RUBRIEK: 1 studentemotor en 5 papsak-Picasso’s

akkreditasie
Die begrip “studentemotor” is nie net ’n selfstandige naamwoord nie. Dis ’n verskynsel, skryf Jaco Kirsten.

Oor baie dinge is ek nie seker nie. Goed soos: Wát presies sien Minki van der Westhuizen in Graeme Smith?

Dan is daar die skrumreëls. Of liewer, hoekom sukkel internasionale stutte so om dit te snap?

Aan die ander kant is ek darem oor ’n paar dinge seker.

Ek weet dat as jy nóú ’n paar vuil sokkies in die wasmasjien gooi, dan is een van daardie sokkies ’n uur of twee later skoonveld.

Ek weet ook wanneer ons nasate oor ’n paar eeue met argeologiese opgrawings doenig gaan raak, hulle ’n paar interessante ontdekkings gaan maak.

Dit gaan vir hulle voor die hand liggend wees dat die twintigste en een en twintigste eeu die goue era van die motor was.

En nes met fossiele en ou ruïnes in Rome en Athene, gaan hulle kopkrap oor wat waar inpas.

Veral een verskynsel gaan hulle uitboul: Automobilius universitatis – die goeie ou studentemotor. Want hoe is dit moontlik, sal hulle wonder, dat daar in ’n wêreld van vooruitgang en relatiewe welvaart sulke nederige rygoed kon bestaan?

Ene Derek, die verjaarsdagman, besluit toe sy ouerige bruin Mazda kort ’n “custom paint job”. Dis belangrik om te noem dat sy pa vir die kar betaal het, maar nóg belangriker om te boekstaaf dat Derek ons in daardie gevorderde stadium van die middag verseker het sy pa “sal glad nie omgee nie”.

Die argeoloë gaan kopkrap oor die feit dat die mensdom in 1969 al op die maan geland het, maar studentemotors van twintig jaar later – my eerste jaar op universiteit – tegnologies uit die Steentydperk dateer.

My studentemotor was enig in sy soort. Ja, dit was ’n 1974 Ford Cortina-stasiewa met ’n 2,5 liter-V6-enjin. ’n Big Six. Skeloranje met ’n bruin vinieldak. Bekend as die Batmobile.

Dit was ook nie lank nie, toe plak ek die Cortina vol blomme. Bloues, geles en ’n handgemaakte waarskuwing op die petrolklap wat lui “Jet A1” oftewel straalvliegtuigbrandstof.

Só gebeur dit toe dat ons in 1990 opruk na die Houtstok-musiekfees naby Pretoria.

Een van die hoogtepunte vir my was die matswart Kombi waarop in groen neonletters verklaar is: “Gee pad voor, hier kom G-kol Gert!”

Dan was daar die stof. Enigiemand wat daar was, sal jou kan vertel hoe stowwerig dit daar was – ons het dit sommer gou herdoop na Houtstof.

Die blomme op my motor moet taamlik verlep het onder die dik laag stof, wat seker verklaar hoekom ek later die aand ontdek het iemand het elke blom natgepiepie.

In die gees van die oomblik het ek gedink dis skreeusnaaks.

Later het ek my pa na sy bloeddrukpille laat gryp toe ek die Cortina se enjinkap, sykante en wieldoppe met Ndebele-kuns versier het.

Maar wat saak gemaak het, was dat die motor skielik nogal opvallend was.

Toe ’n blondine kort daarna ’n kompliment gee oor my ryding en my aanbod vir ’n rygeleentheid aanvaar, het ek gewéét dit was die regte keuse.

Studente kan improviseer. Toe ek besluit die Batmobile kort ’n radio vir ons intervarsity-opruk na Bloemfontein, was dit Klaas Kruger wat op kort kennisgewing vorendag gekom het met ’n Sanyo Rally II.

Ons het die radio een Saterdagmiddag oor ’n paar biere ingesit, sommer daar op die parkeerterrein agter die koshuis.

Klaas het die eerste die beste kragdraad wat hy gesien het, geknip om krag vir die radio te gee.

Eers ’n paar maande later, toe die reënseisoen aanbreek, het ek besef hy het die kragtoevoer na die ruitveërs geknip.

Ek was op pad huis toe toe die onweerswolke begin saamtrek.

Ek het besluit om van Potch af oor Parys Bloem toe te ry om die reën te omseil. Verniet.

Die laaste 20 km moes ek met my kop by die venster uit bestuur.

Op Parys het ons by ’n garage gestop en inderhaas Wynn’s C-Thru op die ruite gesmeer.

Ongelooflike goed. Dit laat die druppels letterlik soos water van ’n eend se rug af loop. En hoe vinniger jy ry, hoe beter werk dit!

Ek weet nie wat die mense gedink het van die oranje Cortina-stasiewa wat in gietende reën sonder werkende ruiveërs teen 120 km/h verby hulle geblits het op die N1 nie.

Om op Potch te studeer was nogal anders as op plekke soos Stellenbosch en Pretoria.

In my eerste jaar, in 1989, is ons die eerste keer toegelaat om op die kampus te dans.

Vandaar die grappie van die verloofde studentepaartjie wat  vir die dopperdominee gevra het of seks voor die huwelik dan so ’n erge sonde is as hulle in elk geval binnekort gaan trou.

