnyama idwala?” Hy is dik van die lag, maar gooi: “iBlack Rock ipha kulandawo,” en wys met sy duim oor sy skouer. “Kula... hu?”

Demis begin skud soos hy lag, en sy hele bakkie wikkel saam. “Black Rock is just over this dune. You’re on the right track, keep going,” antwoord hy. Natuurlik, dis die onderwyser wie se pad ons nié moes volg nie.

Rooi tot agter my ore is ons daar weg. Net anderkant die duin maak die pad ’n tonnel deur oopgekapte ruigtes. Die sand word dikker, die lig ál minder en die avontuur groter soos ons afsak... tot die tonnel skielik oopmaak: ’n Strand soos g’n ander strand lê spierwit en omsoom die blouste see. Ilalapalms groei geil tot op die rand van die strand. Die grote Black Rock lê soos ’n oorgroeide walrus aan die regterkant van die raam.

Voor ons in die oopte staan nog ’n viertrek. Die manne was net op pad, maar nou begin ons eers lekker viertrekstories uitruil. Kort voor lank knak ons ’n koue enetjie en klink op ons waens. Ons is volstoom besig om die klompe geld vir ons viertrekke te regverdig, want sien, had ons nou nie dié waens nie, sou ons mos nou nooit dié mooi plek te sien kon kry nie.

Skielik bly ons spontaan stil en luister. Van iewers af kom ’n wroem-wroem-geluid. Dit klink soos ’n baster tussen ’n tydrenmotor en ’n brommer, en dit word al hoe harder. Die volgende oomblik bars die bron van die geluid uit die bometonnel. ’n Verbleikte piesanggeel Datsun SSS Coupé kom dwars soos ’n krap uit daai tonnel met ’n boog sand wat agter opwaaier. Hy skuif reg voor ons tot stilstand dat die sand so oor ons spat. Voor op die regterpunt van die enjinkap lees ek: Maybe Baby.

Die bestuurder se deur vlieg oop. ’n Jong man van vroeg in die twintig klim langbeen uit. Hy’t ’n swart leeronderbaadjie aan. Sonder hemp. Sy bene is gegiet in ’n verbleikte swart stove pipe-denim. Sy swart ducktail-skoene se skerp punte is nerf-af. Om sy nek ’n goue ketting met dik skakels. Hy kou oopmond aan ’n bol kougom terwyl hy nader stap. Die passasierdeur het intussen ook oopgegaan en ’n replika van die bestuurder verskyn. Hulle stap skoorvoetend nader...

“Jis, jis, jis, hoe lykit?” vra die bestuurder verby sy kousel. “Hoe lykit, waar’s die chicks?” vra hy en loer onder sy oliekuif strandaf.

“Dis net ons hier,” waag ek.

“Aag, nou wat vir ’n beach issit dan die? Kom, Tjom..”

Duckie wen daai Datsun SSS op en opper, drop die clutch en met ’n halwe doughnut spoeg hy sand en verdwyn wroemend die boomtonnel in. Terwyl sy enjin verder en verder wegknor, kyk ons vir mekaar. En vir ons viertrekwaens...


Dié rubriek het oorspronklik  in November 2014 in Weg verskyn.