
Ek en ’n rivier is nie maats nie. Ek het tientalle stories oor noue ontkomings met riviere – die eerste een was in my kleuterdae, toe ’n krokodil my byna beetgekry het in die Umlalazirivier buite Mtunzini. My ouers was diep geskok, en as gevolg van hulle oorreaksie het ek nooit werklik geleer hoe om te swem nie.
In my lomp vroeë tienerjare het ek een slag uit ’n kano geval in die Keurboomsrivier naby Plettenbergbaai, en omdat ek in daardie stadium steeds ’n swak swemmer was – dit gaan deesdae beter – het dit my ’n ewigheid geduur om in my reddingsbaadjie wal toe te hondjieswem sodat ek opgepik kon word.
Oor die jare heen sou ek aanhou om een of ander rivier aan te durf, net om telkemale druipnat en stert tussen die bene terug huis toe te gaan.
Maar ondanks my teëspoed met riviere vind ek die lewensare wat deur ons dorre land vleg, uiters interessant, en daarom het ek op ’n Ry & Sleep-redaksievergadering aangebied om oor ’n roete te berig wat die Moloporivier volg van sy oog naby Lichtenburg tot by sy monding naby Riemvasmaak. Dis immers ’n droë rivierloop en die kans dat iets kan skeefloop, dus skraal...
Met Schalk se goedkeuring het ek die wiele aan die rol gesit. Ek het ’n voertuigvervaardiger in Johannesburg genader en gereël dat ons hulle nuwe sportnuts toetsbestuur.
Daarna het ek ’n daktent op die sportnuts laat aanbring sodat ek sommer dié ook kan toets terwyl ek die roete ry. Ek het veral na die reis uitgesien en was ook heel ingenome met my organiseringsvermoë, maar in my agterkop was daar nietemin ’n stemmetjie wat my herinner het dat riviere en ek nie maats is nie – en voorspel het dat daar ’n onafwendbare boggerôp op my sou wag.
Die reis langs die Moloporivier verloop egter vlot, hoewel ek betreklik min slaap inkry. As dit nie ander kampeerders is wat tot laatnag rumoer nie, word ek soms wakker gehou deur hiënas of erdwolwe wat onder my daktent snuffel op soek na oorskietbraaibene.
Op die voorlaaste dag van my reis span ek uit in Riemvasmaak se kampplek, in die droë loop van die Molopo. Die rivier het hom tot dusver goed gedra en ek het nie een keer vasgeval, ’n pap wiel gekry of enige ander teenspoed gehad nie. Dalk is my geluk uiteindelik besig om te draai? Ek beloof plegtig om die Molopo môreoggend by sy uitmonding in die Oranjerivier te bedank vir dié samewerking.
Vroegaand steek daar ’n windjie in die kloof op wat mettertyd ontaard in ’n erge bergwind wat ruk en pluk aan die daktent bo-op die geleende kar. Die tent se leertjie styg nou en dan van die grond af op en die daktent dreig om vanself toe te vou.
Terwyl ek ankertoue span, waai my kamptafeltjie en -stoel weg, en ek besluit om hulle eerder in die bagasieruim te bêre en my aandete in die daktent te eet.
My tjoppies is skaars op die kole toe die harde knal van ’n weerligstraal aankondig die reën is op pad. Tien minute later, met my skaaptjops halfgaar, sak ’n reënbui oor die kloof uit en blus terstond my kole. Ek gryp wat ek nodig het en klouter teen die leertjie uit.
Dis mislik hier bo in die daktent. Die hele gedoente wieg heen en weer soos ’n skuit op die stormsee. My braaivleis is nie heeltemal gaar nie en Werda se ingelegde beetslaai knars tussen my tande nadat dit vol sand gewaai het. Gelukkig het ek my skootrekenaar onthou waarop ek ’n Netflix-reeks by die huis reeds afgelaai het, asook my laaste drie louwarm biere.
Ek kry my lê, speel die video en knak ’n bier – die storm gaan nie my aand bederf nie.
My ooglede voel swaar teen die tyd dat die laaste bier opgedrink is, maar die rukwinde het nog nie bedaar nie. Ek is egter rustig en knus, en ek sien kans om ondanks die rondgeskommel te slaap.
Iewers in die donker nag skrik ek natgesweet wakker. Ek het gedroom van ’n ware voorval jare tevore. Ek en my meisie – vandag my vrou – het deur ’n smal kloof van ’n sytak van die Kougarivier geklouter toe ’n kitsvloed afkom. Ons moes aan die kranse klou terwyl stompe, takke en klippe onder ons meegesleur word. Ek onthou die kitsvloed se gerammel goed en kan sweer ek hoor dit hier in die Molopo.
