Wanneer ek terugdink aan die tien jaar dat ek meestal ’n Citi Golf bestuur het, kom Charles Dickens se openingsin in A Tale of Two Cities by my op: “It was the best of times, it was the worst of times…”

Maar anders as Dickens, wat oor Londen en Parys geskryf het, het ek ’n verhaal van twee Citi’s: Die Citi’s in my lewe twee Volkswagen Chico’s waarin ek etlike avonture beleef het.

Toe Volkswagen aankondig die laaste Citi Golf is ná 25 jaar en 377 484 eenhede by sy Uitenhage-aanleg gemaak, het duisende mense op die internet gereageer.

Dit was so goed All Gold sê tjeers vir tamatiesous of Ouma stoot haar laaste baksel beskuit in die oond. Of 57 Riaan Cruywagen lees vir oulaas die nuus om sewe.

Die Citi Golf, wat net hier in Suid-Afrika vervaardig is, het volksbesit geword.

Die meeste mense was nostalgies. Ander het gemeen die Citi is, gemeet aan vandag se standaarde, in elk geval gans te onveilig – oor die jare heen het dié Golfies weinig verander; dis net elke paar jaar met ’n nuwe modelnaam – soos Chico, CitiRox, VeloCiti, CitiStorm, TenaCiti en CitiSport – bekend gestel.

Een ding is seker: die Citi Golf gaan nog lank met ons wees. Kyk maar na enige besige parkeerterrein of vierrigtingstop.Jy sal oral ’n paar van dié buksies sien.

Ek was waarskynlik geneties bestem om ’n Citi Golf te besit, want ek het, net soos my ouers, op Uitenhage grootgeword. Net soos dit in Pretorianers se DNS is om vir die Blou Bulle te skreeu, is ’n Volkswagen nou maar eenmaal in ’n Uitenhager se bloed.

Die aanleg buite die dorp is een van die streek se bekendste bakens en al dekades lank ’n lewensaar vir die plaaslike ekonomie. Ek dink as Bruce Springsteen op Uitenhage grootgeword het, sou hy mooi en melancholiese liedjies oor dié plek kon skryf. En ’n Citi Golf sou waarskynlik in sy treffer “My Hometown” opgeduik het.

In 1998 het ek my eerste Citi Golf gekry. Ek was ’n eerstejaarstudent in die Baai en my ouma se blou Datsun 120Y uit die jare sewentig, wat net ’n paar maande myne was, het in ’n parkeerterrein op Uitenhage voete gekry.

My pa was ontsteld oor die diefstal, maar nie vir lank nie. Hy het immers toe die geleentheid gekry om vir my die sleutels van ’n wit Citi Golf (’n 1997 Chico-model) te oorhandig. So kon ek reeds op 18 die gholfbal-rathefboom in my handpalm vasvat en deel word van die Volkswagen-familie.

Ek het vroeg gewoond geraak aan die geluide: Daar was maar altyd ’n onverklaarbare gerammel iewers in die Chico se buik. Die wiele het soms om ’n draai ge-tjie-tjie-tjie soos bordkryt oor ’n swartbord, en die ruitveërs het meestal geklink soos twee leeuwelpies wat leer brul.

Maar dit het my min gepla. Dit was vir my heerlik om as student die eerste kilometers van naskoolse vryheid in my wit Chico te verken – dikwels gelaai met meer as ’n hand vol passasiers ná ’n hoë-impakgeselligheid.

Dit was in die dae toe ’n CD-speler in ’n kar nog ’n luukse was. Radio Algoa plus ’n kasset van Bon Jovi en een van Michael Jackson was die klankbaan.

In Desember 1998 het ek op my eerste studenteroad trip vertrek saam met J.P., ’n vriend. Ons het in die Chico Kaap toe gery. Min het ons geweet wat voorlê.

Dit het gestortreën, en eers het ’n lorrie ons naby Plet byna van die pad af gedruk. Skaars ’n uur of wat later, buite Wildernis, het die Chico op die gevaarlike Kaaimanspas reg langs die Dolfyn-uitkykpunt se parkeerterrein op ’n oliekol gegly.

Die stuurwiel wou nie saamwerk nie. Die Chico het dwars oor die pad in die rigting van die afgrond begin gly. Ek het gedink dis die einde... met ’n helse slag het ons teen die staalreling gebots – die enigste buffer tussen ons en die afgrond.

Die Chico het slég gelyk, maar ons was gelukkig orraait. “Sjoe, dit was amper,” het J.P. geprewel en ’n Stuyvesant aangesteek.

Ons road trip was verby. Ek is met ’n Greyhoundbus terug Uitenhage toe. Die Chico, wat toe die “Wit Oliefant” gedoop is, is binne ’n paar dae deur ’n ywerige paneelklopper reggetimmer.

