Die onlangse sikloon en vloede in Mosambiek het my net weer laat besef hoe uitgelewer die mensdom aan die krag van die natuur is, veral as jy jou in een van die armste lande in Afrika bevind. Ek bewonder ook die waagmoed en heldhaftigheid van 4x4-voertuigeienaars en -organisasies wat spontaan hulle onbaatsugtige hulp aangebied het.

Dit laat my dink aan die tyd so ’n jaar of wat gelede toe ek self daar geboer het. My basis was ’n klassieke ou Portugese plaasopstal bo-op ’n rant langs die Limpopovloedvlakte wat mooi gerestoureer is. Die panoramiese uitsig van hier af het my altyd aan die Serengetivlaktes laat dink. Saans kon ’n mens van die plaashuis se stoep af Xai-Xai se liggies in die verte oorkant die Limpoporivier sien. As die son soggens in die ooste oor die rante net duskant die kuslyn opkom, het dit die Limpopo se breë, lui esse op die breë vloedvlaktes laat skitter.

Maar voor ek die voorreg kon hê om in hierdie karaktervolle ou plaashuis te kon intrek, moes ek my tande sny. ’n Klompie maande lank het ek eers alleen in ’n woonwa onder ’n groot ou wildevyeboom gekamp. Dit was begin 2017. Teen middel Februarie begin benoude en bekommerde familie en vriende vir my waarskuwings aanstuur: Orkaan Dineo is op pad. Vonkposse, WhatsApp-boodskappe, SMS’e en stemboodskappe reën op my neer.

Maar helaas, ’n week later is Dineo uitgewoed. Ek kon die ketting om die boomstam en aan die wa se haak losmaak en die sytent weer opslaan. Die meeste skade was meer na die noorde toe. Hier op die Limpopovlaktes was dit nie veel meer as ’n tipiese Hoëveldse donderstorm nie. Daar is wel ’n klompie bome ontwortel en meer as 100 mm reën het geval – wat op sigself ’n paar uitdagings tot gevolg gehad het.

Die vloedvlaktes bestaan uit regte Springbokvlakte-turf soos wat ’n mens in die Bosveld kry. Sterk grond, het die oumense gesê. En as hy die dag eers behoorlik water gevat het, raak dit ’n glyerige, kleierige modderspul. En dit droog ook nie sommer oornag op nie.

Die groentelande was ’n hele ent in op die uitgestrekte vlakte, langs ’n netwerk van besproeiingskanale. Ná al die reën was dit later net my getroue ou Defender van amper 14 jaar (ek het hom Bloubul gedoop) wat nog daar kon loop. Selfs die trekkers het maar gespook en spartel.

Maar die werk moet aangaan. Een middag laat ná werk is ons 11 manne ingeprop in Bloubul. Dit het hard begin reën en ek het aangebied dat hulle saam met my inklim. Die wêreld is weer van vooraf sopnat en dit verg my volle konsentrasie om te sorg dat Bloubul sy momentum behou.

Die water staan in plate op die vlakte en die paaie langs die kanale is te gevaarlik. Die trekkers het dit reeds modder getrap en die risiko om al glyende in ’n kanaal te beland is net te groot. Ons het juis net nou die dag een van die groot trekkers mét sy implement in ’n kanaal laat beland.

Een middag laat ná werk is ons 11 manne ingeprop in Bloubul. Dit het hard begin reën en ek het aangebied dat hulle saam met my inklim.

So ry ons langs die paaie in die gras en water. Maar as ’n man momentum verloor, bly jy staan. Die water spat in boë weerskante van ou Bloubul. So skuins-skuins en dwars-dwars vorder ons tot teenaan die groot duin. Normaalweg ry ons al langs die duin op ’n tweespoorpad huis toe, maar vandag is dit te nat daardie kant toe. Daar is net een uitweg: Die groot duin moet reg van voor af bestyg word – ons moet hom in die tande aandurf.

Daar is ’n kronkelende beespaadjie wat vir ons ’n lyn aandui. Die manne saam met my raak skielik doodstil toe hulle sien wat my plan is. Ek probeer soveel as moontlik momentum opbou op die kort stukkie gelyk sand voor die duin. Met die regtervoet platgetrap, in tweede rat, bestorm ons die duin. Die V8-enjin se dreuning verander in ’n aggressiewe gegrom terwyl ons al tollende voortbeur.

Op ’n kritieke punt besef ek ek sal moet terugskakel na eerste rat toe. Sonder om momentum te verloor verander ek met een flink beweging van ratte. Ek besef ons gaan dit maak toe die bokant van die duin te voorskyn kom. Met ’n luide gejuig gee my passasiers hulle blydskap te kenne. Spontaan gee hulle mekaar high-fives en Bloubul kry ’n paar respekvolle kloppe op die paneelbord. Ek is sélf verlig en dankbaar.

Een Saterdagmiddag kom kuier my vriend Reg Marchant van Bilene vir my. Intussen het ek my intrek op Lumane geneem, die plaas met die ou Portugese opstal. Ons braai ouder gewoonte op die stoep terwyl ons die uitsig oor die vlaktes geniet en ou rugbystories vertel.

Die volgende oggend besluit ek op die ingewing van die oomblik om op die “Serengetivlaktes” onder een van daardie doringbome te gaan piekniek hou. Ons laai braaipanne, braaiers, koelbokse, stoele en tafels. Opgewonde ry ons die bult af.

Ons volg ’n beespaadjie in die rigting van ’n klompie mooi doringbome ’n ent die vlakte in tot waar ons ’n spruit teekom.

Die goue reël is om by ’n waterkruising altyd eers te voet deur te stap. Ek weet dit al lankal, maar ek is haastig om by daardie mooi bome uit te kom – ek bedoel, Bloubul gaan hom nie laat intimideer deur ’n ou stroompie nie. Reg gee net ’n snork en skud sy kop. Ek stamp die ewenaarslothefboom met my handpalm na links, haak eerste rat, en met ’n “Hou vas!” gee ek vet.

Toe die voorwiele met ’n woeste gespat die water binnegaan, besef ek dadelik hier is moeilikheid. Met sy groot swaar enjin sak Bloubul tot op sy asse in die modder weg. Al die wiele tol dat jy net modder sien vlieg. Geen probleem nie, reken ek weer. Ek hét mos ’n wenas. Ek kry egter geen ankerpunt aan die oorkant van die spruit nie.

Teen dié tyd het Reg se gelag en geterg ook darem al bedaar. Later is ek van de modder soos ek klippe uitgrawe en onder die wiele pak. Maar alles verniet.

Reg stel voor hy stap op huis toe om sy 4x4-dubbelkajuitbakkie te gaan haal sodat hy my kan uitsleep. Ek kry solank die kinetiese strop reg.

Intussen het daar al ’n gesellige groepie toeskouers op die wal van die spruit vergader. Die klompie plaaslike beeswagtertjies kan seker nie verstaan wat my besiel het nie.

Ná drie probeerslae besef ek Reg se dubbelkajuit gaan nie vir Bloubul hiér uitkry nie. My moed sak in my skoene. Ek besef die enigste uitweg is ’n trekker... ’n gróót trekker. Maar dis Sondag en ek kry geen drywer in die hande nie. Moedeloos besluit ek dis Maandag se probleem. Selfs die toeskouers begin belangstelling verloor. Gedwee laai ons die kamptoerusting agterop Reg se bakki2e, sluit Bloubul en ry stil-stil terug huis toe.

’n Mens hoor gereeld mense sê Afrika is nie vir sissies nie. Maar soos ek alte goed geleer het, is Mosambiek ook nie kinderspeletjies nie...