Foto’s Yvonne Erasmus

Die slim mense vertel graag dat elke onvergeetlike ervaring met ’n blote gedagte begin. Só is ons idee om Van Zylspas met ons boswoonwaens te ry ook gebore. Dit het ’n paar kuiers gekos, maar ná ’n klompie braaivleisvure was ons vriende dit eens – dit móét gedoen word.

Die slim mense vertel graag dat elke onvergeetlike ervaring met ’n blote gedagte begin. Só is ons idee om Van Zylspas met ons boswoonwaens te ry ook gebore. Dit het ’n paar kuiers gekos, maar ná ’n klompie braaivleisvure was ons vriende dit eens – dit móét gedoen word. Maar kón ons dit met boswaens doen? ’n Artikel op Conqueror Off-Road Campers se webwerf het vertel van ’n ander groep wat dit gemaak het, dus kon ons Conqueror-boswaens dit ook baasraak.

Toe is daar ’n volgende hekkie: Ek moet ’n toergids kry wat bereid sou wees om ons deur te vat. Elke gids wat ek gebel het, het voet by stuk gehou dat herwinning op Van Zylspas nie ’n opsie sou wees nie en dinge het beroerd begin lyk. Maar toe kom ek by Caesar Zandberg en sy seun Waylon van Kunene Safari Tours uit. Hulle was bereid om die avontuur met ons mee te maak en ons toer kon uiteindelik gestalte begin aanneem.

Die wenspan met die wenplan

In ons groep was daar drie voertuig- en twee boswavervaardigers verteenwoordig: Johan en Angie Bezuidenhout in ’n Jeep Wrangler en Bundu 4x4-sleepwa; Johan en Poppie Potgieter met ’n Land Rover Discovery en Conqueror Companion; Helgardt en Corne van Heerden, ook in ’n Discovery, maar met ’n Conqueror Compact op die haak; ek en my man Lourens in óns Discovery met ’n Conqueror Commander agterna; en laastens Dave en Marina de Jager in ’n Toyota Hilux wat niks gesleep het nie. Die oorspronklike plan het net Van Zylspas ingesluit, maar toe reken die manne ons kan darem nie so ver ry en nie by Etosha ’n draai maak nie. Omdat Lourens mal is oor die Kgalagadi, moes dit ook bykom, en met my wortels in Windhoek moes ek ook die familie daar gaan groet. 

Met ons toer mooi beplan, het die vertrekdag uiteindelik aangebreek en die opwinding was groot.

Dit was ’n lang dag se ry tot in Van Zylsrus en ons het die aand se kuier in die hotelkroeg terdeë geniet.

Maar die volgende oggend tref die eerste teëspoed van die toer ons: Terwyl die manne spog oor al die verbeteringe op hulle waens, kom hulle agter dat een van die bande op Johan en Poppie se Companion glad afgeloop het. Toe moes daar eers aan die Companion gewerk word.

Gou was die manne op die grond en in die stof onder die woonwa. Maar een boudjie wat moes vas het bly lol, want die mannehande was net te groot vir die werk. Ek en my vrouehande word uiteindelik naderhand nadergeroep en ’n halfuur later is die joppie klaar.

Moeilikheid op die grens

Ek en Lourens was eerste by die klein Middelputs-grenspos tussen Suid-Afrika en Botswana. Toe die res so stuk-stuk daar aankom, hoor ons Poppie is lelik in die knyp. Sy het haar ou paspoort – wat reeds verval het – ingepak – en sou verseker nie oor die grens kom nie. Johan was boosaardig kwaad en inderhaas word ’n plan beraam. Hulle kinders moet die geldige paspoort by hulle huis in Pretoria optel en Johan en Poppie op pad ontmoet.

Die Potgieters moes uiteindelik tot in Kuruman terugry, maar Poppie het uiteindelik haar paspoort gekry.   Die res van ons het intussen in die Kgalagadi-oorgrenspark kamp opgeslaan. Terug op die grootpad was die Potgieters weer terug op die radio. Hulle was weer deel van die groep, albei met ’n glimlag op die gesig.Vanaf die Kgalagadi het ons grondpad deur Gochas tot in Stampriet gery, waar ons en die Bezuidenhouts brandstof ingegooi en vir die res gewag het.

En gewag het en gewag het. Almal se radio’s was tjoepstil en selfoonopvangs skaars. Ons besluit naderhand om om te draai en hulle te gaan soek en op pad keer Lourens ’n boer wat van voor af kom. Ja, sê hy, hy is verby drie voertuie met woonwaens. Hulle staan langs die pad met ’n papwiel. Daar aangekom, sien ons dis Helgardt se agterwiel wat dié slag deurgeloop het. Die wiel is reggemaak en ons het die teerpad Windhoek toe aangedurf.

Woestynleeus en ’n blouligbrigade

Ná Windhoek het ons twee dae dae in Etosha deurgebring. Dit was vreeslik droog en het omtrent godsverlate gelyk, maar omtrent 20km van die pan het ons twee leeus gesien. Wat ’n mooi gesig was dit nie in dié dorre landskap nie!Behalwe dierekyk het ons net gelê, geswem en weer gelê.