In die daaropvolgende jare het ek meer as 150 000 km in die Wit Oliefant afgelê. Lekker toere, na plekke soos Oudtshoorn, Grahamstad, SomersetOos, Lady Grey, Kaapstad...

Ek het in daardie tyd ook ’n CD-speler gekry en kon my padmusiek aansienlik uitbrei. Ek onthou toe ek die eerste keer Karen Zoid se “Afrikaners is plesierig” gehoor het, kliphard in my Chico in Port Elizabeth se Kaapweg.

En dan was daar ook ’n onbewaakte oomblik een jaar by die Grahamstadse kunstefees toe ek by ’n stopstraat agterin ’n nuwe BMW vasgery het. Die bestuurder het my en my voos buffer jammer gekry en is daar weg sonder om eens my besonderhede te vra.

Toe ek later op Stellenbosch studeer en werk, was die Wit Oliefant steeds my ryding – tot in Augustus 2003, toe ek in ’n ernstige ongeluk was.

Ek en ’n vriendin, Vicky, het een aand ná ’n konsert in die Kaap teruggekeer Stellenbosch toe. ’n Paar kilometer buite die dorp het ’n groot bus die Chico teen ’n spoed van agter getref. Ons het in die rondte getol en wéér hard teen die bus gebots voordat ons met nóg ’n slag tot stilstand gekom het. Dit was niks minder as ’n wonderwerk nie dat ek en Vicky slegs met ’n harde stamp teen die agterkop uit die wrak gestrompel het.

Die Chico was van agter heeltemal opgefrommel, letterlik tot sentimeters van ons sitplekke af. Ek het iewers in ’n boks foto’s van die afgeskryfde Chico wat ek by die insleepplek geneem het.

Maar wat my altyd van die ongeluk sal bybly, is die liedjie wat voor, tydens en selfs ná die ongeluk op die Chico se CD-speler gespeel het: Leonard Cohen se aangrypende “Hallelujah”.

Nadat ek vir ’n tyd lank met my pa se wit Nissan 1400-bakkie gery het, was dit tyd vir nog ’n Citi Golf, dié keer ’n splinternuwe Chico-model, nogal in die kleur “Tossa Blue”.

En net soos sy voorgangers was ook hierdie Chico sonder lugreëling, kragstuur, lugsakke en ABSremme (of enige ander sulke afkortings).

Ek het destyds elke weekdag tussen Stellenbosch en die Kaap gependel en ure se spitsverkeer deurgesit. Maar die langpad het gewink.

Ek het een keer vir werk van die Kaap af Keimoes toe gery met die Chico en slegs twee keer gestop (vir ’n spoedoortreding en vir petrol).

’n Hoogtepunt was toe ek die eerste keer die magtige Swartbergpas tussen Oudtshoorn en Prins Albert aangedurf het. Ek was effens naïef, want dit was maar ’n rukkerige affêre. Tog sal ek daardie eerste indrukke van die pragtige landskap uit my Chico se venster nooit vergeet nie.

Teëspoed was daar helaas ook. Een slag, op pad terug van die KKNK af, het my vooras buite Robertson die gees gegee. En een aand het ’n agterwiel buite Somerset-Wes op die N2 gebars. Maar ek sou nooit kon raai dat alles so skielik sou eindig nie.

In Junie verlede jaar kom ek een oggend net ná seweuur op ’n absurde toneel af: In die straat langs ons woonstel in Groenpunt leun ’n erg oorblufte Japannees prewelend bo-oor my Chico. Dit is nog donker, en ’n ent verder staan ’n Polo met sy noodflikkerligte aan.

Die volgende oomblik hou ’n Nissan Hardbody van een of ander insleepdiens met skreeuende bande daar stil. Ek is nog half deur die slaap, maar besef toe wat gebeur het: Die arme Japannees het met sy gehuurde motor op die nat pad gegly en twee keer teen my Chico gebots – teen elke wiel aan die bestuurderskant. Die ongeluk moet minute tevore gebeur het.

Ek kan baie bly wees ek was nie in die kar nie.

“I can tell you now, your car is a write-off,” het die man van die insleepdiens verklaar en my ’n besigheidskaartjie in die hand gestop. En as ’n nagedagte bygevoeg: “Life is so.”

So het ek uiteindelik besluit om “op te gradeer”. In Augustus van verlede jaar – dieselfde maand dat die laaste Citi Golf op Uitenhage se produksielyn aan mekaar gesit is – het ek vir my ’n Tassenberg-pers Suzuki Jimny gekoop.

Maar ek sal altyd met heimwee terugdink aan die tyd van die Chico’s. So long, Citi Golf. Life is so...

Dié rubriek het oorspronklik in Weg se Januarie 2010-uitgawe verskyn. 

Onthou: Jy kan ook na van ons rubrieke in podcast-formaat luister, voorgelees deur die skrywers self. Klik hier vir nog inligting.