Waarop die dominee verklaar het daar is wel “grys gebiede” in die Skrif, maar hy kan hulle verseker seks in die staande posisie ís sonde, “want dit kan lei tot dans.”

In daai dae is ons in ’n groot mate verbied om lekker dinge te doen.

En die bietjie wat ons toegelaat is, mog jy nie geniet het nie.

Dus was ons almal sondaars, en daar was ’n broederlike en susterlike kohesie van die Vervloektes.

Want op ’n vreemde manier, wanneer alles sonde is (selfs swem op Sondae), word níks uiteindelik sonde nie.

Op Potch was daar, behalwe rokjag, vleisbraai en rugby kyk, nie veel anders om te doen nie. Vir afwisseling het ons dié dinge soms by alternatiewe bestemmings soos die Potch-dam gaan doen.

Derek het bier in die hand elkeen ’n blikkie spuitverf in die hand gestop en ons aangemoedig om “mooi patrone” op sy Mazda te spuit.

Een Saterdagmiddag het ons weer by “die dam” gebraai en gekuier om iemand se verjaarsdag te vier.

Ene Derek, die verjaarsdagman, besluit toe sy ouerige bruin Mazda kort ’n custom paint job.

Dis belangrik om te noem dat sy pa vir die kar betaal het, maar nóg belangriker om te boekstaaf dat Derek ons in daardie gevorderde stadium van die middag verseker het sy pa “sal glad nie omgee nie”.

Wie was ons dan om te stry?

Ook nie lank nie, toe kom iemand te voorskyn met ’n paar blikkies spuitverf – twee skakerings van groen, ’n ligbruin en swart.

As kamoefleerpatrone daai tyd al hoogmode was soos nou, het die storie dalk ’n gelukkige einde gehad, wie weet?

Derek het bier in die hand elkeen ’n blikkie spuitverf in die hand gestop en ons aangemoedig om “mooi patrone” op sy Mazda te spuit.

Ek weet nie hoeveel Weg-lesers al die modernis Jackson Pollock se skilderye gesien het en wie bekend is met Calder se “mobile art” nie, maar hier had ons ’n kombinasie van dié twee: mobiele modernisme.

En dít op die walle van die Mooirivier, tussen papsakke en halwe bottels Diplomat-brandewyn. Geskep deur gewone ouens met name soos Ockie, Jannie, Koos, Thinus, Manus en Coert. (Laasgenoemde was ’n kleinseun van die beeldhouer Coert Steynberg, maar het daai middag met sy handewerk enige aanspraak op sy oupa se gene verbeur.)

Buiten ek en Coert wat kuns tot in matriek gehad het, was die res ’n klomp kulturele Filistyne.

Tog was dit amper aandoenlik om te sien hoe manne uit plekke soos Carletonville, Fochville, Stilfontein en Orkney tussen teue brandewyn-en-Coke wroeg oor dinge soos balans, komposisie, kleur en tekstuur.

Tussendeur het hulle begrippe soos “kief”, “lekker”, “kwaai” en “bevange” rondgegooi om hulle vordering te beskryf.

“Wroeg” is egter ’n baie ontoereikende begrip vir waarmee Derek die volgende oggend gekonfronteer is toe hy sy versierde Mazda nugter aanskou.

Wat die vorige middag so uniek en skeppend gelyk het langs die Potch-dam, het hom nou getref soos ’n vreemde vrou langs wie iemand een oggend wakker word – een wat báie minder aantreklik is as die een waarmee hy die vorige aand huis toe is ná te veel rooi wyn.

Toe ons weer vir Derek gewaar, was hy aan ’t ry in die einste Mazda – met sy kop laer in die motor as die bestuurder van ’n Opel Superboss in Goodwood.

Hy’t later half verleë, half ondeund oor ’n bier laat deurskemer sy pa wil hom “doodbliksem”.

Gaan kyk ’n bietjie by die kampusse van vandag. Wat sien jy?

Nuwe motors. Duur, blinkes. Waar’s die Vollas? Die Datsun 1400-bakkies? Die Cortinas? Die stokou Golfies?

En wat het jy oor om na uit te sien as jy op 20 reeds ’n splinternuwe motor ry?

Die argeoloë gaan kopkrap oor die feit dat die mensdom in 1969 al op die maan geland het, maar studentemotors van twintig jaar later – my eerste jaar op universiteit – tegnologies uit die Steentydperk dateer.

Ja, destyds was daar nie selfone nie.

Ook nie Sony Playstations of die internet nie – net so ’n geheimsinnige rekenaarnetwerk op kampus wat bekend gestaan het as Puknet en wat, wat ons betref, direk by die Illuminati se hoofkantoor ingeprop was.

Maar ons het geweet wat ’n studentemotor is. Ons het self die olie vervang.

Self die vonkproppe omgeruil.

Ons het geken van goedkoop versoolde bande by Checkers.

Hier’s nog ’n ding waaroor ek nie seker is nie: Ek wonder of die komende geslagte ooit sal weet Holt’s Gun Gum, ’n Coke-blikkie en bloudraad is nét die ding om ’n gat in ’n knaldemper mee ore aan te sit...


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #15 (Januarie 2006) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.