Jy kruie teen ’n pas uit, waarskynlik in donkierat sodat jy die rotse en slote kan vermy. Jy draai na jou geliefde wat met strak oë na die afgrond aan die linkerkant loer en sê: Skattebol, dís hoekom ons ’n 4x4 gekoop het. Verbeel jou ons het hierdie probeer doen in ons ou…” Maar jou selfregverdigende monoloog word onderbreek deur ’n Honda Jazz wat regs verby skiet. Gevolg deur ’n Toyota Hi-Ace propvol passasiers en bagasie wat twee keer toet voor dié jou ook verbysteek. Niks krenk die ego van ’n 4x4-eienaar soos ’n padreis deur Lesotho nie!
Ek het breed geglimlag toe ek Rey Janse van Rensburg se storie lees oor sy avonture in ’n kanniedood Kombi uit die jare sewentig. In hierdie era van verbruikersdruk waar bemarkers jou probeer oortuig dat enige avontuur sonder die jongste tegnologiese katoeter onmoontlik is, moet ’n mens daaraan herinner word dat ’n gewillige gemoed jou veel verder gaan bring as ’n duur ryding.
Ek het, veral as student, baie reise in Kombi’s soos Rey s’n onderneem, landwyd, op soek na ’n verlate strand en perfekte brander. Toe ek later my diensplig in Pretoria moes doen, ek het met elke naweekpas vinnig ’n groepie oudstudente van die Rhodes-universiteit bymekaar gekry.