Rubriek: Daai droewige Krismis

akkreditasie
Skets: Fred Mouton
Skets: Fred Mouton
Hoe meer jy in die buiteland reis, hoe groter is jou waardering vir jou eie land, het Anim van Wyk op ’n werksvakansie op die Engelse platteland besef. Sy het selfs (amper) vir Madonna weggejaag.

Jy was nog nie werklik alleen as jy nie ’n Kersfees op jou eie deurgebring het nie. Ek het deur die wêreld verlaat gevoel terwyl ek op my eie in ’n plattelandse pub in Engeland aangesit het vir my Kersmiddagete: hoenderschnitzel, kapokaartappels en ertjies.

Dit was al wat ek in die pub se spens bymekaar kon kry om vir myself te maak. Die kers wat ek opgesteek het, het moedig probeer om die ete darem ’n bietjie meer spesiaal maak.

Dit was aan die einde van my eerste jaar op universiteit toe ek net meer as twee maande in Engeland gaan werk het.

Teen £130 per week, verblyf en etes ingesluit, was die werk in The Crown in Alvediston, ’n piepklein dorpie ongeveer 30km wes van Salisbury, Wiltshire, ’n gawe manier om geld te verdien en ’n bietjie te toer.

Ek het letterlik agter die kroeg gebly. Jy moes agter die kroegtoonbank verby en deur die kantoor stap om by my kamertjie uit te kom.

Dit het my so ’n bietjie soos Aspoestertjie laat voel, maar ek het darem my eie badkamer gehad. (Toe my ouers ’n paar jaar later in Engeland was, het ek hulle na The Crown beduie. My ma het in trane uitgebars toe sy die plek sien, maar gemaak of sy haar kop teen die kardeur gestamp het).

Ek was die kroegmeisie, skoonmaker én kelnerin (en soms ook skottelgoedwasser). Reg van die begin af het dit maar beroerd gegaan.

As deel van my werkonderhoud moes ek ’n tafel dek, en het die mes en vurk omgeruil.

Paul, die landlord, het my skeef aangekyk, maar seker gedink ons weet nie van beter in “donker Afrika” nie. En my laat bly.

The Crown bestaan al sedert die 15de eeu, en het al ’n keer of wat afgebrand. Langerate moet buk om nie hulle kop teen die swaar houtbalke te stamp nie (ja, die balke het telkens die vlamme oorleef), en die vensters is sulke klein vierkantjies glas, amper soos laslappies.

In my tyd by The Crown het ek seker drie keer deur die swaaideur na die kombuis probeer stap met ’n skinkbord vol breekgoed, presies wanneer iemand van die ander kant af kom...

Paul was gelukkig nie té kieskeurig nie, want dit is ’n gesukkel om personeel in hierdie afgeleë dorpie te kry.

The Crown bestaan al sedert die 15de eeu, en het al ’n keer of wat afgebrand. Langerate moet buk om nie hulle kop teen die swaar houtbalke te stamp nie (ja, die balke het telkens die vlamme oorleef), en die vensters is sulke klein vierkantjies glas, amper soos laslappies.

Ná meer as 500 jaar se voete is die drumpel al deurgetrap. The Crown was en is die locals se bymekaarkomplek (en dit word baie meer gereeld as die Anglikaanse kerkie besoek, sou ek daardie Kersoggend agterkom).

Paul het sy klante só goed geken dat hy uit die vorm van die hoofligte wat by die pub se venster inskyn voordat die kar gaan parkeer, kon sien wie op pad is.

Dan sou hy sommer al die regte glase afhaal – Bill het byvoorbeeld altyd ’n pint ale (drie vir die aand) bestel, en sy vrou, Iris, ’n whisky met sodawater (twee van hulle).

Die pub was net weggesteek genoeg dat ’n paar bekendes ook kom inloer het. Die skrywer Terry Pratchett, wat op die volgende dorpie gebly het, het byvoorbeeld af en toe ’n draai kom maak. Een aand het die voormalige Britse premier sir Edward Heath alleen kom aansit vir ’n rib-eye-steak terwyl sy lyfwag in die motor gewag het.

En dan was daar die aand wat ek so amper vir Madonna en Guy Ritchie weggejaag het...(Dit was in gelukkiger dae, toe die Engelse plattelandse leefstyl – én Guy – Madonna nog bekoor het. Hulle landgoed was blykbaar nie ver van die pub af nie).

Dit was twee dae voor Kersfees, en ’n láng, besige dag. Waar ek gewoonlik tussen drieuur en sesuur smiddae ’n tydjie af gehad het, kon ek nou om vyfuur vir die eerste keer gaan sit en middagete eet.

Ongelukkig het ek langs die deur gesit, en toe daar ’n klop was, kon ek dus nie maak of ek dit nie hoor nie. Ek het sleepvoet deur toe gestap en merkbaar geïrriteerd die deur oopgemaak.

