Teen die tyd dat ek al my besittings in ons modderbruin Volksie gepak en die pad Kaap toe, universiteit toe, gevat het, kon ’n mens die kar nie eens meer uitleen nie, só vol nukke was hy. Maar ek het dit gesien as óns nukke en ek het in liefde daarmee saamgeleef.

Soms, as die enjin warm gery was, kon jy die Volksie nie weer aan die gang kry nie. Dan het ek net ’n skoot koue water oor die petrolpomp gegooi en hy’t gevat. Altyd.

Sy eerste en tweede rat het ook gereeld uitgespring – jy moes die rathefboom stewig met jou linkerhand vashou of onder jou linkerknie inhaak.

Boonop het die deur aan die bestuurderskant sommer oopgevlieg as jy ’n draai na links gevat het (jy kón hom vang mits jy vinnig was) en die toeter het soms sonder waarskuwing in die ry begin skreeu asof die Volksie die moeilikheid sien kom het.

Dit was alles hanteerbaar, behalwe as twee van dié goed gelyk gebeur het. Of drie. Of alles. Soos daai dag toe ek in Pretoria uit Burnett- in Parkstraat indraai. Dié hele ketting van gebeure is aan die gang gesit deur ’n Chesterfield (alle dienspligtiges het dit gerook) wat tussen my bene ingeval het.

Ek het dadelik die rathefboom gelos om die sigaret te probeer doodklap. Toe spring daai eerste rat uit. Die kooltjie het soos vuur gebrand in my lies. Ek het myself opgelig, maar nou was my kop skuins teen die dak gedruk en ek kon nie die pad sien nie. Daar was ’n meganiese getjank. Ek het besef dis omdat ek op die petrolpedaal staan.

Net tóé swaai die deur oop en die toeter sit ’n tweede stem in.

Toe het ek besef ek verloor beheer. Ek het myself dadelik weer afgedwing tot op die stoel (én die gloeiende sigaretkooltjie). Die hele siklus van vooraf….

Maar daar was geen padwoede nie, net ’n gelag. Teen daai tyd het ek al geweet van die Volksie se eie beskermengel.

Gelukkig het ek niks getref nie en uiteindelik die kar tot stilstand gebring langs ’n bushalte vol Girls High-meisies. Toe ek in die pad langs die kar staan en my boude klap, het ek vlugtig die chaos gesien wat ek agter my gesaai het.

Maar daar was geen padwoede nie, net ’n gelag. Teen daai tyd het ek al geweet van die Volksie se eie beskermengel.

Ek kon nie glo toe die Volkswagen Kewer slegs die vierde plek op die Motor van die Eeu-lysie haal nie. In my gedagtes was hy loshande eerste. Ek het in ’n Kewer grootgeword en leer bestuur, en ek glo dit het van my ’n beter mens gemaak.

Die pous se Volla: Só het die Kewertjie van my pa, die dorp se dominee, onder afvallige diakens bekend gestaan. “Tjips, steek weg daai Scope. Ek hoor die pous se Volla.”

Hy’t ’n onmiskenbare “wroem” gehad, anders as ander Kewers s’n. Dit was soos albastertjies wat op ’n teëlvloer bons.

Die Volksie het by ons beland met ’n effense reputasie. My pa het hom op ’n veiling van Barclays Bank vir R1500 gekoop. Dit was ’n bankmotor wat op die Grootvleipad van die pad afgedwing is. Die booswigte het die bak voor oopgebreek en met ’n onbekende bedrag kontant verkas. Beskadigde goedere: Die bank het hom net daar verkoop.

Hy was nie ’n pronkstuk nie. Die bakwerk het half skuins op die onderstel gehang, soos ’n pruik wat skeef gewaai het. Hy’t ook dikwels ’n wieldop of twee gekort soos die goed afgevlieg het op die sinkplaatgrondpaaie waarop my pa gaan

huisbesoek doen het. Boonop het hy op die dunste moontlike wieletjies gehardloop, meestal met versoolde bande.

My pa het sy karre gerý. Nie windgat nie, maar doelgerig. Hy het nie ’n koppelaar saggies gelos en rustig weggetrek nie. Hy’t die clutch ge-drop en die vet getráp dat die wieletjies tol as hy op gruis was.

Hy’t letterlik elke vier of vyf jaar die Volksie se ou 1600-bokserenjintjie sat gery en dan sommer ’n reconditioned een ingesit. Daarna was hy weer vir 150 000km so goed soos nuut.

Die reconditioned-storie het só gewerk: Jy vat so R500 in jou beursie en laai jou ou Volksieenjin in jou ander kar se bagasiebak, en dan gaan soek jy in Springs se wêreld ’n ingenieurswerke wat enjins ruil.

Dan vra Keith, met die Smokey-T-hemp, vir jou: “Yes Sir, what can I do you for? Single port or double port?”

Ek weet vandag nog nie wat dit beteken nie, maar die double port-enjin, die een wat ons altyd gevat het, is glo effens vinniger en sterker.

En dan het my pa die enjin sommer self ingesit. Op ’n Vrydagaand tienuur sou jy die Volksie in ons garage sien met sy agterwêreld in die lug, met my pa se twee blou oorpakbene wat uitsteek.

