SKETS: FRED MOUTON 

Elke jaar wanneer ons gebukkend oor koffers en bokse staan vir die vakansie-inpak, sal iemand vra: “Onthou julle nog dáái vakansie?” Dan kom almal orent en kyk mekaar aan soos net mense met kennis van ’n gedeelde ervaring wat jou verwond gelaat het, kan doen.

Dáái vakansie se aanloop moes ons al ’n idee gegee het dat dinge nie goed gaan verloop nie. Die huurders van ons seehuis het, soos huurders soms geneig is om te doen, ná ses maande verdwyn sonder om hulle huur te betaal en hulle nalatenskap sou die vakansie reggemaak moes word sodat ons die huis weer die volgende jaar kon verhuur.

Die elektronika van ’n tweedehandse Nissan-bakkie wat op ’n veiling aangeskaf word om alles in te laai wat ons vir ’n maand in ’n ongemeubileerde huis nodig sou hê, blyk so deurmekaar te wees dat selfs die outo-elektrisiën eerder gaan Kersfees hou as om ons bakkie reg te maak.

Die gevolg was dat die hele trek in ons Renault Scenic en ’n sleepwa ingeprop word waarvan die deksel ná die pakslag doer staan en met toue vasgebind word.

Drieuur die nag klim ons – dis nou ek, in daardie stadium my nog vriendelike man, twee vaak seunskinders, ’n waansinnige skaaphond (Kolle) en ’n baie opgewonde staffie (Friggidumpus) – in die kar vir die tog uit Kaapstad na Port Elizabeth.

Tien sekondes oor drie stop ons onder die lamppaal voor die huis – die sleepwa het ’n pap wiel! Ek laai uit: kinders, honde, handsak, koelboks. My man bel die AA.

Twee uur later, en nadat RSG se deurnagdiens uit die AA-man se trok die hele buurt wakker het, klim ons terug – ’n minder vriendelike eggenoot, twee baie knorrige kinders, twee ooropgewonde honde en die koelboks.

Iewers naby Swellendam besef ek iets kort: my handsak. In die handsak is ons lewe. Ek het juis met die inpakslag alle beursies, elke los geldjie wat in die kar gelê het, almal se selfone, ons identiteitsdokumente – álles – daarin gegooi. Dus is ons geldloos, foonloos en identiteitloos. My man, in daardie stadium nie eens meer na aan vriendelik nie, sê hy draai nie om nie – ons ry tot waar die petrol opraak, dan sit ons die res van die vakansie daar en kyk die karre vol mense met geld vir petrol wat verbyry.

Ons bedink tog maar alle moontlikhede en in die sleepwa, wat ons op ’n stowwerige stilhouplek langs die pad tot op die boom moet uitpak, kry ons ’n selfoon van die kinders met net twee nommers. Een is van ’n vriendin wat op Hartenbos vakansie hou.

Ons bel.

Wonder bo wonder antwoord sy, maar klink effe verwonderd toe my eerste woorde is: “Ek soek geld.” Ek babbel effe histeries oor pap wiele en verlore handsakke en vaak kinders en oorstuurde honde, maar genadiglik ontferm sy haar oor ons en bied aan om vir ons petrolgeld te leen.

Net buite Mosselbaai is ’n padblokkade. Kolle is buite haarself toe die verkeersman nader kom – die kar is haar domein en sy beskerm dit met haar lewe. Die verkeersman kyk my aan met ’n “Ek het al daai een gehoor”-uitdrukking toe ek, met die klappende kake van die skaaphond langs my oor, probeer verduidelik van ’n lisensie in ’n beursie by die huis, en maak die boete sommer meer (vermoed ek) toe Kolle hom aanhoudend deur die ruit probeer opvreet.

‘Vyfuur die volgende oggend sit ons soos ’n meerkatgesin op ons opblaasmatrasse die sonsopkoms en bekyk.’

