Ja, die werk hoop op en dit lyk elke keer of daar te min ure in die dag is, maar dit is in hierdie tyd wanneer ek begin om presies te sien hoe die woorde en foto’s saamwerk om vir jou te vertel van al die interessante plekke wat ons skrywers en lesers besoek het.

Hierdie maand is geen uitsondering nie. Ek los altyd hierdie brief vir heel laaste – tot die span se groot frustrasie – maar wanneer ek uiteindelik daarby uitkom, weet ek presies wat in hierdie 124 bladsye op jou wag.

Ons geniet ons werk, en omdat jy hier lees, neem ek aan jy geniet dit om te reis en te kamp. Ons is nie mense wat daarvan hou om stil te sit nie.

Ek was juis in April saam met ’n klomp boere van Patensie en die manne van Algoa Nissan in Humansdorp op ’n onvergeetlike reis na Meobbaai in Namibië (my indruk oor die Patrol waarmee ons gery het, is hier en ek vertel in ’n toekomstige uitgawe meer oor die reis).

Maar die storie wat ek in hierdie uitgawe besonder geniet het, is die leserstorie waar Terrence en Debbie Cook van Amanzimtoti hulle epiese reis deur die land, tot in die suide van Namibië en terug, met ons deel.

Hulle vertel die storie só goed dat dit voel of ek daar is saam met hulle.

Ek wens dit was ek, maar dit is lekker om in die gees saam te ry.

Dit is natuurlik jammer om te hoor dat hulle op tuisbodem deel van die misdaadstatistiek geword het, maar die feit dat dié terugslag hulle nie van stryk gebring het nie, gee my moed.

Dankie vir die deel, Terrence en Debbie. Dit was lekker om saam met julle te reis. Bly veilig!

Die storie wat ek in hierdie uitgawe besonder geniet het, is die leserstorie waar Terrence en Debbie Cook van Amanzimtoti hulle epiese reis deur die land deel.