Op die drumpel van Everest

akkreditasie
Foto Elana Meyer
Foto Elana Meyer
Nadat sy die hoogste piek in Afrika, Kilimandjaro, uitgeklim het, het Elana Meyer besluit om na Everest se basiskamp – een van dié staproetes ter wêreld – te stap. Sy vertel self.

Dis Mei 1996. Ek oefen in Boston vir die Olimpiese marathon in Atlanta. My sessies is intens en uitputtend – ek hardloop sowat 170 km per week.

Aan die ander kant van die wêreld ontvou ’n groot drama hom op die wêreld se hoogste berg. Ervare bergklimmers en gidse sterf op Everest in een van die grootste tragedies in die geskiedenis van dié berg.

Ek verslind al die artikels wat daaroor verskyn. Die verhale van bergklimmers en hul avonture fassineer my. Die eerste Suid-Afrikaanse span is ook op Everest, gehul in omstredenheid. Cathy O’Dowd word die eerste Suid-Afrikaner wat Everest se kruin bereik, maar Bruce Herrod, die onderleier, word vermis. Sy lyk word eers die volgende jaar gekry.

Sean Wisedale, ’n kameraman vir Carte Blanche, word ingeroep om die episode saam met Derek Watts te verfilm. Dit is Sean se eerste besoek aan die Himalajas, maar nie sy laaste nie: Op 30 Mei 2003 staan hy self bo-op Everest en word die eerste Suid-Afrikaner wat die hoogste piek op elk van die sewe vastelande geklim het.

Die vertrek Johannesburg na Katmandoe

Dis Mei 2006, net mooi tien jaar ná die Atlanta-spele. Ek is onderweg na Everest, saam met Sean Wisedale en ’n groep van 12 stappers. Ons gaan tot by Everest se basiskamp stap, wat min of meer op dieselfde hoogte as Kilimandjaro se kruin is.

Ek pak my goed hierdie keer met meer selfvertroue, omdat ek darem die ondervinding van Kilimandjaro agter die blad het.

Ná byna ’n volle dag se reis kom ons eindelik in Katmandoe, Nepal, aan. Die plaaslike agent is daar om ons te ontmoet en hang stringe blommetjies om ons nek.

Katmandoe gons. Die taxi’s beweeg rats deur die nou straatjies, tussen mense, riksjas, bromponies en bokke deur.

Die besoedeling is erg en in Thamel, die toeristebuurt, word met alles en nog wat gesmous – boeke, musiek, bergklimtoerusting, juweliersware, matte...

Jy moet oor die prys van alles kibbel, van die taxifooi tot die wisselkoers, anders word jy ingeloop. As jy jou storie ken, kan jy maklik net ’n kwart van die oorspronklik prys betaal.

Terug by die Hyatt Hotel met sy luukshede, voel ’n mens skielik ver verwyderd van die armoede en chaos van die stad.

Douvoordag klim ons op Yeti Air se tweeskroef-vliegtuig na die dorpie Loekla. Ons sit maar ingedruk in die beknopte vliegtuigie met sy 18 sitplekke.

Ons vlieg met ’n vallei langs, waar die Himalajas se pieke aan weerskante van jou uittroon.

Dit gaan maar skud-skud, terwyl ons nog die kort aanloopbaan nader, wat slegs ’n suinige 450 m lank is. Wanneer die vliegtuigie uiteindelik land en betyds tot stilstand kom, klap die passasiers almal spontaan hande.

Plek-plek is die roete besonder steil. Nadat jy oor die bruggie doer onder gestap het, klim jy binne ’n kilometer of twee tot ver bokant die rivier. In die dun lug sukkel party stappers met hoogtesiekte.

Dag 1: 8,5 km (Hoogte 2 610 m) Loeka na Phakding

Ek bars byna van opgewondenheid. Dís hoekom ek gekom het: Om die Groot E van naby te sien; om die voetspore van al die bekende klimmers te volg wat al tot bo geklim het… En ook dié van talle wat nooit teruggekeer het nie.

Soos die kraai vlieg, is dit minder as 50 km na Everest, maar almal wat bo wil kom, moet met hierdie paadjie langs stap om daardie groot droom te bewaarheid.

Loekla is 2 800 m bo seespieël en die lug is redelik dun. Ons ontmoet ons span van 22 sjerpas, wat saam met 18 jakke ons bagasie, tente en kos sal dra. Ons stap elk net met ’n kleinerige rugsak.

Die trek begin. Verbasend genoeg begin ons bult-af stap, die vallei in en al kronkelend met ’n yskoue rivier langs.