Die rivier is besig om af te kom!
Ek gryp my rekenaar en slaapsak en klouter haastig uit die tent. Ek maak die toue los voor ek die tent toevou en spring agter die stuur in. Die sportnuts se hoofligte skyn in die kloof af. Die kranse is pikswart en onheilspellend. Harde druppels slaan teen die voorruit, maar die droë loop van die Molopo is genadiglik nog droog.
Ek ry teen die hange van die kloof uit na ’n veilige plek waar geen kitsvloed my kan meesleur nie.
Die situasie herinner sterk aan die keer toe ek en my gesin een aand op die oewer van die Oranjerivier vasgeval het met ons Suzuki Jimny. Nes die Kouga het die Oranje ook daai nag blitsvinnig afgekom en gedreig om die Jimny weg te spoel. Ja, ek en riviere is nie maats nie.
Die stormwind waai onverpoos en die reën wil nie bedaar nie. Basta met die daktent; vanaand slaap ek in die kar. Ek slaan die sitplekke so plat as wat ek kan en probeer my lê kry. Ondanks die gure weer is dit warm en ek draai ’n ruit op ’n skrefie oop vir vars lug. Reën piets teen my gesig, maar liewer dít as dat ek versmoor.
Ek grawe my selfoon uit die paneelkissie om te sien hoe laat dit is: eenuur. Die opwinding om voor die vloedgolf te vlug het my slaap ontwrig en ek loer nou en dan by die syvenster uit om te sien of die Molopo al loop, maar niks.
Dit was bloot ’n verbeeldingsvlug, besef ek, aangewakker deur daai halfrou braaivleis, louwarm bier en suur beet wat in my maag gis. Ek probeer insluimer, maar ligte flits lukraak en word oomblikke later gevolg deur die knal van ’n bliksemstraal. Intussen het dit ophou reën, maar die wind waai aaneen.
Die poses tussen die flitse en knalgeluide word langer, en teen drieuur heers die donkerte ononderbroke. Die wind kry uiteindelik sy lê en dit lyk of ek ook kan rustig raak. Dis tóé dat ek die eerste zoemgeluid van ’n muskiet hoor.
Die geluid kom nader, en kort voor lank is daar ’n crescendo van muskietklanke wat herinner aan ’n strykorkes wat opwarm voor ’n konsert. Een muskiet land lugtig op my enkel en ek gee ’n geïrriteerde skop.
Die horde muskiete sien dit as ’n teken van lewe en sak op my toe. Ek voer ’n verbete stryd om elke liggaamsdeel onder die oop slaapsak weg te steek, maar die blikslaers vind kort-kort ’n gaatjie waardeur hulle by my kan uitkom.
Ek rits die slaapsak in ’n kokon om my toe totdat slegs my mond uitsteek sodat ek kan asemhaal. Omdat ek ’n baard het, lyk my mond glo soos ’n harige seeanemoon wanneer ek my lippe in ’n O-vorm tuit. Die grusame gat skrik die muskiete geensins af nie en hulle sak soos gretige grotduikers daarop neer.
Elke keer as ek inasem, sluk ek ’n muskiet in, dan spoeg of proes ek hom weer uit. Oor en oor. Dis bloedig warm in die slaapsak, en so tussendeur die muskiethappies tap die sweet my af. Wanneer dit té erg raak, gooi ek die slaapsak oop en klap verwoed rond om soveel as moontlik muskiete die ewigheid in te stuur. Dan lê ek kaalbolyf en afkoel totdat die volgende vlaag versterkings opdaag.
Die proses word ure aaneen herhaal. Asem in, spoeg uit, gooi die slaapsak oop, klap muskiete dood, koel af, klap muskiete dood, kruip weg, asem in, spoeg uit... Tussendeur hou ek die tyd dop, want sodra die son opkom raak dinge gewoonlik beter.
Maar teen sesuur is daar steeds geen teken van ’n sonsopkoms nie, hoewel die muskietaanvalle genadiglik al minder gewelddadig is. Teen seweuur begin die lug blouer raak en ek weet die son is uiteindelik op pad.
Om my heen lê die oorskot van ál Riemvasmaak se muskiete. Ek besef ek moet verheug wees oor my oorwinning, maar ek is te moeg. Ná ’n beker koffie spoel ek my gesig af, borsel my tande en kam die massaslagting uit wat in my baard verstrengel geraak het. Doer onder in die kloof lê die Moloporivier tartend en nog kurkdroog.
As ’n rivier nie water het om my te treiter nie, sal hy blykbaar ’n ander manier vind om dit te doen.
Hierdie artikel het oorspronklik in November 2020 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.