SKETS: FRED MOUTON

Dis kalm rondom die monding van die Tejorivier. Die Tejo ontspring 3 000 km vroeër in Spanje en ontmoet hier in Lissabon, Portugal, die Atlantiese Oseaan. ’n Mens kan die seewater ruik waar ons by ’n kafee in ’n skaduryke straatjie wegkruip van die somerhitte en massas toeriste. In die verte blaas ’n plesierboot toeter voordat hy sy besending van oorwegend pensioentrekkers verder suid vervoer na die warmer waters van die Kanariese Eilande en Madeira. “Goeie vintage,” prys ek die glas in my hand voordat ek en Tom glase klink en ek nog ’n groot sluk van my yskoue bier vat.

“Waarom Portugal?” vra Tom later. Hy is ’n pêl van ’n pêl wat ek die eerste keer ontmoet terwyl hy in Lissabon kom vakansie hou. My antwoord is dieselfde as op sy vorige vraag oor waarom ek en my vrou hierheen getrek het.

“Vir die avontuur,” antwoord ek, vat nog ’n sluk en probeer die glas netjies in sy nat voetring op die papiertafeldoek terugplaas. Twee jong rooigebrande vroue kom met hulle wieltassies oor die wit en grys keistene aangesukkel. Hulle hou stil, beduie vir mekaar iets op ’n foonskerm en loop dan verder die bult op.

“Om met ’n swanger vrou na ’n vreemde land te verhuis klink dalk eerder kranksinnig, maar ek en Edna het mekaar leer ken as nuuskieriges. Ons het nog altyd mekaar se avontuurlus aangevuur,” sê ek agter die restaurant-eienaar se rug verby wat met sy wit voorskootjie, swart dassie en opgerolde moue eetgerei, ’n bakkie olywe en bordjie met kaas op die tafel neerplak.

“Kort nadat ons ontmoet het, is ons saam Swaziland toe,” vertel ek vir Tom. “Vir net ’n paar uur se ry uit Gauteng kan jy ’n stempel in jou paspoort kry. Buiten die standaardpret soos om iewers tussen bome foefieslaaid te ry en te probeer uitwerk wanneer dit lank genoeg gaan ophou reën sodat ’n mens die vleis kan klaar braai, het ons ook ervaar hoe groot die verskil tussen Suid-Afrika en een van sy buurlande kan wees.

“Ek het Edna en haar karakter rêrig leer ken toe ons ’n paar maande later in die Visriviercanyon gaan stap het. Aan die einde van daardie tog het ek die prys gewen vir die grootste blase op my voete, en sy vir hoeveel groter haar rugsak as sy was. Maar die swoeg en sweet was die moeite werd. Saans hou die maanlig jou wakker en jy ervaar landskappe en stiltes wat jy nie elders kry nie. En dan is daar die geleentheid om by die eindpunt by Ai-Ais in warmbronne tussen dadelpalms te bad.”

Die geure van aandete – braaihoender en sardyne – begin die strate om ons vul. ’n Snytjie kaas stil solank die honger.

“Volgende was die getroude lewe, en ’n mens sou dink dat dinge toe rustiger sou raak. Maar sommer op dag twee van ons wittebroodsreis in die noorde van Mosambiek het ek al my trouring in ’n seestroom verloor terwyl ek Edna, dobberrend op ’n kajak sonder ’n spaan, uit die see probeer red het. Ons kon almal later met ’n caipirinha in die hand daaroor lag nadat iemand ons en ons kajakke met ’n motorboot kom haal het.”

Tom eet ’n olyf. “Hierdie is lekker,” beduie hy, kou klaar en sit die pit in die doelgemaakte blou-en-wit geglasuurde bakkie. “Wat mis jy die meeste?”

My glas begin leeg raak, en ek probeer om die eienaar se aandag trek waar hy besig is om die enkele tafeltjie binne reg te kry vir wie ook al volgende instap.

“Natuurlik mis ek my mense. Ons het darem ’n bietjie familie hier, maar die meeste van my vriende en familie woon reg oor die wêreld. Dis moeilik. Nie almal lag altyd vir jou grappies nie, en ek kan nie noodwendig saampraat oor die Portugese politiek en die sokker nie.

