Rubriek: Altyd plek vir nog ene!

akkreditasie
Jean Meiring het met sy bleek beentjies op ’n minibus-taxi in Pretoria beland...

Hulle sê ’n mens vergeet nooit jou eerste keer nie. In my geval was dit onlangs eers, op die rype ouderdom van 34.

Boonop, van alle plekke, in Pretoria: Teen ’n stewige spoed, héélpad van Hatfield af tot by die Menlyn-sentrum.

Dit was my heel eerste rit in ’n minibus-taxi.

Wat vir die meeste Suid-Afrikaners ’n alledaagsheid is, was dié stowwerige Vrydagmiddag in Desember vir my op ’n vreemde manier ’n anderwêreldse ervaring.

Dit was maar my tweede dag terug in die land, meer as twee jaar sedert my vorige besoek uit Cambridge, waar ek klasgee.

Ek het vroeër, lugtig vir die sakkerollers waarvan die koerante vol was, my beursie en bankkaarte tuis gelos en net die nodige saamgebring.

Teen laatmiddag het net ’n hand vol munte in my broeksak geraas, sekerlik nie genoeg om ’n taxi te bestel nie – dis nou die tipe wat ek ’n gewone taxi sou noem.

Ek was nie lus vir terugstap huis toe om ’n bankkaart of nog kontant te gaan haal nie.

Met ’n hap waagmoed wat my versigtigheid van vroeër irrasioneel en dom laat voorkom het, het ek vinnig die besluit geneem, sonder om te veel daaroor te dink.

Hoe erg kon dit tog wees?

Hoeveel duisende gewone mense reis dan nie elke dag heen en weer werk toe in dié vaartuie nie?

Toegegee, hulle’s berug vir hulle skouspelagtige oorlading: Twee keer die hoeveelheid passasiers wat toegelaat word, die laaste een boonop ’n soustannie.

Ook vir roekelose volgafstande en, natuurlik, hulle gejaag. Terwyl ek nader stap, het ek ’n klompie vroue op ’n effense afstand sien saamdrom, baie van hulle met swaar inkopiesakke in die hand en ’n moeë, beleë uitdrukking op die gesig.

Toe ek die tantes bereik en so in die algemeen vra of ek hiér ’n taxi Menlyn toe haal, het een of twee stadig, dalk agterdogtig, in my rigting geknik.

My skril vel en manier van praat moet verklap het ek is van elders – waar dit waarskynlik nie aldag mooiweer en warm is nie.

Toe ’n bussie die halte ál toeterend nader en tot stillstand knars, is ek vorentoe gepor, deur toe. In ’n veilige hawe net agter die bestuurder is ek sitgemaak.

Binne die taxi was ’n wêreld wat voorheen, soos ’n deur in Bloubaard se kasteel, geslote was vir my. ’n Wêreld wat ek nou met deernis kon betrag.

Die taxi was stil, die mense meestal bedees.

Met ’n lang werkdag agter die rug wil ’n mens nie sit en praatjies maak nie.

Jy wil die gewig van jou moeë bene afhaal, en so in die noute van die taxi, op jou boude, jou ewewig herwin.

Jy wil jou gedagtes oor die inhoud van jou inkopiesakke laat struikel en dink wat jy nou weer vir vanaand gaan maak om te eet.

’n Vingerpunt teen my regterskouer ruk my skielik uit my mymering. Grootoog kyk ek om.

’n Hand met munte en banknote daarin word na my toe uitgestrek. “Four,” sê die jong vrou.

Vir ’n oomblik kyk ek haar verdwaas aan. “Four what?” wil ek vra.

Dan, as die vrou voor my omdraai en haar hande bak uithou, verstaan ek.

Ek moet vorentoe aangee. Dis vier maal R7, die betaling vir vier van die passasiers agter my.

Dit word opgevolg deur ’n platgeveegde noot vir twee passasiers se rit. En dan kom ’n hand vol note en munte nader – betaling vir vyf.

En so gaan die aanstuur van stuiwers stil en sonder teëstribbeling voort.

Vyf minute nadat ons rit begin het, kom enkele munte weer uit die teenoorgestelde rigting: Kleingeld. Dié gaan, sonder instruksie of fout, na hulle eienaars.

Toe ek die Menlyn-sentrum ’n ent in die verte sien opdoem, maak ek my nek opsigtelik lank, en rek – vraend – my oë.

“Ek stop sommer hier. Jy stap net so oor die pad,” sê die bestuurder toe, in Afrikaans.

Toe ek daardie middag eens en vir altyd my onskuld kwyt is, was die koeël deur die kerk.

In die dae wat gevolg het, met elke rit in hierdie en in daardie rigting in Pretoria, het my selfvertroue, my grepies gewaande taxi-kundigheid, gegroei.