Op Hartenbos klim ek uit om die petrolgeld by my vriendin te kry. Ons staan so ’n entjie weg van die kar ter wille van die skaaphond se senuwees, en ek kan nogal dink dat sy haar twyfels moet gehad het of sy ooit weer haar geld sou sien. Sowat van gehawend het ek lanklaas gesien – by elke venster van die kar hang ’n kind of ’n blaffende hond uit en die sleepwa se inhoud word met meer genade as toue bymekaar gehou.

Met die tenk vol petrol het ons darem weer moed vir die pad wat voorlê, maar die slapelose nag begin sy tol op almal behalwe die skaaphond eis. Sy hang vrolik halfpad by die venster uit en hap na elke aankomende kar terwyl die seuns en die staffie om slaapplek moet stoei op die oorblywende deel van die agtersitplek. Ek bel met die laaste bietjie lugtyd op die selfoon ’n vriendin in die Kaap, wat met groot moeite oor ons grensmuur en deur ’n agtervenster van die huis klim (sien jy, beweer my man, ek het geweet die gekerm oor die stukkende vensterknip was onnodig) en my handsak gaan haal om per koerier aan te stuur.

Laatmiddag haal ons uiteindelik ons huis in Seaview net buite Port Elizabeth. Ons het die huis jare gelede gekoop toe my man ’n ruk in PE moes werk en ons een Sondagmiddag deur Seaview gery en ’n verbleikte Te Koop-bordjie aan ’n spyker teen die huis se muur sien swaai het. Dit was in die dae voor selfone, en ons moes stad toe ry en van ’n foonhokkie af die agent gaan bel. Die huis was vervalle, maar is bý die see, en na opknapwerk is daar geen beter plek vir jou siel as op die stoep met ’n koppie koffie in die hand nie.

Maar selfs die aanblik van die branders en die rotse laat ons nie beter voel nie, want daar heers ’n hittegolf wat selfs die seeluggie nie kan roer nie – en die huis is vuil. Die huurders het duidelik nie in skoonmaak geglo nie, en ek skrop en skuur storte en toilette en was maande se gemors van die teëls af om dinge darem leefbaar te kry. Van die tuin praat ons nie eens nie – geen poging is aangewend om dit water te gee nie en alles is dood; dis ’n sandwoestyn.

Laataand, met almal gedaan ná die lang nag en dag, kondig ek aan: “Ek gaan die blindings toetrek en dan slaap ons almal môre tot lekker laat.” Dis met die uitsteek van my hand na die blindings dat ek besef: Daar is nie blindings nie – die huurders het dit gesteel!

Vyfuur die volgende oggend sit ons soos ’n meerkatgesin op ons opblaasmatrasse die sonsopkoms en bekyk.

Die res van die vakansie het nie veel beter geraak nie. My man het ’n rugwerwel verskuif (nie eens terwyl hy iets lofwaardigs gedoen het nie, maar toe hy genies het) en hy kon skaars beweeg (darem wel tot by die geleende TV); die oudste het by ’n klomp dokters gedraai met ’n vreemde infeksie; en die jongste het sy voortand uitgeval met sy Kersfeesfiets. Kolle het twee keer by die veearts geland nadat sy eers ’n halfdooie seevoël opgevreet het en toe ’n lyn met aas ingesluk het. Die hoek het gelukkig in haar tandvleis vasgehaak, maar moes onder verdowing verwyder word. Die staffie het haar voet op die rotse gesny.

Oujaarsaand gaan stap ons redelik gehawende klomp langs die see om die jaar te groet. Met die inklimslag in die kar om terug te ry huis toe sien ek nie ’n homp teer wat die munisipaliteit op die parkeerterrein gelos het nie en ry die kar se onderstel ’n hengse duik in.

Dis toe dat ek besluit om die gordyne (wat ons intussen gekoop het) styf toe te trek en die res van die jaar toegesluit in die huis te wag. Want soms moet mens maar erken: Dit is nie jou jaar nie.