En baiekeer volg julle in ons voetspore – met die tydskrif as gids – omdat die lees ’n nuuskierigheid oor ’n spesifieke plek in julle gemoed losgewikkel het.
Maar dis net so lekker om as passasiers die wêreld saam met julle te verken, die verafgeleë plekke waar ons dalk nooit gaan kom nie (maar bittergraag wil): Patagonië, Turkye, Nepal, Viëtnam, Portugal, Noorweë. Daar gaan nie ’n week verby dat ons nié ’n foto ontvang van ’n leser wat êrens in die wêreld met ’n Weg in die hand breed glimlag nie. En ons besef weer ons lesers skrik nie vir ’n grens nie, of dit nou in Afrika, die Amerikas, Europa of Asië lê. Lees vandeesmaand byvoorbeeld Danelle Kritzinger se storie oor ’n ski-vakansie in die Amerikaanse deelstaat Arizona en haar besoek aan die Grand Canyon op bl. 64. Met elke storie soos hierdie leer ons hoe om die Suid-Afrikaanse rand soos ’n rekspringtou te laat rek sonder dat hy breek.