Toe ’n vriendin my een middag kort voor Oujaar nie in Sandton kon kom oppik nie, besluit ek daar en dan: Wat in Pretoria geld, kan my sekerlik in Johannesburg van Sandton tot by Cresta kry.

Terwyl ek my rigting na ’n halte probeer kry het, het ’n reëntjie uitgesak. So in die loop en soek stap ek byna vas in twee ouer vroue.

Met ’n hooggestapelde trollie is hulle ook op pad taxi toe.

Die taxi-halte is hier teenaan Sandton City, lig hulle my in. Die een vrou, ’n hotelwerker, het net daar haar vriendin gegroet en beduie ek moet haar volg.

By die halte, stampvol van meer as honderd taxi’s, skree sy ’n vraag in die rigting van ’n paar leepoë agter die stang van ’n vaartuig.

He’s drunk,” sê sy. Diékant toe, knik sy. Ek sal eers ’n taxi Randburg toe moet haal en dan ’n volgende ene wat my naby die Cresta-sentrum aflaai.

Ons staan langs die pad. Sy wys my hoe beduie ’n mens vir ’n taxi jy mik Randburg toe: Jou hand draai jy skuins, met die vingers wat netjies langs mekaar plat lê.

Every place has its own sign.”

Ná tien minute het geen taxibestuurder nog enige belangstelling getoon in ons plat hande nie.

We’ll go to the other side of the centre. They stop there too.”

Ons koes vir plasse reënwater terwyl ons die taxi-halte oorsteek. Dan wys sy straataf.

Daar onder by die hotel moet ek wag, want net dáár pik die Randburg-taxi’s mense op.

Sy dring daarop aan ek moet haar selnommer vat; ek moet vir haar ’n SMS stuur as ek tuis is.

By die aangewese wagplek vra ek ’n skraal outjie of ek op die regte plek is. Ja, glimlag hy.

Hy gaan ook Randburg toe, en van daar af ook na die Cresta-sentrum.

Binne die taxi was ’n wêreld wat voorheen, soos ’n deur in Bloubaard se kasteel, geslote was vir my. ’n Wêreld wat ek nou skugter, en met deernis, kon betrag.

Toe ’n Randburg-taxi tien minute later stilhou, is ons al dik tjomme, en op die heel agterste bank waar ons soos sardientjies sit, gesels ons land en sand.

Sy naam is Seck, hy is oorspronklik van die Ivoorkus en woon al tien jaar in Johannesburg.

By ons eindbestemming ruil ons telefoonnommers uit en skud hand.

Teen dié tyd is my skugterheid van vroeër meestal weg. My bestemming spreek ek telkens luid uit teenoor die bestuurder; links en regs vra ek om hulp.

Hulp is byna altyd beskikbaar.

Een Saterdag is ek weer sonder ’n lift, en ek besluit om die rit van Pretoria af Randburg toe aan te pak. As R16 hiervoor nie ’n bargain is nie, weet ek nie so mooi nie.

In Hatfield spring ek in ’n taxi middestad se kant toe.

By die Pretoriase stasie, waar ek die halte soek waar die Randburgtaxi’s vertrek, bedek smouse die sypaadjies.

Geblikte Saterdagmusiek vul die lug.

In die taxi sit ek heel voor en moet dus, die heel eerste keer, die passasiers se geld insamel.

Sonder uitnodiging stroom die bedrae vorentoe, altyd twee of drie of vier se geld so saam-saam.

Op skool was my wiskunde nie te vrot nie, maar hier, in die hitte van die stryd, kan ek kwalik tel.

Maar as dié taak eers agter die rug is, raak ek en Thandi, langs my, aan die gesels. Sy’s ’n  naaldwerker; sy is vir die naweek op pad na haar suster.

Met haar onderneming, sê sy, gaan dit só goed, sy gaan vanjaar twee vroue in diens neem.

Ek skryf haar nommer neer en gee dit later vir my vriendin wie se voorkamer nog gordynloos is.

Dis net ek, Thandi en die bestuurder en nóg ’n glimlaggende man wat in die taxi oorbly toe ons daardie dynserige laatmiddag verby Diepsloot ry.

“Is dit nie vreemd vir julle dat ’n wit mens saam met julle ry nie?”

Hulle kyk my verbaas, effens geamuseerd aan.

“Dinge is nie meer só nie,” sê die ou in die sitplek agter my.

Die binnekant van ’n string minibus-taxi’s het oor ’n tydperk van vyf weke ’n deur vir my oopgemaak,

’n deur op ’n wêreld wat nóg ek nóg so baie ander Suid-Afrikaners ken.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #46 (Augustus 2008) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.