Ons steek die rivier telkemale oor met lang, nou hangbruggies. Een van die gidse reken ons gaan dit minstens 50 keer doen voordat ons weer oor twee weke terug is op Loekla.

Ons gidse sê oor en oor dat ons rêrig stadig moet stap, sodat ons liggaam kans kry om te akklimatiseer. Dis net meer as 8km tot by die volgende dorpie, Phakding, waar ons slaap, maar dit vat ons byna 4 uur om daar uit te kom. Die locals is vriendelik en groet hartlik: “Namaste!”

Die plan is om party aande te kampeer en ander aande in herberge te bly. Ná ’n lang dag se stap word net vier tentjies opgeslaan.

Ek kies elke keer om buite in my tentjie te slaap as ek die kans kry. Ná ’n genoeglike aandete gaan kruip ek in. Ek hoor die jakke se klokke in die agtergrond en verder weg die geluid van die water wat sterk vloei in die rivier.

Ek maak my oë toe en raak feitlik onmiddellik aan die slaap.

Dag 2: 10,5 km (Hoogte 3 440 m) Phakding na Namtsje Bazaar

“Morning! Tea! Morning! Tea!” is die eerste woorde wat ek hoor en ek kry die lekkerste Masala-tee in die tentjie, plus ’n klein skotteltjie warm water.

Dit is lekker koud buite. Ons kry genoeg kos – hawermoutpap, roosterbrood en eier, tee, koffie, grondboontjiebotter en Marmite vir ontbyt.

Ons maak ons Camelbak-watersakke vol met gebottelde water en begin stap al langs die rivier op. Terwyl die groep stuk-stuk by die eetplek vir middagete aankom, glip ek af na die rivier, trek my stapskoene uit en klim met my warm gestapte voete in die water. Dis vriesend koud, maar héérlik verfrissend.

Ek voel vars toe ek weer my dik sokkies en skoene oor my skoon, koue voete aantrek.

SEAN IS NIE iemand wat die groep met onnodige inligting verveel nie. Hy gee ons ’n oorsig van wat ons behoort te weet: Hoe lyk die weer en watter toerusting ons die res van die dag nodig sal hê.

Dan volg die gebruiklike instruksie om st-a-a-adig te stap en dan gee hy vir ons ’n skatting van hoe lank dit sal neem om tot by die volgende punt te skuifel.

Ná middagete kry ons ’n stywe opdraande wat net nie wil ophou nie. Ons klim letterlik van die vlak van die rivier tot byna’n kilometer hoër – omtrent die hoogte van Tafelberg. Hoogtesiekte met sy skete begin hier en daar kop uitsteek.

Ons stap weer oor ’n hele paar hangbruggies en soms lê die rivier klein en ver onder ons. Die groep stap nou uitgedun oor kilometers. Eindelik sien ons ’n klompie klipgeboue om ’n draai: Die dorpie Namtsje Bazaar. Dis ’n woelige plekkie met talle nou straatjies en restaurantjies, waar ek selfs ’n cappucino kry. Daar is ook internetverbinding en bankgeriewe.

Ek en een van ons my medestappers val by die naaste bakkery in en lê weg aan ’n kaneelrolletjie en warm cappucino – dit smaak nog lekkerder in die berge.

Die res van die groep kom stuk-stuk aan, doodmoeg ná die lang klim. Almal is in hul noppies oor die relatiewe luuksheid van die Namtsje Lodge, waar ons vanaand sal slaap. Van die kamers het selfs sy eie stort.

Die heel laaste wenk wat Sean my gegee het, terwyl ons in die winkeltjies van Katmandoe rondgesnuffel het, was om te belê in dons-booties, sulke snoesige pantoffelagtige skoene. Jy kan ná ’n dag se harde voetslaan daarmee rondstap en jou voete warm hou en jou tone ’n bietjie wikkel.

Dag 3: Akklimatisering

Dit is ’n akklimatiseringsdag. Ons stap twee uur lank na ’n hoër hoogte om aan die dun lug gewoond te raak. Ons vat Sean se teleskoop saam om te kyk of ons daardie eerste blik van Everest kan kry.

Ons stap na die Syanboche Panaoramo Hotel en verkyk ons aan die pieke om ons. Die ander helfte van die groep gaan na die Everest View Hotel.

Daar is wolkies wat rondhang en Everest is skugter. Ons kyk vol verwagting deur die teleskoop, maar sien, helaas, niks.

Almal geniet die ekstra dag, want ons kan ’n bietjie later slaap. Daar is selfs ’n diens vir wasgoed. Môre spring ons weg met skoon bagasie.