Twee dae later was ons weer op pad, dié keer na Opuwo, waar ons vir Waylon moes kry. Ek het egter nie seker gemaak van ons afstande nie en besef te laat ons moet bykans 500km van Halali tot in Opuwo ry.

Die panne se hekke maak eers 06:30 oop, wat ons te min tyd sou gee om hom 10:00 die oggend te ontmoet. Toe moet ek maar my reëlings verander en die hele toer een dag aanskuif. 

Omdat van die manne van Namibië in die weermag was, besluit ons om noord om na Opuwa te ry – uit by Namatoni-hek, deur Oshivelo, Ondangwa en Oshakati.Net buite Oshakati kom die polisie met flitsende blou ligte agter ons aangejaag.

Uit op die grootpad jaag hulle verby en wys vir Johan, wat voor ry, hy moet aftrek. Ons klomp Suid-Afrikaners vertrou mos nie sommer enige blou lig nie. Ons trek almal af en ek en Lourens begin sommer dadelik goed wegsteek. Paspoorte, bankkaarte en selfone verdwyn oral waar ons ’n gat kry. 

Dis ’n agterdogtige groepie wat deur die polisie bymekaargeroep word, maar hulle verduidelik dat ’n verdagte voertuig ons van Ondangwa af agtervolg het. By een van die padblokades het hulle die polisie in Oshakati daaroor ingelig en klaarblyklik het die karwag ook die polisie gekontak. Beamptes het die verdagte voertuig afgetrek en die insittendes het weggehardloop. Hulle wil hê ons moet ons tyd in Namibië geniet, sê die beamptes, en gee ons selfs ’n paar veiligheidswenke.

Ons bekommernis was dus verniet en alhoewel dit ’n angswekkende ervaring was, was dit vir my as ’n oud-Namibiër ’n riem onder die hart om te weet dat my land se mense nog so edel van inbors is.

Daardie aand kamp ons by die Uukwaluudhi Safari Lodge en wat ’n lieflike oase is dit nie! Die hiënas het só naby kom draai dat Dave al wat ’n stoel en tafel was, styf om sy tent gepak het om die gediertes van hom en Marina weg te hou. Én hy het met ’n panga in die bed geklim!

Hier gaat ons

Op dag nege verlaat ons Opuwo om Waylon te ontmoet vir dit waarvoor ons eintik Namibië toe gekom het – Van Zylspas. Ons gooi ’n draai by die poskaartmooi Epupa-valle.

Die volgende oggend vertrek ons na die Van Zylspas-kampeerplek. Volgens die GPS ry ons op die D3703, maar die pad is goor. Dis omtrent 180km van Epupa tot by die pas, maar die rit vat nege uur. Ons ry ses uur aan ’n stuk van 50km en sit vir ’n uur in die dik riviersand vas.

Dag 11 is D-Dag en die gemoedere loop hoog. Die manne is opgewonde, maar ook ’n bietjie skrikkerig. Van die kampeerterrein tot bo-op die pas is dit sowat 9km, maar dit vat ons drie uur om tot daar te klim.

Die boswaens was teen dié tyd al ligter, maar om hulle op presies die regte lyn oor die klippe te sleep, het fyn bestuursvernuf gekos. Die remme het gekreun en geprotesteer, die woonwaens wou-wou oorhel, maar die voertuie het hulle elkeen netjies tot aan die ander kant getrek.

Vir Dave en Marina, sonder ’n sleepding, was dit amper ’n rustige rit, maar die res van ons het ’n paar benoude oomblikke gehad. Nietemin het ons die pas oorwin en ná die tyd natuurlik die prestasie op ’n gepaste wyse gevier.

Die Jeep begin knor

Om die Marienfluss na dié spannende avontuur in te ry, was ’n besonderse ervaring. So ver as wat jy kan sien, strek die geel vlaktes, dan rooi sand, ’n strook bome en grys berge met die blouste blou lug oor dit alles.  

Die volgende dag, op pad terug deur die Marienfluss verby Rooidrom, besluit Johan Bezuidenhout se Jeep hy het te hard gewerk en moet iewers krag spaar. En waar spaar die Jeep krag? Die lugversorger!

Die dag daarna wag daar nóg teëspoed op die Jeep. ’n Sinkplaatpad laat die klippe spat – en daar spat die Jeep se agterruit ook. Johan kon die saak so half met isoleerband beredder, maar nou was die Bezuidenhoute se yskas, lugversorger én agterruit in sy peetjie! Aromat-houers en blatjangbottels se proppe het afgeskiet en blikkies Dragon-energiedrankies het ontplof, met aaklige gevolge.  

Na slappap vir ontbyt vat ons die volgende oggend die pad Khowarib Lodge toe. Net voor vyf die middag is dit steeds 36ºC by Khowarib, maar die aand koel af en ons geniet ’n heerlike laaste kuier om die kampvure.Die volgende dag op pad Windhoek toe moet die duiwel egter nog ’n laaste keer sy vurk insteek en tref Dave ’n gemsbok. Gelukkig is die skade min, maar almal het ’n groot skrik weg. 

En voor ons ons oë kan uitvee, is ons weer op pad huis toe.


Hierdie artikel het oorspronklik in WegRy #89 (Desember 2016) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.