Daar is mense wat glo die vinnigste manier om jou liefde vir iets te laat taan is om dit jou werk te maak. Wanneer mense hoor ek werk vir Weg, is die reaksie dikwels: “Jy het seker die lekkerste job in die wêreld… julle is mos heeltyd op vakansie!”
Die waarheid is ja én nee. Ja, die werk is deksels lekker, maar dis steeds werk en nie ’n betaalde vakansie nie.
Byna elke Weg-kollega het ’n staaltjie hoe hy of sy buite seisoen in ’n misreën in ’n dolleë kampterrein ’n vuurtjie probeer stook sodat die broodnodige “gesellige kampvuur-selfie” geneem kan word.