Die gehalte van die mense se gemeenskapslewe is opvallend. Daar is iets hier wat hulle gelukkig maak – iets wat geld nie kan koop nie.

Dag 4: 6,8km (Hoogte 3 780m) Namtsje-bazaar na Khoemjoeng

Vanoggend loer die berge vrygewig na ons kant, met die blou lug wat die prentjie raam. Die paadjie na die volgende dorpie, Khoemjoeng, is steil en laat almal se asem jaag. Ons stop kort-kort om ’n bietjie te rus, maar die landskap is pragtig en dit herinner ’n mens aan The Lord of the Rings.

Khoemjoeng is een van die mooiste dorpies in die hele vallei. Daar is ’n pragtige skooltjie met netjiese klaskamers wat in die 1960’s deur Edmund Hillary gebou is.

Die kinders speel vlugbal in die koue lug. Die gehalte van hul gemeenskapslewe is opvallend. Daar is iets hier wat  hulle gelukkig maak – iets wat geld nie kan koop nie.

Vanaand kampeer ons weer. Later begroet ’n pragtige volmaan ons. Die berge in die maanlig is een van die mooiste gesigte wat ’n mens kan hoop om sien.

Dag 5: 8,7 km (Hoogte 2 770 m) Khoemjoeng na Dewoetsje

Verby die heilige tempel

GEESTELIKE DORP. Die meeste klimmers doen by die Tengbotsjeklooster aan, waar hulle hul geestelik voorberei vir die aanslag op Everest.

Ons eet middagete by Poennki Tenga, ’n plekkie met sewe wateraangedrewe gebedswiele.

Dan begin die moeilikste en langste klim tot dusver. Die stofpaadjie is steil en hou net aan en aan. Die paadjie is erg nou en selfs die jakke sukkel. Hulle het kwaai aanmoediging nodig.

Hier hoog in die berge kry jy ook honde wat groepe trekkers vir ’n rukkie aanneem as “voogde”. Hulle loop lang ente saam. Daar is ’n sprankel in hul oë en ’n huppel in hul stap.

Ná sowat drie uur se klim kom ons, met hond en al, by die Tengbotsjeklooster aan. Dit is die grootste in die hele Khoemboe-vallei en die plekwaar die meeste Everest-ekspedisies aandoen om hul seënwense vir die berg te kry. Sean het self ’n sessie van ses uur hier deurgemaak, voordat hy in 2003 na die kruin vertrek het.

Dan is dit nog 20 minute se stap tot by die Ama Dablam Garden Lodge, waar ons vanaand oorbly. Dis ook die plek waar die klimmers, wat Everest se kruin wil aandurf, bly.

As jy instap, voel jy dadelik die afwagting, opgewondenheid en die spanning aan. Teen die mure is plakkate van ekspedisies van reg oor die wêreld wat al hier aangedoen het.

’n Vuurtjie knetter in die hoek en die klimmers sit en kuier met warm tee in die hand. ’n Ander groepie koek saam om ’n rekenaar.

Ons spannetjie is maar flou ná die lang bult. ’n Paar van ons bly weer in tente vanaand, terwyl die res besluit om in die lodge te slaap.

Ek slaap sag met druppels wat op die tent val en ’n groot dankbaarheid dat my tent nie lek nie.

Foto Elana Meyer

Dag 6: 8,5km (Hoogte 4 360m) Dewoetsje na Dingbotsje

My asem slaan weg toe ek my kop by die tent uitsteek. Die berge is oorweldigend.

Jy raak dit eenvoudig nie gewoond nie.

Ons is nou bo 4 000 m bo seespieël en dis asof die plantegroei onmiddellik verander. Dit raak bar en droog. Daar is skielik geen bome – trouens, omtrent geen plantegroei – oor nie.

Die rivierbedding van die Imdja Kohla raak breed en rotsagtig. Die rivier vloei maar yl daarin en ’n ysige windjie knyp enige stukkie vel wat jy aan die lug blootstel. Vir die eerste keer ruk ek my rooi baadjie uit, wat ek tot bo-op Kilimandjaro gedra het.

Teen middagete begin die hoogtesiekte sy tol eis onder ons span. Een van ons spanlede voel glad nie lekker nie: Hy’s naar, het ’n lelike kopseer en wil nie eens in die rigting van kos kyk nie. Hy loop uit van waar ons in ’n warm sonkamer van ’n teehuis sit en gaan doen verwoed asemhalingsoefeninge buite om die saak te probeer red.

Hy’t reeds pille vir die hoofpyn gedrink en veg om nie op te gooi nie, want Sean se reël is dat jy dan onmiddellik iets moet eet om die verlore voedingstowwe te herwin.

