Rubriek: Alternatiewe karre op die “alternatiewe” roete

akkreditasie
Op talle agterpaaie in ons land kruie daar interessante karre voort na hul bestemming. Dana Snyman vertel.

Dit gaan goed met die boompie wat daardie oom anderdag langs die pad vir my present gegee het. Hy groei mooi.

Ek het ’n afspraak op Lephalale gehad en is effe laat uit Pretoria weg.

En toe begaan ek boonop ’n oordeelsfout: Ek neem die R101, die “alternatiewe roete” deur Bela-Bela en Modimolle, eerder as om met die N1 tot by Kranskop te ry en daar af te draai.

Die R101 is wel korter Lephalale toe, maar deesdae is dit die ryplek vir ieder en elk wat die N1 se tolhekke wil systap en spietkops wil ontduik.

Of miskien moet ek eerder sê: Dis die ryplek vir almal wat waarskynlik nie die ekstra R80 of R100 tolgeld tot by hul bestemming kan bekostig nie, want lanklaas het ek so ’n stoet afgeleefde, ou rygoed gesien: Chev Chevairs, rokende Opel Asconas, Datsun Stanzas, selfs ’n verdwaalde Ford F100-bakkie uit die 1970’s met drie oorblufte boerbokke agterop.

Dis vreemd, maar dit is amper asof daar ’n “survival of the unfittest”-reël vir karre geld, want baie van daardie ou modelle wat jy op paaie soos die R101 sien, was op hul dag nie juis gewild of gesog nie.

Ek is altyd lugtig vir ’n bestuurder met ’n hoed en donkerbril op (ongeag watter voertuig hy of sy ry), veral as hy so lekker laag agter die stuurwiel ingesink is.

Neem byvoorbeeld die Colt Galant, ’n model met so ’n onelegante hangstert wat hom in 1980 die eerste keer in Suid-Afrika vir diens aangemeld het.

Niemand wat ek ken, het destyds ’n Galant gehad, of selfs een begeer nie. Dit was die tyd van die Ford Granada, die Chev 4.1 en daardie droomwa vir elke aspirant skoonheidskoningin en senior staatsamptenaar in die ’80’s: Die Alfetta.

En tog het ek nie een Granada, Chev of Alfetta daar op die R101 gesien nie. (Trouens, is daar iemand wat in die laaste vyf jaar iewers ’n Alfetta gesien het?)

Dit is asof al daardie mooi karre van destyds van die aardbol weggeraap is.

Maar op die R101 was daar ’n hele optog van vanmelewe se lelike eendjies: ’n Chev Nomad, ’n Mitshubisi Tredia, ’n Hillman Vogue (hy het wel langs die pad gestaan, met die enjinkap oop), ’n Vauxhall Viva en twee Galants.

Byna al daardie ou karre op die R101 was oorlaai. Party se kattebak is met tou toegebind, omdat dit te vol was.

Byna al die bakkies – ou, lomp Mazda 1600’s, Datsun 1200’s, Chev LUV’s – het kappies opgehad. En op die kappies was meestal ’n vrag goed en onder dit ’n vrag mense

Ek was deksels haastig.

Maar as jy eers op die R101 is, is dit moeilik om terug te kom op die tolpad, mits jy omdraai en al die pad terugry na die afrit toe.

Boonop is die R101 se loopvlak smal en plek-plek vol slaggate en tussen Bela- Bela en Modimolle is allerhande skelm draaitjies en, wel, ek sê nie sulke ou karre se bestuurders is gevaarliker as ander nie, maar jy kry tog die vermoede dat hier iewers in die streek ’n plek is waar jy ’n rybewys kan bekom, sonder om parallelparkering en die gevreesde driepuntdraai te hoef baasraak.

Ek moes maar op my tande kners en deurdruk.

Dis ’n anderster gevoel om in so ’n moedelose stoet ou karre aan te kruie, met ’n ratelende Datsun Stanza voor jou en agter jou ’n Galant wat geel was voor die son hom beetgehad het, maar nou ’n bleek deegkleur is.

Mettertyd het dit begin voel of ek terug is in die 1980’s. Dit het ook ’n bietjie gevoel of ek op pad is na ’n begrafnis – een vir verlore drome.

Ná ’n ruk kon ek darem daardie Stanza en die hele string rammelkaste voor my verbysteek.

Maar die R101 laat jou nie so maklik met rus nie.

Net buite Bela-Bela kom sit ’n Nissan Langley op my stert. Ek kyk in my truspieëltjie en sien slegs ’n wit keppie wat net-net bokant die stuurwiel uitsteek.

Dis nooit ’n goeie teken nie. Ek is altyd lugtig vir ’n bestuurder met ’n hoed en donkerbril op (ongeag watter voertuig hy of sy ry), veral as hy so lekker laag agter die stuurwiel ingesink is.

En toe sien ek ’n volgende onrusbarende ding: Hy het nie ’n buffer nie en die enjinkap is rooi, terwyl die res van die bakwerk blou is.

Maar op die R101 was daar ’n hele optog van vanmelewe se lelike eendjies: ’n Chev Nomad, ’n Mitshubisi Tredia, ’n Hillman Vogue (hy het wel langs die pad gestaan, met die enjinkap oop), ’n Vauxhall Viva en twee Galants.

Die Langley het dus reeds ’n ongeluk, dalk twee, agter die blad. Moeilikheid op wiele.

Die volgende oomblik skuur die Langley op ’n sperstreep verby my, met sy deurgeslyte ringe wat vergeefse rookseine by die uitlaatpyp uitstuur.