“Jammer, Meneer, ons is toe,” het ek vir die man gesê terwyl ek op my horlosie kyk.

Julle kan weer sesuur kom.”

“Maar daar is dan mense binne,” het hy teruggekap. Ek het verduidelik dis ’n private Kerspartytjie wat lankal gereël is. “Ag, net ’n vinnige een?” het hy pleitend gevra. Ek het my oë gerol en gesê hulle kan maar binne kom wag terwyl ek toestemming vra by die landlord.

Toe hulle instap, sien ek die eerste keer die vrou agter hom: Madonna! Ek het haar nie herken aan haar kort postuur, muisbruin hare of plooie nie, maar aan die pelshoed van £1000 op haar kop waaroor ek die vorige dag in die poniekoerante gelees het.

“Paul! Paul! Madonna en Guy Ritchie is hier...” het ek dringend vir my landlord gaan fluister. Hy het blitsig toestemming gegee dat hulle maar kan kan bly, en vir hulle ale geskink.

Toe het ons ewe fluks en nonchalant glase begin poleer agter die toonbank terwyl ons ons ore spits om te probeer hoor waaroor hulle gesels.

Paul het ’n splinternuwe blou Volkswagen Kewer gehad, maar hy het dag in en dag uit in The Crown se parkeerterrein bly staan. Ek kon nie verstaan hoekom hy nooit daarmee ry nie. Een aand laat het Paul sy geheim met my gedeel: “Ek is gevang vir dronkbestuur en my rybewys is vir 18 maande opgeskort,” het hy gebieg. “Maar die locals mag nie weet nie.”

Hy was dus ’n gevangene in sy eie pub, want as hy dit durf waag om, soos ek, bus te ry, sou die locals dadelik lont ruik. Die arme man moet vreeslik allenig gevoel het. Hóé allenig het ek besef toe ek op ’n dag verby sy kamer op die eerste vloer loop en die opblaaskussing in sy bad sien. Dit was in die vorm van ’n vrou se arms, sodat dit voel of jy vasgehou word wanneer jy terugleun.

Ons sjef was Minos, ’n “mal Griek” uit Zimbabwe. Hy was nie net tipies Mediterreens temperamenteel nie, maar waarskynlik bossies nadat hy in die destydse Rhodesiese bosoorlog geveg het.

Maar Minos het ’n Renault 5 gehad, en dus kon hy daardie Kersdag ontsnap. Paul se pa het hom kom oplaai vir ’n dag saam met die familie.

Ná my middagete vir een in die pub – onder die Kersversierings wat ek en Paul ’n paar dae tevore met ’n kramgeweer aan die amper 600 jaar oue balke vasgeskiet het – het ek die fliek Oliver op televisie gekyk. Ek kon dit nog nooit weer kyk nie.

En ek? Op Kersdag is daar geen openbare vervoer in Engeland nie, en omdat ek nog nie mondig was nie, mog ek nie ’n kar huur nie. Kersdag alleen in Alvediston was my voorland.

Daardie oggend is ek na die plaaslike Anglikaanse kerkie toe vir die Kersdiens. Dán het ons gestaan, dán het ons weer op kussinkies gekniel, en tussendeur het ek verward deur die gebedeboek geblaai en probeer byhou met al die belydenisse.

Ná my middagete vir een in die pub – onder die Kersversierings wat ek en Paul ’n paar dae tevore met ’n kramgeweer aan die amper 600 jaar oue balke vasgeskiet het – het ek die fliek Oliver op televisie gekyk. Ek kon dit nog nooit weer kyk nie.

Gelukkig was ek darem nie die héle Kersdag alleen nie, want een van die locals het my vir aandete genooi. Die mense op die Engelse platteland is warm en dierbaar. Nadat ek geleer het om die swaar Wiltshire-aksent te verstaan, het ek heelwat vriende gemaak – soos John en Maud, wat vir my kaartjies gestuur het toe ek al terug in Suid-Afrika was.

Daardie nege weke op die Engelse platteland was ’n absoluut wonderlike ervaring. En ook ’n draaipunt.

Naby Alvediston is ’n kasteel, Old Wardour, wat in 1393 gebou is. Soos die kraai vlieg, was dit net 8 myl van The Crown af, maar omdat ek nie ’n motor gehad het nie, sou ek die bus al die pad tot op Salisbury moes vat, en van daar af weer ’n ander bus om by die kasteel te kom.

’n Reis van by die twee uur. Óf stap.

Ek het begin rondvra: Is die kasteel soveel moeite werd? “Sorry, no, I’ve never been there,” het almal vir my gesê. Ek kon my ore nie glo nie! Daar en dan het ek besluit: Só gaan dit nie met my in my eie land wees nie.

En ek het my heimlik voorgeneem om ál die dorpe in Suid-Afrika te besoek.

En nadat ek Riemvasmaak en Pella op my lysie afgemerk het, lyk hierdie voorneme nie meer so vergesog nie.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #83 (September 2011) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.