Dit lyk of sy asemhalingsoefeninge werk, want ná ’n rukkie kry hy weer ’n bietjie kleur in die kieue.

Ons eet ’n dunnerige sop, wat ons opkikker met speserye wat al die pad van Durban saamgekom het. Daar is baie brood en ’n soort lensiebredie, maar die span se eetlus is feitlik gehalveer. Almal eet omdat hulle moet.

Ná ete begin ek aantrippel, want dis deksels koud. Vir die eerste keer op die tog stap ek alleen en geniet die ruimte en die vryheid van die natuur.

Ek kom eerste by die dorpie Dingbotsje aan en spoor die Zham-Bala Lodge maklik op – dis die een waar ons jakke met ons bagasie “geparkeer” staan.

Dag 7: Akklimatisering by Dingbotsje

Die berg-blues byt

Ons stap vandag weer ’n ent hoër om te akklimatiseer. Om ons pryk daar van die hoogste pieke in die wêreld, maar Everest bly ons ontwyk.

Daar is ’n bietjie berg-blues wat vandag begin inskop. Dis ’n kombinasie van die dun lug, sewe dae van net basiese geriewe en die koue.

Dit lyk of sy asemhalingsoefeninge werk, want ná ’n rukkie kry hy weer ’n bietjie kleur in die kieue.

Almal se eetlus is maar effe. Hier en daar het iemand kopseer.

Dag 8: 7,5km (Hoogte 4 940m) Dingbotsje na Laboetsje

Groot pieke, kleinmense

Ek ruk my gordyntjie oop en loer vinnig deur my venster om te sien wat die dag inhou. Dis asof moeder natuur weet dat die groep ’n hupstootjie nodig het.

Vandag sit sy haar beste voet voor. Ons kry die suiwerste blikke op die wêreld se hoogste pieke: Ama Dablam, Lhotse, Tabotsje, Poemori, Makalu…

Ons is nou werklik in die skoot van die Himalajas en dit is een van die mooiste gesigte denkbaar.

Ons stap ook verby die gedenkstene van talle klimmers en sjerpas wat al hier dood is. Agter die glimlag van hierdie pragtige berge is daar ’n strak gesig wat geen genade het nie. Die natuur – ongenaakbaar en onvoorspelbaar – regeer hier.

Tussen al die stene is daar ook een vir Scott Fischer, ’n ervare gids wat in Mei van 1996 saam met sewe ander mense op die berg gesterf het. Hierdie seisoen lyk dinge omtrent ewe erg. Minstens 11 mense het die afgelope paar maande op die berg gesterf.

Ons bereik die Khoemboe-gletser en is nou uiteindelik in die Everest-omgewing.

Maar die Groot E bly wegkruip.

By Loboetsje bly ons in ’n herberg en ek kry vir die eerste keer in ’n paar dae die kans om ordentlik te stort. Ek was my hare en maak dit droog voor ’n stofie wat met jakmis gestook word en voel soos ’n nuwe sikspens.

Dag 9: 3,7 km (Hoogte 5 170m) Laboetsje na Gorap-Sjep

Ons beur voort

Ek begin nou die gevoel kry van ’n perd wat stal ruik. Ná nege dae se klim wil ek die grootste berg van almal, Everest, mooi bekyk. En ek wil ook by die basiskamp uitkom om te sien van waar al die groot ekspedisies met hul finale aanslag op die berg begin.

Ons kom redelik vinnig by die hoogste kamp aan. Ná middagete durf sewe van ons Kala Patthar (wat “swart rots” beteken) aan. Dis ’n klein piek van 5 545m met ’n puik uitsig op Everest. Dit neem ons omtrent twee uur tot bo. Maar Everest is suinig en loer net vinnig vir ons deur die wolke.

Heel bo is dit ysig koud en ver onder vriespunt! Daar is ’n klomp gebedsvlaggies en klipstapels. Ek kry tog ’n warm gevoel in my hart, terwyl ek op ’n spits ver bo die valleie en gletsers staan.

Die donker daal vinnig neer en gewapen met my koplig draf ek om so gou moontlik onder te kom. (Dit moes na aan ’n rekordtyd af gewees het, want ek het die krane oopgedraai.)

Die berg wys ook sy ongenaakbare kant: By die lodge sit ’n ou van ’n Tsjeggiese ekpedisie in sak en as. Hy het pas ’n klimmaat en ’n sjerpa op die berg verloor. Dit demp die atmosfeer.

Dit sneeu tot binne-in die kamers, maar teen dié tyd het ek al ’n plan uitgewerk.