En dan sou jy hom soms deur sy tande hoor swets, soos ’n predikant swets as hy weet daar’s dalk toevallig ’n broeder in die oprit: “Ag, Vadertjie tog…”

Dit was nie altyd net om ’n nuwe enjin in te sit dat die oue moes uit nie. ’n Kewer se enjin sit op só ’n manier dat dit moeilik is om aan te werk as jy dit nie uithaal nie. My pa het later só geoefen geraak dat hy die enjin binne ’n uur op die vloer kon hê. (My pel Henri van Wijk het een oggend vir my gesê: “Julle Volla het ’n vee eight – elke naweek kom die enjin ‘wie uit’.”)

My pa het in ’n maer jaar selfs sover gegaan om die enjin self “oor te doen”. Toe hy uiteindelik ná ’n week se gespartel die spulletjie weer aanmekaargesit het, toe bly daar so ’n hopie moere en boute en stafies en pakstukke in ’n olierige drom lê, wat hom nogal bekommer het. Maar oom Wicus, ’n diesel-mechanic op die dorp, het hom vinnig gerusgestel: “Nee wat Dominee, dis maar hoe dit gaan. Hy sal ry.”

En hy hét weer gery, ’n hele klompie jare.

Dis seker oor die kewer ’n pastoriekar was dat hy ’n beskermengel gehad het. Ek het die engel die eerste keer in gr. 1 gesien. Ons was op ’n rokerige Hoëveldmiddag op pad huis toe, Heidelberg se kant toe, van Boksburg af.

En hy hét weer gery, ’n hele klompie jare.

Ek het agter in “die gat” gesit – die “bagasiebak” agter die agtersitplek. My boetie Peet en sussie Ria, wat nog nie eens op skool was nie, het op die agtersitplek gesit (sonder babastoeltjies of sitplekgordels – onthou, dit was 1978).

Die Volksie se verwarmer, wat jy met twee vliegtuig-throttle-hefboompies aan weerskante van die handrem tussen die voorsitplekke ooptrek, het ons almal half bedwelm gehad.

Dít en die hipnotiese effek van Fonnie du Plooy se stem: “Stellaland 27, Grens 15…” Maar ons was almal skielik wawyd wakker toe ’n helse slag die Volksie skuins in die pad gooi.

My kop het die dak met ’n harde hou getref. Voordat die goue Cortina ons die tweede keer van agter af gestamp het, het ek die engel teen die grys lug gesien: Hy’t effens soos Mickey Rourke gelyk, met ghriesmerke op sy vlerke en ’n T-hemp waarvan die moue afgesny is, en hy’t my in die oë gekyk met so ’n skewe niks-om-oor-te-worry-nie-glimlag en twee alles-reg-duime.

Ek het ontspan.

Die mens is gulsig. Hy wil altyd meer hê. Ek was 15 jaar oud en nie meer tevrede om sirkels met die Volksie op die kerkterrein te ry nie.

Dit was nie lank nie, toe oorrompel die versoeking vir ’n vinnige enetjie om die blok my en ek glip met die Volksie by die hek agter die pompkamer uit – straat toe, vir ’n vinnige draai agter die skoolkoshuis om, verby die riooldam en terug.

Maar selfs dít het ná ’n ruk begin glans veloor. En só is die era van die handbreak turn ingelui.

Dié eenvoudige motortoertjie is sekerlik nie wat Adolf Hitler en Ferdinand Porsche in gedagte gehad het toe hulle die “Auto für Jedermann” oor ’n pretzel en ’n paar lagers uitgedink het nie, ideaal is om ’n “broadie te kap”: Sy enjin sit mos agter, wat hom meer gewig gee om te “swaai”.

Ek het net gemaak soos my tjommie Mike gesê het, en dit het gewerk. Jy laat wiel teen minstens 60km/h op ’n gladde grondpad en dan, in een vloeiende beweging, drop jy die clutch, pluk die handrem so hoog as moontlik op en swaai die stuurwiel so twee keer in die rondte na regs.

Die handrem laat die agterwiele sleep en die hele kar swaai in die rondte, soos ’n fiets voor die fietsloods. As die neus in die rigting wys waaruit jy gekom het, moet jy die handrem weer laat sak, met ’n snelvloeiende beweging eerste rat kry, die koppelaar los en met tollende wiele vetgee in die rigting waarvandaan jy gekom het.

Dit vat nogal oefening om die beweging soepel te kry.

Tannie De Jager het dit ook daar uit haar sonkamer gesien waar sy met ’n grys kombersie oor die bene gesit het: “Ou Dier!” het sy kamer toe geroep na haar bedlêende wederhelfte, “ek beter vir Mevrou bel. Dominee het nou al die vierde keer baie skielik iets onthou!”

Die beskermengel was stil.

Hoekom het die Volksie van my ’n beter mens gemaak? Ek weet nie. Miskien omdat hy my geleer het om eenvoudige dinge te waardeer.

Vandag wens ek baiekeer die Volksie het nie onder my “heerskappy” tot sy einde gekom nie, maar hy het. Ek was ná ’n moeilike eksamen in ’n uitbundige bui op daai lang afdraande van die Strandpad op pad see toe.

Ek het hom gedruk: 130… 140…150km/h! Die krukas kon dit nie vat nie en het middeldeur gebreek.

’n Vriend het my ’n paar dae later met ’n bakkie gesleep (die enjin het in stukke agterop gelê) na ’n ou Duitser in die Strand wat Volksies koop.

Ek het sy tjek vir R1500 gevat en uit sy garage weggekom asof dit ’n lykshuis was.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #40 (April 2008) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.