Jy móét leeus en luiperds sien, én dan olifante, buffels en renosters op jou lysie afmerk. Dis ’n gejaag van een knoets wildkykvoertuie na die volgende, maar in die proses mis jy die Klein Vyfduisend: ’n Goudstertspeg wat miere van ’n mopanieboomstam af pik; ’n flapnekverkleurmannetjie wat suutjies ’n kewer bekruip, en ’n gesin vlakvarke wat in ’n stofbad baljaar.
’n Mens moet eers ’n hele ruk op ’n plek deurbring en dit gewoond raak sodat die “moetsiengoeters” nie meer allesoorheersend is nie. Eers dan gaan jy die kleiner dinge waardeer. Dít het ek opnuut besef toe ek ’n paar dae in die Weskus- nasionale park gebly het vir ’n artikel. Die besef was waarskynlik so groot omdat daar nie sprake is van die Groot Vyf nie.
Ek wonder toe later wat my gaan bybly van die besoek… Die eerste is ’n fietsrit vroegoggend deur fynbos. Voor my het ek iets gehoor, en toe doem ’n trop elande uit die mis langs my op. Ek het stilgehou en gekyk hoe hulle rustig ’n hanetree van my af deur die bos beweeg.