book-icon Uitgawe Maart 2020
Deel

RUBRIEK: ’n Verkeersknoop in Etosha

akkreditasie
Skets: Fred Mouton
Skets: Fred Mouton
Uit die argief: Jy leer nogal baie van jou medemens wanneer jy ’n trop leeus in die wildtuin teëkom, sê Schalk Jonker.

Ek is nie gebou vir spitsverkeer nie. Ek is nie uniek nie, dit weet ek, maar ek verloor my sin vir humor heeltemal te gou wanneer ek agter die stuur is in die stad – en ek is nie eens iemand wat daagliks ure lank in die verkeer hoef te sit nie. Ons woon relatief naby aanaan my kind se skool, en daarom gebeur dit bitterselde dat ons langer as ’n halfuur op ’n slag in stadsverkeer deurbring.

Maar in daardie halfuur is daar meer as gereeld iets wat my bloed laat kook en my dogtertjie woorde leer wat haar oupas en oumas op hulle knieë hou. Dis gewoonlik ’n sameloop van gebeure wat tot die uiteindelike uibarsting lei.

Dit sal begin met iemand vir wie ek plek gee wat nie dankie sê nie. Dan sal daar ’n klompie wees wat hulle in die middel van ’n kruising staanmaak, en wanneer die lig groen raak vir my, is hulle in die pad.

Dis veral die onskuldige optrek van die skouers terwyl hy na die stilstaande karre voor hom wys wat met my gal werk. Ek kry ook genadiglik nie baie met minibustaxi’s te doen nie, maar wanneer ons paaie kruis, is dit wanneer hulle op die linkerkantste sypaadjie by my verby ry en dan weer voor êrens indruk. “Pappa! Oupa sê daai is ’n lelike woord...”

Die grootste deel van die jaar is dit min of meer hoe elke oggend en middag verloop. Maar vir sowat vier weke per jaar kry ek kans om daarvan te ontsnap. Met my laaste verlof het ons Namibië toe gemik.

Daar woon ’n aks meer as drie mense per vierkante kilometer in ons buurland en dit is dus nét die plek waar ’n mens vrede kan gaan soek en nie uitgelewer hoef te wees aan ’n oormag mense of hulle karre en slegte padgewoontes nie.

As jy dus vooraf vir my gesê het my medepadgebruikers sou my moermeter in die rooi druk terwyl ek naby Etosha se Nebrowni-watergat na ’n trop leeus kyk, sou ek jou nie geglo het nie.

Voor in die Hilux sit ek en my swaer. Ons twee se baarde is omtrent identies en ons herinner sterk aan ’n jonger weergawe van ZZ-Top wanneer ons kort ná sonop met ons vroue op die agtersitplek by Okaukuejo stilhou.

Ek is reg vir ’n ontspanne dag sonder veel verwagtinge, want ons is immers in die reëntyd hier. Daar is water in die veld, wat beteken jy is nie noodwendig verseker van enigiets by die watergate nie.

Ons kruie aan, verby ’n magdom springbokke en sebras, maar die dinge wat ons wíl sien, bly wegkruip. Later kom ons darem blouwildebeeste en kameelperde teë, maar teen middagete is daar steeds geen teken van die Groot Vyf nie.

Ons ry in Nebrowni se rigting... en dan sien ons hom aan die regterkant van die pad, seker vyftig treë van ons af. Die jong leeumannetjie stap doelgerig in die watergat se rigting terwyl sy maanhare in die wind wapper.

Ons is die enigste mense op dié stukkie pad wat hom sien, en nadat ons ’n rukkie gekyk het, druk ons verby watergat toe om te sien hoe hy drink.

Tevrede dat ons darem die kaptein van die Groot Vyf-bende onder oë gehad het, besluit ons om piekniekterrein toe te ry om iets te eet.

Ons het skaars ’n paar minute gery toe ons drie karre agter mekaar aan die linkerkant van die pad sien. “Seker voëlkykers,” sê ek en herinner almal opnuut dat dit myns insiens ’n vereiste vir voëlkykers behoort te wees om ’n duidelike plakker op hulle rygoed aan te bring.

Dit sal keer dat ’n mens onnodig stilhou en rondkyk vóór jy besef hulle sit eintlik na ’n troupand of een of ander geveerde en staar.

Maar dié mense kyk nie voëls nie. “Daar’s hulle! Onder doerie boom,” sê Skoonsus, wat hulle eerste gewaar. Ek gryp die verkyker en tel nie minder nie as nege leeus ’n stewige 150 m van ons af. Daar’s ’n mannetjie, wyfies én ’n klomp welpies en dit lyk of hulle begin opstaan.