Ek maak my Camelbak-watersak vol met kookwater en gebruik dit as warmwatersak. Dit werk goed en ek het dan terselfdertyd drinkwater wat nie gevries is nie.

Dag 10: 8 km (Hoogte 5 300m) Gorap-Sjep na Everest-basiskamp

Eindelik: Die basiskamp!

Everest se basiskamp bestaan gewoonlik uit niks meer as ’n paar dosyn tente op ’n klipvlakte nie. Hiervandaan vertrek die ekspedisies, wat ’n aanslag op die kruin maak.

Ons stap. Die eerste uur kry ons net die bordjie wat aanwys dat ons op pad is na die basiskamp. Dan breek die oomblik aan waarna ek lank uitgesien het: Skielik glimlag Everest breed voor ons!

Die berg se bekende driehoek-vorm sit duidelik voor my. Die oomblik voel amper onwerklik.

Die sjerpas begin die plekke uitwys waarvan ek al so baie gelees het. Jy sien die Khoemboe-gletser met sy reuseysblokke.

Hoe skrikwekkend moet dit wees om met ysspore aan op lere daaroor te stap. Foto’s laat eenvoudig nie reg geskied aan die magtigheid van hierdie natuurtoneel nie.

Die sjerpa beduie na die Hillary Step, die laaste krans wat Edmund Hillary en Tensing Norgai uitgekap het op pad na die kruin.

Sterk emosies borrel in my op. Om die mag van die Himalajas te beleef, moet ’n mens self hierdie lang staptog aanpak en hier wees.

Die trek na Everest se basiskamp is ongetwyfeld een van die beste reise op die planeet. Niemand kan hiervandaan terugkeer, sonder om daardeur aangeraak te word nie.

Vir baie mense is die basiskamp nie ’n hoogtepunt nie, want dit is eintlik net ’n klomp tente op ’n dorre, bar stukkie klipgrond, maar vir my is dit ’n plek waar mense se drome begin.

Ek sit ’n ruk lank op een van die rotse. Ek is geïnspireer deur gewone ouens op die berg met buitengewone drome.

Kaart van die roete

Dag 11: Afraande huis toe

Op ’n galop huis toe

Nou is ons almal haastig en beweeg teen ’n goeie spoed berg-af.

Drie van ons pak ons eie klipstapel op ’n koppie naby Loboetsje waar ons ’n (egte) Nalgene-bottel begrawe met boodskappe vir geliefdes. Ons neem ’n GPS-lesing. As een van hulle ooit hierheen kom, behoort hulle dit te kan opspoor en dié betekenisvolle woorde en geskenk te kry.

Ons slaap oor in Peritsje, maar nou gebeur alles op ’n galop. Die suurstof raak ryker en maak almal meer energiek.

Ons bereik Loekla binne die volgende twee dae en danksy goeie weer kan ons die volgende oggend uitvlieg.

Terug by die hotel in Katmandoe geniet almal die luuksheid van die Hyatt. Ons eet ons laaste maaltyd daar, ter afsluiting van 20 dae saam, in die Rum Doodle restaurant. Almal wat al Everest se kruin bereik het, eet verniet daar. Dis ’n besonderse plek en die voetspore lê dik van die ouens wat al bo uitgekom het.

Ek keer terug as ’n ryker mens. Die berg het ’n klomp waarhede in my oor gefluister. Ek het diep vriendskappe daar gesmee – en dit het met baie pret gepaard gegaan.

En ek keer terug met die wete dat ek net ’n spikkeltjie hier op aarde is en dat daar ’n Skepper is wie se bestaan ’n mens intens beleef as jy in die wildernis van die Himalajas rondswerf.

Dít is iets wat ek vir die res van my lewe saam met my sal dra.

“Jy hoef beslis nie superfiks te wees nie,” sê Elana oor die staptog. “Maar jy stap tussen 3 en 8 uur per dag en lê 150km oor twee weke af. Jy geniet die roete meer as jy fikser is.”

Dis lewensgevaarlik; mense sterf op Everest. Hoe beskou jy dié situasie?

“Dit ís beslis gevaarlik, maar ek voel self sterk dat jy die risiko verminder as jy jou ordentlik voorberei, die regte toerusting het, saam met ’n ervare ekspedisie klim, die natuur respekteer en jou ego by die huis los.

“En hoewel die noodlot nie uitgeskakel kan word nie, is dit vir my ’n deel van die daaglikse lewe.”

• Hierdie is ’n verkorte weergawe van die artikel wat oorspronklik in Weg # 27 (Januarie 2007) verskyn het. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.