Maar skaars ’n kilo verder, toe verminder hy opeens sy spoed drasties tot so 55 km/h en ry rustig voort, amper soos ’n vliegtuig wat pas sy kruishoogte bereik het.

Tipies. Tipies.

Maar ek bly kalm. Ek wag tot daar geen verkeer van voor af kom nie en gaan weer by hom verby. En in die verbygaan, tel ek: Agt passasiers.

Sulke oorlaaide karre se passasiers interesseer my.

Dit lyk nooit of hulle met mekaar gesels nie. Party – veral dié agterop bakkies – sal soms ’n bottel wat in bruinpapier toegedraai is, tussen mekaar rondstuur.

Ander sal met ’n geknakte nek sit en slaap, maar die meeste sit net en staar stil voor hulle uit, in jou rigting.

Wat is dit aan die manier waarop mense agterop bakkies altyd na jou kyk? Hoekom laat hulle jou altyd effe skuldig voel? Waaraan dink hulle?

Baie van hulle is seker op pad na hul familie in die landelike gebiede, dink ek, terwyl die Langley al kleiner in die truspieëltjie raak.

Hulle werk in die stad as huishulpe of petroljoggies of messelaars en kry net nou en dan kans om na hul eintlike huis te gaan, gelaai met ’n klomp goed wat hulle in die stad gekoop het: Matrasse, fietse, stoele...

En ek sit nog so en dink, toe vang my oog ’n gedane Mazda-bakkie langs die pad. Hoog belaai.

Sulke bakkies word dikwels deur ’n statige oompie bestuur.

Soms is hy uitgevat in ’n effe deurgeskifte baadjie en as jy aan sy houding agter die stuurwiel moet oordeel, lyk dit of hy teen 180 km/h voortsnel: Hy is die ene konsentrasie, albei hande om die stuurwiel geklem, sy skouers waterpas, effens vooroor geboë, sy oë stip op die pad voor hom gerig... terwyl hy teen so 60 km/h aankruie.

Hierdie ooms se onvoorspelbaarheid agter die stuurwiel is meestal voorspelbaar: As dit lyk of hulle voor jou gaan indraai, dan gáán hulle.

Maar as hul regterkantse flikkerlig aan is, is daar daar ’n goeie kans dat hulle links gaan draai.

Of dís wat die oubaas in daardie Mazda-bakkie langs die R101 gedoen het: Hy het links gewys en regs gedraai.

Ek het vinnig en skerp rem getrap en uitgeswaai, toeter gedruk, ligte geflits en gevloek – omtrent alles tegelyk.

En tersefdertyd, toe swenk die bakkie woes links van die teer af en toe hy links swenk, toe swenk daardie hoë vrag op die kappie se dak in allerhande rigtings.

En toe is dit net matrasse en sinkplate en sakkies aartappels net waar jy kyk.

Ek kon aanry, want dit was nie ’n ongeluk nie.

Ons karre het mekaar nie geraak nie, slegs sy goed het van die dak getuimel.

Maar ek was dadelik vies.

En toe hou ek stil en stoot terug tot by die oom wat intussen uit die bakkie geklim het.

“Wat gaan aan met julle, Oupa?” vra ek vir hom nog voor my deur oop is. “Wil julle ’n mens verongeluk?”

Die ou kêrel staan net daar tussen die klomp goed wat oor die gruis langs die pad gestrooi lê en kyk deur ’n ouderwedse swartraambril na my.

Wat is dit aan die manier waarop mense agterop bakkies altyd na jou kyk? Hoekom laat hulle jou altyd effe skuldig voel? Waaraan dink hulle?

Toe sê hy iets.

Kalm sê hy dit in Sotho of Tswana of ’n taal wat ek nie verstaan nie.

Toe stap hy stadig na die Mazda se agterkant en swaai die kappie se klap oop.

En toe begin daar mense uitklim: Eers ’n groot tante met ’n bont kopdoek, dan ’n jong seun met ’n verlepte sokkerbal in die hand, dan ’n vrou met ’n baba, dan twee mans in blou oorpakke waarop staan Ted’s Electrical, dan ’n meisie met verskeie kammetjies in haar hare.

Heel laaste klim ’n tante in ’n geblomde rok uit en sy is sommer op die daad omgesukkel.

Sy beduie na my en sê allerhande goed vir die oompie in daardie taal wat ek nie verstaan nie.

Die ander begin solank van die goed optel wat rondom die bakkie gestrooi lê: Die matras en die aartappels, twee sinkplate, ’n rol ogiesdraad, ’n deurkosyn, drie houtpale, ’n driebeenpot, ’n bliktrommel, ’n gebuigde kombuisstoel, twee reuse-pakke kaaskrulle wat wonder bo wonder nie oopgeskeur het nie.

Een ná die ander bring hulle dit terug na die bakkie toe.

Maar die tante in die blomrok help nie.

Sy sê iets vir die ou man en die ou man sê iets terug en toe leun hy agter by die bakkie se kappie in, want daarbinne was nog goed: Volgepropte seilsakke en ’n rol komberse en twee jong boompies in swart plastieksakke.

Toe haal die ou man een van daardie boompies uit.

“I’m so sorry,” sê hy, glimlag tandeloos en hou dit na my uit. “I’m so sorry.”

Ek het die boompie maar gehou en toe ek weer terug by die huis in Pretoria kom, het ek dit geplant. Hy groei mooi, daardie boompie.

Iewers in aanstaande jaar behoort ek die eerste suurlemoene te kan pluk.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #25 (November 2006) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.