Ons skakel die enjin af en hou die spulletjie dop. Ek het nog nooit soveel leeus bymekaar gesien nie. En ja, hulle begin inderdaad in ons rigting stap... seker na die watergat toe, wat nou regs van ons lê.

Intussen het daar nog ’n klompie karre kom stop en gelukkig is daar ruimte tussen ons en die kar voor ons. Nie groot genoeg vir nog ’n kar nie, maar dalk net die gaping wat die leeus gaan vat wanneer hulle die pad oorsteek.

Sy fluit en roep die leeus, so ewe asof hulle waghonde by ’n sekerheidskompleks in Centurion is.

Hoe nader die leeus kom, hoe meer opgewonde raak ek, want dit lyk of hulle reg op die gaping voor ons bakkie afpyl. Die diere stap langs die pad tot voor die neus van ons bakkie en gaan staan dan en kyk heen en weer. Ons sit tjoepstil in die kar, te bang om te beweeg en die oomblik te bederf. Hulle gaan enige oomblik begin stap... rég voor ons verby.

Skielik word die stilte verbreek deur die kar agter ons wat aangeskakel word. Die ou in die Prado trek uit, maak ’n wye draai en kom hou met sy neus in die gaping voor ons stil. Die bestuurder het ’n lang lens op sy kamera, wat hy op die stuurwiel laat rus.

Ek vergeet vir ’n oomblik van die leeus en staar dié man in ongeloof aan. Die leeus is heel duidelik ook nie opgetrek met die besigheid nie, en besluit om vorentoe te stap en eerder ’n ander oorsteekplek te soek.

Ek het steeds nie woorde nie, maar toe ek uiteindelik iets uitkry, is dit een van daardie woorde wat nie vir klein ore bedoel is nie. Gelukkig berispe niemand in die kar my nie, want met daardie drieletterwoord het ek almal se gevoelens opgesom.

Ons hou die leeus nou uit die agterste gestoeltes dop. Hulle stap ’n entjie vorentoe en draai weer om en stap in hulle spoor terug, verby ons en in die rigting van die agterste kar. En soos hulle stap, so ry Langlens in sy Prado saam en probeer oral indruk.

Hoe verder hulle na agter beweeg, hoe meer draai die voorste karre om en ry anderkant toe om die beste uitkykpunt te kry. Niks fout hiermee nie, maar dis die onbedagsaamheid wat my onderkry. Ons is op ’n groot oop vlakte en die leeus is hier neffens ons. As ons almal ná die omdraaislag in ’n ry aan die linkerkant van die pad bly, sal ons almal min of meer ewe goed kan sien.

Dit ontaard egter in ’n verkeersknoop wat die Kaapse middestad op ’n reënerige agtermiddag nog nie gesien het nie. Die een wildkyker kan nie minder vir die volgende omgee nie. Prado-langlens is steeds voor in die koor, maar hy het ’n uitdager om sy kroon as die grootste bliksem in die wildtuin.

’n Gautenger in sy X5 kom nader en toet ewe vir ons om plek te maak dat hy nader kan kom. Sy vrou (of dalk sy skelmpie... ’n mens weet nooit met BMW-bestuurders nie) hang halflyf by die venster uit en fluit en roep die leeus, so ewe asof hulle waghonde by ’n sekerheidskompleks in Centurion is.

Die leeus (of die bietjie wat ons van hulle kan sien) raak al hoe meer verbouereerd langs die pad, maar die ergste wag nog op hulle... én ons. Twee wildkyktrokkies met oorsese toeriste kom aangejaag dat die stof staan. Hulle is heel duidelik oor die radio laat weet van die leeus.

Teen die tyd dat hulle by ons aankom, is elke moontlike padreël en enige mate van ordentlikheid lank vergete. Die trokkies skiet langs die pad by ons verby en trek dwars oor die pad om aan die mense wat in euro betaal, die beste uitsig te gee.

“Kom ons ry, asseblief” sê ek. Ek jok, ek het nie die woorde “ry” óf “asseblief” gesê nie. “Ek stem saam,” sê my swaer, “maar ons kan nie. Ons is voor en agter vasparkeer, en vóór daardie leeus nie beweeg nie, gaan daardie karre wat die pad blokkeer, ook nie beweeg nie.”

Ons sien die leeus nie weer nie, en ek kan ook nie sê of hulle wel die pad oorgesteek het nie. Maar terwyl ons wag, begin ons oor wildkyketiket gesels.

Ons kom uiteindelik met ’n lang lys vorendag... meestal dinge waaraan die mense voor én agter ons hulle skuldig gemaak het. Ons dalk ook.

Ek gaan nou nie al die dinge herhaal nie, want dit is eintlik vanselfsprekend en kan in een eenvoudige reël saamgevat word: Moenie ’n nool wees nie.


Hierdie artikel het oorspronklik in Maart 2020 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.