“En ek mis ’n bike, man! Hier is heelwat mooi kuspaaie – en lekker lang brûe – wat ek met ’n motorfiets sou wou ry. Op ’n warm dag soos vandag wonder ek of ek ooit hier so nat sal reën as toe ek die slag deur ’n Hoëveldse donderstorm gery het. Of sal ek weer so koud kry soos toe ek en ander bikers in die middel van Junie – vyfuur in die oggend – van Johannesburg af oor Potchefstroom na Harrismith gery het? Dit was die koudste wat ek nog ooit was, en die dankbaarste wat ek was vir ’n warm enjin tussen my bene.

En ek mis ’n bike, man! Hier is heelwat mooi kuspaaie – en lekker lang brûe – wat ek met ’n motorfiets sou wou ry.

“Ek’t anderdag Robert M. Pirsig se Zen and the Art of Motorcycle Maintenance afgestof en weer gelees hoe hy die ervaring op ’n motorfiets beskryf: ‘You’re completely in contact with it all. You’re in the scene, not just watching it anymore, and the sense of presence is overwhelming.’

“Ek dink dit is soortgelyk aan wanneer jy die grens van jou gemaksone verlaat: Jy staan op ’n drumpel en huiwer nog of jy gaan spring, en oomblikke later ervaar jy iets nuuts met jou hele wese. Tog, so opwindend as wat dit klink, is dit ook bittersoet, want in ons soeke na avontuur is daar ook heimwee en verlange.”

Die eienaar bring nog ’n bier en ’n glas sangria. “Obrigado,” sê ek en Tom tegelyk.

“So dis amper asof nuuskierigheid deel is van menswees, soos honger en dors?” vra Tom.

“Net so, en nuuskierigheid moet gedurig bevredig word,” antwoord ek.

“My tweejarige laaitie, Gielie, druk pal sy vingers in gate in, en sy gesig teen glasruite. Verkenning van nuwe dinge is deel van sy daaglikse bestaan, so natuurlik as om in die middag ’n uiltjie te knip. Ons word nuuskierig gebore, maar dit lyk my ons skeep dit af soos ons ouer word.”

Ek sny nog ’n stukkie kaas en oorweeg dit vir ’n oomblik om ’n olyf te eet. “Die verkenning van die grense van jou gemaksone kan vele gestaltes aanneem,” sê ek en wys na die “Arroz de Polvo” op die spyskaart.

“As jy nou nie te veel vir die suiers gril nie, sal ek hierdie gereg aanbeveel; witrys en seekat met vars tamatie en koljander. Dit is iets wat ek nooit geëet het voordat ons hiernatoe getrek het nie. Die eerste keer dat ek dit probeer het, was een van die kere toe ek besef het dat ek nou ’n tree buite my gemaksone gee.

“Ek het baie van die Portugese kultuur en mense geleer deur hulle kos te eet. Hier eet mense opregte kos, sonder fieterjasies, waar jy presies weet wat jy eet en waar dit vandaan kom. Boonop is al die rooivleissnitte wat ons in Suid-Afrika ken, nie oral beskikbaar of altyd bekostigbaar nie. Hoe vinniger jy dus aanpas, hoe makliker is die pad vorentoe.”

Die kroeg oorkant die geplaveide straatjie het intussen sy deure oopgemaak en “Satisfaction” van die Rolling Stones sypel by die luidsprekers uit. Die twee rooigebrande toeriste kom weer verby – sonder hulle tasse, maar steeds op die selfoon doenig.

Ek het baie van die Portugese kultuur en mense geleer deur hulle kos te eet. Hier eet mense opregte kos, sonder fieterjasies, waar jy presies weet wat jy eet en waar dit vandaan kom.

“Op die ou end kies jy jou eie avontuur, soos daardie boekies wat ons as kinders gelees het,” sê ek vir Tom.

“Jóú avontuur kan wees om ’n seldsame voëltjie in die woude van Borneo te gaan soek, of bloot om ansjovis in jou beesbredie te gooi en daardie osso bucco-resep wat al jare lank in die laai lê te probeer.”

Die kafee-eienaar kom steek ’n lantern op ons tafel aan. “Is julle gereed om te bestel?” vra hy. Voor ek enigiets kan sê, gee Tom sy tree oor die drumpel: “Arroz de Polvo, por favor?”